top of page

In Liefde Gemaak: Familie



Watter beelde kom by jou op as jy die woord “familie” hoor? Iets wat jou geborge laat voel, of dalk eerder met ’n gevoel van vervreemding laat?

Mós nou die een ding wat ons nie uit ’n katalogus kon kies nie. Geen left swipe/right swipe opsies vir hierdie verbintenis nie. ’n Gegewe.

Vir baie van ons is ons familie ’n bron van eindelose geluk en ’n plek van heenkome waar ons werklik die liefde waarin ons gemaak is ervaar. Vir ander is dit ’n diep wond en het vriende of ander selfgekose geliefdes daardie plek ingeneem. Jou tribe, soos ons daarna verwys. Friends (die TV-reeks) was seker een van die grootste anti-familie “bewegings”: die familie is verplaas deur die vriendekring; goeie dinge gebeur in die vriendekring, slegte goed in die familie. Maar ten minste kan ons daaroor lag (saam met ’n hele gehoor). Eintlik hartseer, maar die realiteit van die dag waarin ons leef.

Ons bly nie meer as familie ons lewe lank saam op een plaas nie. Ook nie soos die Von Trapp-kinders in Sound of Music onder die gesag van die militêre vaderfiguur wat ’n fluitjie om sy nek gebruik om al sewe sy kinders te dissiplineer nie. (Ek is seker vir baie van julle klink dit glad nie na so slegte plan na ’n moelike dag met jou een of twee kinders nie!)

Die norm van die sogenaamde nuclear family is al grootliks op sy kop gekeer, maar bepaal steeds hoe ons dink en praat oor families: “’n kinderlose egpaar, ’n enkelouerfamilie, ’n gebroke gesin” en die lys gaan aan. Dis nogal skokkend dat by verre die meeste mense nie eens kinders kry omdat hulle van kinders hou nie; hulle dink ’n mens het kinders omdat dit deel is van die lewe. G’n wonder baie van ons sukkel om die idee dat ons in liefde gemaak is, in ons familie te vind. Of skep dan ons eie families waarin ons sweer om alles wat ons ouers gedoen het letterlik andersom te doen.

Families en familiewees is kompleks. Dis nie ’n dooie organisasie of ’n blote struktuur nie. Dis ’n lewende organisme. ’n Dans tussen ’n paar mense wat probeer om saam ritme te hou op die meestal chaotiese, onritmiese dansbaan van hierdie lewe. Soms kry ons dit reg. Soms glad nie. Meestal het families slawe geword van die ekonomie van die dag, of die skool en ons aansien, of die TV-programrooster.

Op watter of wie se ritme dans jou familie?

Die essensie van dans en saam ritme hou is om te kan laat gaan én vas te hou. Om soms nader te tree en ander kere afstand te hou. Jesus het ’n paar goed gesê oor familie wat klink of dit teen ons grein ingaan. As vele kerke se motto is, Family First, hoe versoen ons hierdie waarde met van sy moeilikste woorde wat sê dat jy moet laat gaan van jou familie om werklik ’n volgeling van Christus te wees?

Miskien omdat ons nie die oorspronklike betekenis van die woord “familie” verstaan nie. Die Latynse woord familia kom van die woord famulus wat “dienaar” beteken. Ons as families is daar om mekaar te dien (reeds ’n tall order). Maar ons is voorts as famlie geroep om ander mense te dien. Jesus het ook “nuwe families” gevorm, wat nie dieselfde DNS het nie. Sy bloed wás toe dikker as water.

Hoe kan ons ons families groter maak, sonder om meer kinders te kry of ons eie kinders net nog meer in watte toe te draai en agter veilige heinings te hou vir die res van hulle lewe … as dit van jou sou afhang. Hoe kring my familie se liefde buite die mure van ons huis uit? Hoe leef ons nie net vir onsself en ons oorlewing en belang nie, maar vir ander?

Ons kan eers werklik dien, werklik liefhê, werklik vashou as ons kan leer om te laat gaan. Om van geen mens, nie eens jou eie kind, ’n afgod te maak nie. Voor die term “The Cult Of The Child” nog alom bekend was, het Langenhoven al gesê:

Of dit nou my maag is en of dit my kinders is - wat ek die liefste het, bederf ek die meeste. ’n Mens verongeluk altyd jou afgod.

As ons hierdie ritme van laat-gaan-juis-om-te kan-vashou kan aanleer, kan kweek in ons families, sal dit dalk die ruimtes van onvoorwaardelike liefde word waarna ons so smag. Waar ’n pa steeds net so Pa is, net so liefgehê word, al is hy vir ’n tyd werkloos. Waar ’n ma se tuisteskepping, vlyt en Pinterest-kwaliteit-cupcakes nie die kriteria is vir haar Ma-wees nie. Waar kinders nie in alles, of selfs in een ding, hoef uit te blink ten einde aanvaar of liefgehê te word nie. Waar ons wéét dat ons in Liefde gemaak is en ander mense buite ons huis ook so kan gaan liefhê.

Die gebrek aan hierdie liefde op baie kinders se gesiggies, as mens in ’n weeshuis instap, getuig nie hiervan nie. Die verlatenheid op meeste bejaardes se gesigte as mens in ’n ouetehuis instap, ook nie:

ek beny mamsie vir al die mense wat u gaan ontmoet

haai - kyk hoe laat is dit - ek sal moet groet

ek is seker mamsie gaan só gelukkig wees hier

ek stoot die pottie onder die bed in

ghoebaai

ons sien almal vir mamsie sondag …

C.P. Leach “in konfrontasie met soete ruste /veilige hawens / silwerdrade”, Borgtog vir ’n nuwe Adam

As jy nog leestyd het, knoop gerus jou binnegoed om hierdie kragtige woorde van Kahlil Gibran wat die kompleksiteit van familiewees soos ’n mooi dans en ’n fyn kuns voorhou:

Huwelik: Laat daar ruimtes wees in julle samesyn. En laat die winde van die hemele tussen julle dans. Min mekaar, maar moenie van liefde boeie maak nie. Laat dit eerder soos ’n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele. Vul mekaar se bekers, maar drink nie uit een beker nie. Gee mekaar van julle brood, maar eet nie van dieselfde baksel nie. Sing en dans tesame en wees bly, maar laat elkeen van julle alleen wees, Net soos die snare van die luit afsonderlik is al tril hulle met dieselfde musiek.

Gee julle harte, maar nie die een in bewaring van die ander nie. Want slegs die hand van die Lewe kan julle harte vashou. En staan bymekaar, maar tog nie te na aan mekaar nie: Want die pilare van die tempel staan apart, En die eik en die sipres groei nie in mekaar se skaduwees nie.

Kinders: Julle kinders is nie julle kinders nie. Hulle is die seuns en die dogters van die Lewe se verlange na lewe. Hulle kom deur julle maar nie van julle nie, En al is hulle by julle behoort hulle nie aan julle nie.

Julle mag hulle julle liefde gee, maar nie julle gedagtes nie, Want hulle het hul eie gedagtes. Julle mag hulle liggame huisves, maar nie hulle siele nie, Want hulle siele woon in die huis van môre wat julle nie kan besoek nie, nie eens in julle drome nie. Julle mag strewe om soos hulle te wees, maar moenie probeer om hulle soos julle te maak nie. Want die lewe beweeg nie agteruit nie, nog minder vertoef dit met die dag van gister. Julle is die boë waaruit julle kinders soos lewende pyle geskiet word. Die boogskutter sien die doelwit op die pad van die oneindigheid, en Hy buig julle met Sy mag opdat Sy pyle vinnig en ver mag trek. Laat julle tot blydskap in die hand van die Boogskutter gebuig word; Want, net soos Hy die pyl wat vlie liefhet, so het Hy ook die boog lief wat bestendig is.

bottom of page