top of page

Lewe Na Die Dood: Luister Saam



Die opstanding gaan nie oor bewyse of sekerhede nie, maar eerder oor ‘n manier van wéés - waar ons in ‘n dieper bewustheid van Jesus groei. Eugene Peterson sê in sy boek, Practice Resurrection, dat ons die opstanding eerder ervaar deur ons manier van lewe. Hierdie manier van lewe het te doen met gewoontes en ruimtes wat ons skep waarbinne ons met ‘n groter bewustheid van God leef. Daar is vier beelde in Lukas 24 en die ander opstandingsverhale wat ons kan help om dit beter te verstaan: Sit, luister, loop en deel. Om te sit beteken ons onderbreek die ritme waarmee ons loop asook die rigting. Stilte en afsondering dwing ons letterlik om te ‘sit’. Wanneer ons sit, kan ons luister. Luister is nie een of ander esoteriese ervaring nie, maar ‘n ontmoeting en ontdekking van Jesus in die Skrifte deur gebed. Luister help ons om te loop in ‘n nuwe rigting van diensbaarheid en diens aan ander. Deel gaan oor die vrug van ons lewe wat uit diensbaarheid gebore word en die voorreg om dit met ander te deel. Ons gesels Sondag oor hoe ons na God kan luister deur die Skrif en gebed. ‘n Opregte lees van (en luister na) die Bybel bring brandende harte wat in nuwe paaie begin loop!

‘’En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandend in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?’’ Lukas 24:33

bottom of page