top of page

Heelheid: 'N Manier Van Wees



Die woorde roeping en redding kan nie geskei word nie. ‘n Roeping van God is beslis nie geestelike loopbaanbeplanning nie, en redding is ook nie ‘n abstrakte hemelse transaksie wat te doen het met hoe reg jy glo nie.

‘n Roeping word gebore wanneer ons reageer op God wat ons roep. Die luister verg aandag en is meer as net ‘n ervaring. Dit vra eerder na ‘n totaal nuwe agenda asook ‘n paradigmaskuif in die manier hoe ek my lewe oriënteer. Daarvoor het ek ‘n nuwe manier van wees nodig waar ek God nie meer gebruik nie, maar waar God my gebruik. Dit is hoe God ons red. ‘n Nuwe manier van wees beteken dat ek gered word van my ou mens of vals self sodat ek kan wees wie God my oorspronklik gemaak het.

Roeping is met ander woorde die terugkeer na wie jy nog altyd was en hoe jy oorspronklik in God geskape is. Ruth Barton sê dit so: “In the New Testament, the idea of calling is almost synonymous with salvation and the life of faith itself. We are saved from being who we are not and called to be who we are.”

Binne ons roeping ontdek ons heelheid en word ons ook heel-mense. ‘n Sirkel is seker die mooiste simbool hiervan: Ons begin waar ons geëindig het, en eindig waar ons begin het.

Ons gesels die volgende paar weke oor hierdie reis wat ons uitnooi na ‘n manier van wees, ‘n manier van word en ‘n manier van doen.

bottom of page