top of page

Kersdiens: 'N Redder Tot Rommelstatus Geroep?



Ons herdenk Sondag Jesus se geboorte by InVia. Nie omdat ons glo Hy is 26 November gebore nie. Omdat ons ’n daad, veel eerder as ’n datum, vier. Omdat ons die Christus in al die Krismis mis. Omdat ek en ons en ons land hoop nodig het - en nie die feëverhaalsoort met klokkies en klingels nie. Regte egte mensgeworde hoop wat spreek tot ons werklike realiteit. Daagliks. Nie net een keer ’n jaar nie. En miskien is die Kind - in rommelstatus gebore - ook óns hoop. Dat die hoop van die wêreld verwag is uit haglike omstandighede, ’n “verlore” situasie. Dat Hy gekies het om mens te word, lyf te kry, in ’n vel te klim, so asof Hy vir ons wou sê: “Julle, ook daar in Suid-Afrika, so aan die einde van 2017 rond, dis góéd om mens te wees. Dis nie altyd maklik nie, maar dis die moeite werd.”

Jy is welkom om deel te wees van die oordenkings, gebede, gesange Sondagoggend 10:00 by Protea Hotel en Sondagaand 18:30 by Old Biscuit Mill. Kom vier saam met ons menswees!

Die Woord het vlees geword

God uit God in ’n mens uitgestort

Vannag kyk ’n ster na die aarde

Sing stof, jy’t ook nou waarde

Die Woord het vlees geword

God giet God uit

in ’n kind wat huil

God as mens verskuil

in ’n suigeling wat weet

hy gaan bloed sweet

in ’n baba, klein en bang

wat gaan hang

tussen hemel en aarde

Die Woord het vlees geword

Die Woord het vlees geword

Lig uit lig in die donker neergestort

Tussen diere en doeke

Sonder kiekies en koeke

G’n dokters en boeke

En so skryf die Woord geskiedenis oor

Kom, weeskinders

Kom, wyse manne

Kom, woeste winde

wat waai in die Noorde

waar Krismis wit is

en Krismis swart is

en Krismis bruin is

op Kaapse vlaktes

Kom, Vader Krismis

sê my, mis jy ook die Christus

jou slee is tjok en blok,

maar ys smelt dwarsoor

die wêreld

die hele wêreld is op hol

Ons is keelvol

en kopvol

en gatvol

die herberg is vol

maar die stal in my siel is dolleeg

Ek is vol strooi

en sweet

en skape

en oorskiet van sterre

wie sou wou kers opsteek by,

lêplek vind in my

in my wou wees

Maar die Woord word bloed

en die Woord word vlees


bottom of page