Aswoensdag: Stof Tot Nadenke



“Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” Genesis 3:19

Ons gaan hierdie week Lydenstyd binne. Die veertig weeksdae en ses Sondae wat die tyd voor Jesus se kruisiging en opstanding gedenk. 

Die winkels het reeds hulle paaseiers uitgepak. Dit voel of Kersvader eers gister van die rak afgeklim het en hier’s die Paashaas alreeds. Iemand roep uit:  “Kan ons net ‘n break kry!”

En ironies genoeg is dit juis die “pousetyd” wat ons nou binnegaan in die kerkkalender.  ‘n Asemteug. ‘n Tyd van leegheid en besinning. Die reis van Die Vaste (Lent) begin op Aswoensdag, 6 Maart en word tradisioneel geëer en gevier deur onthouding van een of ander aard. Sommige vas van die paaseiertjies, ander van sosiale media, ander van die winkels, en so kan ons aangaan. Nie met leegheid as agenda nie (alhoewel die onttrekkingsimptome van sekere “lekkergoed” jou so kan laat voel na die derde dag.)  Juis om ruimte te skep om vervuld te raak.  Nie met die Paasmaal na die veertig dae nie, maar met rus van bo. Vrede. Nie net trek ons die verband met Jesus se veertig dae in die woestyn nie, maar ook met die behoefte van ons elkeen se siel: “Ik wil steeds minder van meer.” (Stef Bos).  

W.L. van der Merwe het die volgende kort vers geskryf in sy treffende debuutbundel "Doodmenslik" (wat ook 'n heel gepaste titel sou wees vir Lydenstyd):

Optelsom

Jesus min my  tel my op maal my, deel my tot ek klop

Die roep(ing) na die woestyn, waar daar baie meer van minder is, is vir my meestal een van verontrusting voor ek kan duik in die koel waters van rus. Daar is geen ander plek soos die woestyn wat ons so diep bewus maak van ons stoflikheid nie. Dis tegelykertyd morbied en bevrydend. Tyd in Namibië het altyd vir my so tweeledigheid. Ek voel soms swaar, amper dieper as gegrond. Ander kere lig, soos ‘n sandkorrel in die wind, asof ek kan vlieg oor die sand, vlieg saam met die sand, een met die sand, ek is die sand. In al die jare wat ek daar gebly het, selfs al kon ek nog nie woorde gee vir my gewaarwordings nie, het ek in die verloop van 24 uur met hierdie oënskynlike teenstrydigheid gesit. ‘n Swaarmoedigheid waarvoor alleen die sonbesies ‘n klankbaan kan maak, hier net na die middag. En ‘n verligting, ‘n vryheid wat oor my vloei met die skemer saam. Die genade wat die skemer elke aand opnuut bring in die woestyn. As mens op pad is Walvisbaai toe, lê daai woestyn mos so aan jou een kant en die water aan die ander kant. Ek weet nie of dit altyd so is nie, maar die beeld wat in my brein ingeprent is, is dié van die son bo die sand en die maan bo die water.  

Ek sal rusteloos wees tot ek rus in die –loos.  In die ont-.  In die minus.  

Tot al wat oorbly die wese is.  Die wese van wie ek is.  Van wie?  “Ek Is.”

Jy sien, daar’s nêrens om weg te kruip in die woestyn nie, so ons kan gevind word. Gekry word. Dis dikwels die vergete plekke wat ons toelaat om onsself te onthou. Om asem te skep. Uit stof en tot stof. Met die asem van die lewe wat in ons geblaas is. (Gen. 2:7).  Dis wat die mens ‘n lewende siel gemaak het, steeds maak. Die stof, ja, maar ook die asem. Veral die asem.

Mag jy vryer asem haal as jy Woensdag hoor en onthou:  …“alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.” (Pred. 3:20). Mag hierdie tyd jou nader bring aan die Grond van jou Wese en die Asem van jou Asem.  En wat ‘n verligting om soms die naakte waarheid te mag aanhoor:  “Jy gaan sterf.” Daar’s min dinge waarvan jy kan seker wees, maar dis nou een van hulle. Jy hoef nie langer te baklei daarteen nie.  Jy hoef nie langer die mondering van onsterflikheid en ewige jeug aan te trek nie. “Jy is nie in beheer nie.”

Mag elkeen van julle - dié wat chronies pyn het, dié wat uitgebrand voel deur die verwagtings van die lewe, dié wat in diep onsekerheid verkeer oor die dag van môre, diegene wat voel hulle dra die wêreld op hulle skouers, dié wat in bekommernis oor hulle geliefdes se veiligheid leef, die dokters en verpleegsters wat oorweldig voel omdat hulle die lewe en dood van mense in hulle doodmenslike hande hou - mag jy diep bevryding en berusting vind in hierdie woorde:

“Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”

Genesis 3:19

Leef in oorvloed vanuit jou verganklikheidsbesef. Mag jy dieper en helderder as ooit in hierdie tyd ervaar hoe jy meer mens word.

“The irony of life Is our greatest fear is to forget, Yet it's the only certain fate That anything has ever met. We know one day our earth Will find itself victim to time, That nothing will be left To tell of your story or mine, And still through life we rush Scrambling for something to remember, Perish the thought that ash be ash And not the memory of an ember.” 

Erin Hanson

Oefening:

Gaan lê plat op jou maag in ‘n uitgestrekte gebedsposisie met jou oor teen die grond... Herinner jouself dat jy stof is, deel van die aarde. Wat sê God vir jou deur jou menswees en aardsheid? Watter herinneringe of assosiasies in jou lewe kom by jou op wanneer jy die woord “broos” of “kwesbaar” lees?

Gebed:

Here, help my om te aanvaar: ek is stof.

#2019 #aswoensdag #Lent #stof #FriedavandenHeever

  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA