top of page

Kruiswoorde: Dit Is Volbring



Gedurende Lent word ons uitgenooi om met Jesus se lyding te identifiseer. Ons gesels op die oomblik oor Jesus se laaste woorde voor sy dood, beter bekend as ‘die laaste kruiswoorde’. Hierdie woorde gee heelwat te kenne oor Jesus se manier van doodgaan - nie net die manier waarop Hy doodgemaak is nie, maar hoe Hy gekies het om te sterf. Dit sê egter net soveel oor Sy manier van lewe en die lewe en die sterwe waarna ek en jy uitgenooi word.

As ek mense wat ek vertrou op hulle woord kan neem en na Jesus as voorbeeld kyk, kan ons die volgende afleiding maak: ’n Mens sterf soos jy leef. Jesus het geleef in solidariteit met uitgeworpenes en dis presies hoe Hy sterf: tussen misdadigers. Hy leef in ooreenstemming met die Skrifte en dis ook hoe Hy sterf: met ’n dors vir die Skrif om vervul te word. Hy leef ’n vervulde lewe en Hy sterf met die woorde: Dit is volbring. Die Griekse woord “tetelestai” het vele betekenisse: dit is voltooi; die opdrag is uitgevoer; die offer is perfek; die prys is ten volle betaal.

“The fear of death follows from the fear of life. A man who lives fully is prepared to die at any time.” Mark Twain

Christene bou baie dikwels hulle geloof op die kruis en die kruis alleen. Vergetende die 33 jaar voor daardie paar uur. Dit mag dalk as ‘n skok kom, maar baie mense het gesterf aan baie kruise, dis nie die deurslaggewende faktor nie, dit kan nooit wees nie. Daarmee probeer ek nie die belangrikheid van Christus se kruisdood en wat dit inhou negeer nie. Ek probeer wys na “die kruis binne die kruis”. Die gesindheid (waarvan Paulus skryf in Fil. 2) binne die simbool. Die betekenis agter die teken. Catherine Keller stel dit beter as wat ek kan: “Jesus did not choose to die, but to persist in love.”

Die ure van bloedsweet in Getsemané was nie ‘n besluit vir of teen ‘n kruisdood nie – dit was ‘n besluit vir of teen die grootste liefdesdaad van alle tye, in alle tye, voor alle tye, na alle tye – liefde wat tyd vooruitgaan, agtervolg en omvou.

In stillness nailed.

To hold in time, all change,

all circumstance

in and to Love’s embrace.

Om alle randtoestande van hierdie realm (tyd, verandering, omstandighede) vas te hou in en vir Liefde se omhelsing en hulle so te bevry van die greep van dualisme. Om alle ooglopende paradokse, alle teenstellings, alle goed en sleg, alle kennis en onkunde, alle slange en duiwe, alle priesters en prostitute, vas te hou in samesmeltende, verterende, allesomvattende liefde en dit een te maak sodat ons nie meer langer deur “dit-of-dit”-brille na mekaar en die wêreld hoef te kyk nie, maar mekaar kan omhels. Dís die vervulling van ’n lewenstaak. Catherine Keller vat dit weer saam as sy sê, “The Omni-amorous One transcends the world only by embracing it.”

Ons begin gewoonlik ons reis met die “geestelike” dinge by die idee van godsdiens:

jou godsdiens en my godsdiens, my hemel jou hel…

Dan besef ons dit het veel meer met geloof te make:

niks aardskuddends nie, almal moet in iets glo…

Nog later besef ons geloof beteken eintlik vertroue, meer as wat dit dogma behels:

Jesus vat die stuurwiel, maar ek besit die kar, bietjie soos Uber: en as hy ’n goeie drywer is, gaan my ratings definitief op…

En veel later dat oorgawe eintlik meer is as veilige voordelige vertroue. Oorgawe, wat deur Liefde gevoed word en Liefde wat deur oorgawe gevoed word.

Dis dalk waarin Jesus se vervulling lê. Want ’n “suksesvolle” dood, of vir alle praktiese redes ’n “suksesvolle” lewe, volgens al ons menslike standaarde, het Hy nie gesterf of geleef nie. Hy moes, as Hy ook ten volle mens was, in pyn gepeins het oor of sy “werk” na sy dood sou voortgaan. Of sy “projek” (soos ons sou spekuleer) sy dood sou oorleef. En tog gee Hy homself heeltemal weg. ’n Lewe geleef in oorgawe en ’n dood gekenmerk deur oorgawe: in U hande gee ek my gees oor.

"Nothing is more practical than finding God:

that is, than falling in love in a quite absolute way.

What you are in love with, what seizes your imagination, will affect everything.

It will decide what will get you out of bed in the morning,

what you do with your evenings, how you spend your weekend,

what you read, who you know, what breaks your heart,

and what amazes you with joy and gratitude.

Fall in love, stay in love, and it will decide everything."

Ignatius of Loyola

Leef jy ’n godsdienstige lewe? Dan sal jy tien teen een ’n godsdienstige dood sterf.

Leef jy ’n gelowige lewe? Dan sal jy tien teen een ’n gelowige dood sterf.

Leef jy ’n lewe van vertroue? Dan sal jy tien teen een so ’n dood sterf.

Maar leef jy ’n lewe van liefde in oorgawe, dan sal jy kan sterf met die woorde “Dit is volbring” omdat jy, selfs in jou sterwensoomblik, geen ander keuse sal hê as om jou gees onvoorwaardelik in God se hande oor te gee nie.

Kom ons oefen nou al om so ’n lewe van oorgawe te leef deur hierdie gebed van Ignatius te bid en te leef:

"My loving God,

take and receive

all my liberty

my memory,

my understanding,

my entire will

and all that I have and possess.

You gave it all to me.

To you, my God, I return it!

Always yours,

dispose of it according to your desires.

Give me your love and grace.

This is enough for me."

Ignatius of Loyola


bottom of page