Die Hasepad Of Die Pasepad?



Ek gaan nou nie eens vroom probeer klink en maak of ek iewers in 'n sopkombuis in die Kaap staan nie. Ek verkeer tien teen een horisontaal, of sit saam met my familie aan 'n tafel wat kreun onder die kos. My ma sou van vroeg af Kersprogramme luister op die radio met klassieke musiek - haar Duitse wortels en hunkering na meer Europese tradisies op Sondae en godsdienstige vakansiedae altyd vlak in haar bors. My pa sou, sodra hulle terug is van die erediens waar hy moes preek, sy PT-broek aantrek, die pooltafel ooptrek en iets van Leonard Cohen, Mark Knopfler of Bruce Springsteen aansit, dalk 'n cowboy-boek nadersleep voor ons saam met sy broers en die familie kuier vir die middag. Ons sal saamgesels oor die plaas en hoe ons vir Ouma mis - dis die eerste Kersfees sonder haar. Ons sal later almal gaan skuinslê, voor ons onsself gaan doop in die ysige Weskuswater. Vanaand sal ons verder kuier, dalk kaart speel (want die hand wat vir ons gedeel is, was goed...) en sag slaap met die seegeruis in ons ore. Dit was 'n harde jaar.

Nee, ek staan nie in 'n sopkombuis nie. Ek het koers gekies. Die hasepad gevat. Stad uit. So vinnig as wat ek kon. McDougallsbaai toe. Soos die afgelope dertig jaar.

Jy dalk ook? Na jou happy place toe, of iewers anders nuut en opwindend.

En hierdie skrywe is nie om jou of myself skuldig te laat voel daaroor nie. Waters waar daar rus is ... kom ons gun dit vir mekaar. Maar dan die soort rus wat lei tot vrugtevolle werk. Die soort afsondering wat vervulling vind in diep betrokkenheid.

Mag ons in die jaar wat kom hierdie rus, hierdie verkwikking, hierdie nuwe krag en káns-sien aanwend om uit te giet, terug te gee, mens te word - te wees - vir mense, om ons diepste blydskap en die wêreld se grootste nood te laat ontmoet, om Liefde wat aan mense gelyk word te vergestalt.

Om nie die hasepad te kies nie, maar die Pa se pad. Wat opdaag in die sterflike vlees.

En die pasepad. Wat kruispad word. Nie weghol nie, nie eens vir die dood nie.

Ek hoop dat die res van jou vakansiedae nie net gerig is op ont-snap nie, maar ook om te snap waaroor jou lewe werklik gaan. En dat die nuwe jaar sal vloei vanuit hierdie besef. Dat ons nie net sal wegkom om weg te kom nie, maar om opnuut en werklik te kan terugkeer. Met al die kerse en kruise wat 2019 vir ons inhou.

Van Kersfees tot Mei

in desember is Jesus weer gebore en hulle het Hom toegedraai in geskenkpapier en Hom neergelê in die supermark

ek het ’n boom versier met liggies en engeltjies en Hom uitgenooi na ’n kersfeesmaal van kalkoen en wyn maar Hy het weggevlug na die woestyn

Goeie Vrydag was ’n pasga sonder bitter kruie en ongesuurde brood voor die langnaweek se uittog

op Paasmaandag is die opstanding uit die dood feestelik gevier met paashasies en paaseiers in blinkpapier

Hemelvaart was die eerste vakansiedag in Mei waarop ons kon dam toe ry

Eveleen Castelyn (Tussen hemel en aarde, 1978)

#2018 #kersdag #FriedavandenHeever #advent #InVia #kontemplasie #aksie #familie #kersfees

  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA