top of page

Wat is in jou hand?


Die Bybel word dikwels opgetel om antwoorde te kry. God se antwoorde. En dit is daar. Duidelike antwoorde en beloftes. Daar is egter ook baie vrae. Vrae wat God vra. En meeste daarvan is nie retories nie. As ons met die vrae worstel en daarop antwoord met ons lewens, kan dit ons nader bring aan wie ons werklik is en in dieper vennootskap met God.


Die storie van Moses en die brandende bos is ‘n bekende een. God ontmoet Moses by sy werk. Nie by een of ander “heilige plek” nie. Hy is besig om skape op te pas.

God vra hom om sy vennoot te word en sy volk uit hulle swaarkry te lei. Moses begin maak verskonings. Ek is nie goed genoeg nie. Wat gebeur as hulle nie vir my luister nie? Ek het nie die regte talente nie. Wat as ek misluk? Hoekom stuur U nie eerder iemand anders nie? God antwoord nie een van hierdie vrae nie. Hy vra net: “Wat is in jou hand?”


In Adam Small se vertaling:


ma' die Here sê vi' hom: djy sal djou mense lei

wat's in djou hand?

en Mosas sê: 'n staf


nou vrinne

dit was al wat hy gahad het

hierie man van God

'n staf

'n dooie stok

en boenop het hy nog gahakkel ok


’n Kierie. Nie ’n magic wand nie. ’n Dooie stok waarmee hy elke dag gewerk het.


“Moses spent his first forty years thinking he was somebody. He spent his second forty years learning he was a nobody and his next forty years discovering what God can do with a nobody.”


Dwight L. Moody


God roep Moses om met Hom in vennootskap te gaan om hoop, verligting, vryheid en bemagtiging in bring in ’n wêreld waar diep nood seëvier. Nood wat so groot is dat dit verlammend voel. Soos in die wêreld waarin ons leef. Ronald Rolheiser skryf dat God se antwoord op Moses se vraag “Hoekom ek?” eintlik bloot was: “Omdat jy gesien het hoe my mense swaarkry.” Sy roeping was nie onderhewig aan sy tekortkominge, of selfs sy uitsonderlikhede, nie.


Omdat jy gebore is waar jy gebore is. Omdat jy die pad gestap het wat jy gestap het. Omdat jy geval het waar jy geval het. Omdat jy saam met die mense is saam met wie jy is. Omdat jy gesien het. Omdat jy sien.

God roep nie net Paulusse, predikante en sendelinge en maatskaplike werkers nie. Trevor Hudson sê: “Die belangrikste sendingreis wat jy sal aanpak, is nie die een Botswana of Mosambiek of Indië toe nie. Dis elke Maandagmôre op pad fabriek toe, op pad kantoor toe, op pad band practice toe, op pad hospitaal toe: op pad werk toe.” As jy kan aandag skenk, vir ’n oomblik tot stilstand kan kom, die bosse sien wat brand – as jy jou werksplek as heilige grond beskou – word jy God se vennoot in Sy plan om genesing en bevryding in hierdie wêreld te bring.


nou vrinne

die Here het gabring

aan my sy wonnerwerke oek so

hy het gavra wat's in my hand

en vrinne

in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing


- Deur Frieda van den Heever



bottom of page