top of page

Ai Jai Jahoe, Aijaijai Dis 'N Nuwe Jaar!



Yearning for a new way will not produce it. Only ending the old way can do that. You cannot hold onto the old all the while declaring that you want something new. The old will defy the new; the old will deny the new; the old will decry the new. There is only one way to bring in the new. You must make room for it.

Neale Donald Walsh

Daar’s gewoonlik twee maniere waarop mense die nuwe jaar inwag: óf met ’n dik kop en ’n broos lewer óf met ’n uitasemdraffie en ’n lang lys voornemens. ’n Nuwe blaadjie. ’n Nuwe ek. Nuwe hoop. En iets daarvan is mooi. Dat die mens oor die vermoë beskik om terug te bons. Om weer van voor af te kan hoop. Ten spyte van die oujaar se seer, die oujaar se ekonomie, die oujaar se terugslae, die oujaar se teleurstelling.

Die enigste probleem met meeste van ons se idee van “nuut” is dat dit altyd “nog” insluit. Nog voornemens, nog doelwitte, nog goed, nog geld. Dis gewoonlik net die dieet wat ingekort word. Alles anders kom by, word aangeplak, raak meer. Ek wil jou vandag uitnooi om dalk ’n ander oefening as gewoonlik te doen. Of net hieroor na te dink voor jy jou lysie voornemens maak. Ons, veral so in die Weste, is uiters goed met beplanning. Maar ons misken in die proses die waarde van refleksie. En so mis ons belangrike tekens en boodskappe wat ons met ons kan saamdra die toekoms in. God kom na jou toe gekamoefleer as jou lewe, soos Paula d’Arcy altyd sê.

Kyk vandag vir ’n paar oomblikke terug na 2017 (al is dit die laaste ding wat jy wil doen). As jy vertroud is met die Examen (van Ignatuis van Loyola), sal jy sien dis geskoei op juis daardie beginsels:

1. Erken die nabyheid van God.

Hiervoor kan jy weer Ps. 46:10 gebruik om jou rustig en gegrond te laat voel. Jy kan ook net eenvoudig bid, “Here, help my om myself en hierdie dag deur U oë te sien.” As die jaar vir jou verwarrend voorkom - ’n warboel van gebeure - vra God om vir jou duidelikheid en begrip te bring en ook enige moontlike weerstand wat jy mag ervaar, te laat gaan. Vra God om lig te werp op die gebeure van die jaar. Ek vind dit altyd waardevol om my gedagtes en gees te rig deur die volgende gebed te bid:

Give me real eyes to realize where the real lies.

2. Kyk terug op die jaar met ’n gesindheid van dankbaarheid.

Meister Eckhart het die woord “Dankie” as die mees belangrike en genoegsame gebed beskou. Iemand anders het weer gesê ondankbaarheid is die oorsaak, begin en bron van alle boosheid en sonde. Dankbaarheid is die fondasie van ons verhouding met God. Stap deur jou jaar in die teenwoordigheid van God en let op die vreugdes en genotvolle oomblikke. Fokus op die geskenke/gawes van die dag. Kyk na die werk wat jy gedoen het, die mense waarmee jy te doen gehad het. Wat het jy ontvang van hierdie mense? Wat het jy vir hulle gegee? Skenk ook aandag aan klein goedjies - die kos wat jy geëet het, die goed wat jy gesien het, die ander oënskynlik klein plesiertjies. God is in die detail.

“Twas my last gratitude When I slept - at night - Twas the first Miracle Let in - with Light - ”

Emily Dickenson

3. Skenk aandag aan jou emosies. Een van Ignatius se wonderlike insigte was dat hy die teenwoordigheid van die Gees van God in die beweging van ons emosies raakgesien het. Reflekteer op die gevoelens wat jy ervaar het gedurende die dag. Verveling? Ekstase? Verbitterdheid? Medelye? Woede? Selfversekerdheid? Wat sê God vir jou deur hierdie gevoelens?

Jy sal heel waarskynlik van sekere tekortkominge bewus raak. Let op hierdie plekke waar jy misgetrap het, of iets wat jy as ’n mislukking ervaar wat jy dalk al baie goed ken (die spreekwoordelike doring in die vlees). Kyk ook dieper vir ander implikasies. Kan ’n gevoel van frustrasie dalk beteken dat God wil hê jy moet dit oorweeg om ’n nuwe rigting in te slaan in ’n sekere area van jou werk? Is jy bekommerd oor ’n vriend? Miskien moet jy na hom/haar uitreik op ’n manier.

Ignatius het gepraat van “consolations” en “desolations”:

Wanneer het jy vandag vertroosting (“consolation”) vir jou siel ervaar? Ander maniere om hierdie vraag te vra sou wees: Waar het jy lewendig gevoel? Waar het jy vry gevoel? Waar het jy vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan? Waar het jy uit jou maag gelag? Waar het jy gesien en gehoor en gevoel? Waar kon jy diep asemhaal? Waar het die lewe vol belofte gelyk? Waar het jy ’n dit-is-wel-met-my-siel ervaring gehad? Waar het jy Liefde gegee en ontvang? Waar het God naby gevoel?

Wanneer het jy laasjaar (siels)verlatenheid (“desolation”) ervaar? Waar het jy dood, onrustig, bevrees, versmoord, ingedruk, hulpeloos, vasgevang, sonder asem gevoel? Waar het God ver van jou af gevoel?

4. Kies een verlatenheid (“desolation”) of vertroosting (“consolation”) om vanuit en in te bid. Vra die Heilige Gees om jou te lei na een ding gedurende die jaar wat vir God veral belangrik is. Dit kan ’n emosie insluit - positief of negatief. Dit kan ’n betekenisvolle ontmoeting met iemand anders wees of ’n duidelike oomblik van plesier of vrede. Of dit kan dit iets wees wat onbetekenisvol lyk. Of dalk ’n oomblik van sielsverlatenheid. Sif deur die stemme van twyfel, verraad, en afkeur. Weet dat dit nie God se stem is nie en herken dit as stemme van weerstand van jou kant af. Om van God verlate te voel kan ook ’n uitnodiging vir genade wees. Veral as die oomblik van verlatenheid ’n struikelblok binne-in jouself is (’n verslawing, ’n vrees, ’n verknogtheid) wat jy gereeld in die oë moet staar. Kyk daarna. Bid daaroor. Laat die gebed toe om spontaan uit jou hart te kom - of dit intersessie, aanbidding, lament, belydenis, of dankbaarheid insluit.

5. Kyk vorentoe met hoop na die nuwe jaar. Vra God om lig te werp op die uitdagings van 2018. Skenk aandag aan die gevoelens wat opkom. Twyfel jy? Is jy buite jouself van opgewondenheid? Of dalk effe bekommerd? Laat hierdie gevoelens toe om ’n gebed te word. Soek God se leiding. Vra Hom vir hulp en begrip. Bid vir die gawe om die absurditeit van hoop, die gawe van genade en die belofte van ’n nuwe dag te verwag.

Die Examen wys ons dat daar altyd iets is om oor te bid. Ons leer om die Here te face, waar ons is, soos ons is. Ons leer om ons gevoelens te respekteer en ook dat emosies moreel neutraal is tot daar ’n reaksie plaasvind. Ons hoef nie slawe van emosie te wees nie en deur te bid vanuit ons gevoelens, word ons as’t ware bevry van hulle. Ons struikel oor ons sonde sonder om dit die belangrikste fokus te maak. Ons kan innerlike genesing ervaar, soos in droomwerk. Dit help ons om te kom oor ons Deïsme: die geloof in ’n klokmaker-God wat bestaan, maar nie betrokke is nie. Dis die antidotum vir die geestelike siekte van D.I.Y. Ons leer dat ons lewe ’n reaksie op God se liefde is.

Mag God vandag na jou toe kom deur jou eie lewe. Mag jy weet wat om te laat gaan om plek te maak vir die nuwe. Mag jy in 2018 jou dae ten volle bewoon. Mag jou lewe jou oopmaak en nie laat toeklap nie.

I Will Not Die An Unlived Life I will not die an unlived life. I will not live in fear of falling or catching fire. I choose to inhabit my days, to allow my living to open me, to make me less afraid, more accessible; to loosen my heart until it becomes a wing, a torch, a promise. I choose to risk my significance, to live so that which came to me as seed goes to the next as blossom, and that which came to me as blossom, goes on as fruit. Dawna Markova

bottom of page