top of page

Maak Die Beker Vol



Stef Bos se nuwe vertoning, Ruimte is aangrypend. Hy vertel hoe hy as ‘n jong gedrewe musikant alles moes maak werk, en toe hy ouer word, besef het dat musiek groter is as jouself en dat dit nie meer oor jou gaan nie. Hy sê: ”Ek het geleer dat ek moet kleiner word, sodat daar meer ruimte kan wees. 'n Ongesonde ego neem geweldige ruimte op en daarom versmoor ons mekaar.” God vul ruimtes wat leeg is. Dit is hoe die skeppings verhaal begin. “Die aarde was vormloos en leeg….”. Gen 2:1. Ons gesels Sondag oor hoe belangrik hierdie leegheid is, waar God werk en om dit nie met jou idees oor God vol te maak nie. Om vol te word moet ons wag binne die leegte. “ My soul, wait in silence for God only…” Ps 62:6. Ons kultuur van versnelling en kits oplossings eis ook sy tol in die kerk en maak hierdie geloofsgewoonte verdag. ‘n Ander woord vir hierdie wag is geloof waar God se wêreld en wysheid ontsluit word. Daarom is die leegheid nie ‘n intellektuele verdowing nie of “blank” nie, maar ‘n helderheid wat God aan ons deur genade gee. Die Hollanders gebruik hierdie mooi woorde: “lege helderheid”. Simone Weil sê dit so: “Grace fills empty spaces, but it can only enter where there is a void to receive it.”

bottom of page