top of page

Jesus Het Nooit Gesê... Jy Moet Jouself Regruk Nie



Jesus het nooit gesê jy moet jouself regruk nie. Miskien omdat Hy geweet het dat jy nie jouself kan regruk nie. Hy het, trouens, baie meer dikwels gesê (en gewys!) dat jy gelukkig is as jy weet dat jy nie jouself kan red of regruk nie. Die saligsprekinge is een so ’n voorbeeld: “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.” (Matt. 5:3 MSG)

Dit lyk egter nie soos die leuse waarmee die meeste mense, inkluis Christene, leef nie. Dit lyk veel eerder of die wil en wilskrag monopolie het op die mens se uiteinde. Dit sou naïef wees om neurowetenskap en al die wysheid wat die sielkunde ons gegee het, te verontagsaam en nie te besef wat ’n belangrike rol die menslike wil te speel het in die skepping van ’n beter (of slegter) wêreld nie. Maar ’n regmatige verhouding tussen wil en gees, tussen wilskrag en gewilligheid, tussen veglus en genade, blyk Jesus se uitgangspunt te wees.

You alone can do it, but you cannot do it alone. O. Hobart Mowrer

Ruk jouself reg. Hoeveel keer het jy nie al hierdie woorde gehoor of gesê nie?

By die graf van ’n geliefde, met diep snikke wat uit jou lyf losskeur: Ruk jouself reg.

Voor jou (eks)baas, toe sy jou sê jou pos is afgeskaf: Ruk jouself reg.

Toe jy uitvind jou meisie het jou verneuk: Ruk jouself reg.

Toe jy oorstelp was deur jou baba se koliekkrete of jou tweejarige se twintigminuut-tantrum: Ruk jouself reg.

Wanneer jou vinger op en af huiwer bo die enter-knoppie na jy die link van die pornsite (toe-oë) ingetik het: Ruk jouself reg.

Wanneer jou verstand al lankal by die winkeldeur uit is, maar jou kredietkaart nie die boodskap gekry het nie: Ruk jouself reg.

Wanneer jy vir die duisendste keer jou heel laaste bier drink, of vir die hoeveelste keer vir die heel laaste keer laat werk: Ruk jouself reg.

Toe jy dierbare vriende moes groet: Ruk jouself reg.

Toe jy, na die hoeveelste fertiliteitsbehandeling sonder hoop by die dokter se spreekkamer uitstap en die sekretaresse in die gesig wou punch toe sy jou so terloops groet met “Vasbyt!”: Ruk jouself reg…

Toe jy uitgevind het jy’t kanker en jy nie jou liggaam se reaksie op die nuus kon beheer nie .. hoekom bewe ek so…: Ruk jouself reg.

Oswald Chambers se woorde dien as bemoediging, vir die tye wat ons dit eenvoudig nie bymekaar kan of moet probeer hou nie: To those who have had no agony Jesus says, “I have nothing for you; stand on your own feet, square your own shoulders. I have come for the man who knows he has a bigger handful than he can cope with, who knows there are forces he cannot touch; I will do everything for him if he will let Me. Only let a man grant he needs it, and I will do it for him.”


bottom of page