top of page

Ruswoorde: Abba



Die winkels het reeds hulle paaseiers uitgepak. Dit voel of Vader Kersfees eers gister van die rak afgeklim het en die Paashaas alreeds sy plek ingeneem het. Iemand roep uit: “Kan ons net ‘n break kry!”

En ironies genoeg is dit juis die “pousetyd” wat ons nou binnegegaan het. ‘n Asemteug. ‘n Tyd van bestekopname en besinning. Die reis van Die Vaste (Lent) wat tradisioneel geëer en gevier word deur onthouding van een of ander aard. Nie met leegheid as agenda nie (alhoewel die onttrekkingsimptome van sekere “lekkergoed” jou leeg kan laat voel na die derde dag.) Juis om ruimte te skep om vervuld te raak. Ons trek die verband met Jesus se veertig dae in die woestyn en die tyd voor sy dood nie, maar ook met die behoefte van ons elkeen se siel: “Ik wil steeds minder van meer.” (Stef Bos).

Die roep(ing) na die woestyn, waar daar baie meer van minder is, is vir my meestal een van verontrusting voor daar enige waters van rus ter sprake is. Daar is geen ander plek soos die woestyn wat ons so diep bewus maak van ons stoflikheid nie. Dis tegelykertyd morbied en bevrydend. Tyd in Namibië bevestig altyd hierdie gevoel. Ek voel soms swaar, amper dieper as gegrond. Ander kere lig, soos ‘n sandkorrel in die wind. In al die jare wat ek daar gebly het, voor ek nog kon woorde gee vir my gewaarwordings, was dit so. ‘n Swaarmoedigheid waarvoor alleen die sonbesies ‘n klankbaan kan maak, hier net na die middag. En ‘n verligting, ‘n vryheid wat oor mens vloei met die skemer saam. Die genade wat die skemer elke aand opnuut bring in die woestyn. As mens op pad is Walvisbaai toe, lê daai woestyn mos so aan jou een kant en die water aan die ander kant. Die beeld wat in my brein ingeprent is van een spesifieke laatmiddag, is dié van die son bo die sand en die maan bo die water.

Ek kan my indink dat Jesus in die veertig dae in die woestyn werklik gesmag het na God as Vader. Daar is niks om agter te skuil in die woestyn nie, so jy’s ontbloot. Daar is nêrens om weg te kruip nie, so God kan jou vind. Ek kan my indink dat die tyd in die woestyn ’n voorbereiding was vir die wyse waarop Hy sy pyn uiteindelik sou verduur. Dat dit die broeigrond was vir die diep intimiteit waaruit Hy God benader het, Hom aangespreek het, en Hom vertrou het in die tyd daarna en veral net voor sy dood. Dat Hy, met sy honger en dors en die versoekings, sonder enige creature comforts, so tussen die wilde diere werklik niks anders gehad het om op staat te maak as sy God nie. Dat die lewe Hom as’t ware in hierdie veertig dae “geboender” het in ’n boot camp waarin sy spiere van verwondering, verlange en vertroue geoefen en sterk gemaak is.

Ons gesels Sondag oor die unieke titel wat Jesus aan God gegee het.

Die mooiste palindroom wat vir my bestaan.

Abba.

Die Aramese woord vir Pappa. ‘n Naam wat getuig van verwondering, verlange en vertroue. Of in meer Bybelse terme: van eerbied, intimiteit en geloof. Die elemente van Christus se verhouding met sy Vader. Die vader wat hy Ons Vader noem. En ons so summier en finaal insluit by hierdie rewolusionêre relasie. Niemand het nog ooit vantevore gewaag om God as Pappa aan te spreek nie. En so praat Jesus en Paulus bevestig dit keer op keer in sy skrywes. Ons is een met Christus. God is ons Vader. Ons is sy kinders. Daar word sonder ophou in ons gebid deur die Gees wat in ons is. En God verstaan blykbaar daardie woordelose versugting. God gets groaning. Hoe wonderbaar. Ons diepste verlangens, selfs dié waarvan ons self nie weet of kan uitdruk nie. Dit wat ons nie kan bid of dink met ons koppe nie.

Die koppe wat so dikwels met ’n negatiewe vaderbeeld sit. Die koppe wat meestal so gevul is met sinisme dat verwondering nie eens kans kry om te registreer nie. Die koppe wat so bang is vir intimiteit, vir te naby kom aan enigiemand. Die koppe wat so seer gestamp is en niemand wil vertrou nie.

Trevor Hudson skryf: “Ons wil almal diep in ons harte weet dat ons nie weeskinders in hierdie wêreld is nie.” Ons wil weet dat as ons bid, ons behoort aan God. ’’n Diep, persoonlike en onwrikbare wete. Dis slegs die Gees deur wie ons kan roep, “Abba, Vader!”

bottom of page