top of page

Wat is die verskil tussen kontemplasie en meditasie? - Deel 2

  • Jun 30
  • 4 min read

Updated: Jul 1


Inleiding


"O Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stil gemaak; soos 'n gespeende kind by sy moeder, soos 'n gespeende kind is my siel in my. Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid."

In die eerste aflewering van "Pad van die Hart" het ons die begrippe "ek" en "my siel" ondersoek. Ons het gekyk na wie die "ek" is, wat die siel behels en wat die verhouding tussen hierdie twee entiteite is. Twee belangrike oefeninge is voorgestel:


1. Die vestiging van die waarnemer: Let op jou gedagtes, emosies en begeertes. Sluit jou oë, haal diep asem en raak teenwoordig in jou innerlike wêreld. Neem waar sonder enige oordeel of beoordeling van dit wat in jou opkom. Deur hierdie oefening disassosieer jy van jou denke, emosies en gevoelens – die primêre funksies van jou siel. Dit beteken dat jy besef: "Ek is nie my denke of my emosies nie, maar ek hét denke, emosies en begeertes." 


2.Terselfdertyd word jy uitgenooi om te assosieer met die "ek" – jou "is-heid" ,die kern van jou bestaan,die verborge mens van die hart– en 'n metabewussyn te ontwikkel. Dit is die vermoë om bewus te word en kontak te maak met jou hart.


Hierdie proses lei na 'n plek van verwondering met jou eie bestaan. Jou primêre identifikasie verskuif na die waarnemer wat standvastig bly terwyl alles  vloei en verander. Vroeg in die kerk is daar verwys  na Nunc Stans (die stilstaande nou, die waarnemer) teenoor Nunc Fluens (die vloeiende nou, dit wat verbygaan).


Met die ontwikkeling van hierdie metabewussyn word ons uitgenooi om bewus te raak van die verhouding tussen jou en jou siel.


Ontdek

Soos reeds genoem, is die siel dikwels onstuimig. Hierdie onstuimigheid word vandag algemeen beskryf as spanning, bekommernis of angs – 'n toestand waar jy so besig is dat jy uiteindelik jou energie verloor.

Die vraag is: Hoe reageer jy in hierdie verhouding met jouself, jou siel of jou ego?

Daar is verskeie metafore om hierdie verhouding te beskryf:


Zen-Boeddhisme: Hier word die siel vergelyk met 'n wilde os wat getem moet word. Jy moet eers bewus word van die os, hom vang (wat vernuf verg), en hom dan stewig vashou sodat hy nie met jou weghardloop nie. Uiteindelik raak hy moeg en mak, sodat hy rustig saam met jou kan loop.


Gerald May: Hy verkies die metafoor van 'n hond. Dit is steeds 'n dier, maar een wat nader aan die mens is en met wie 'n vriendskap gekweek kan word. May reken dat ons in die Weste nie soseer die dier hoef te tem nie, maar dat ons dikwels geleer word om hierdie "hondjie" aan 'n kort leiband te hou en streng beheer oor ons emosies uit te oefen. Hy vra egter: Watter soort hond het jy? Is dit 'n Chihuahua, 'n Basset, 'n Greyhound of 'n Pitbull? En wat is die doel van die leiband? Is dit om die hond permanent te beheer, of is die ideaal om die band uiteindelik los te maak omdat daar 'n diep vertroue en vriendskap ontstaan het?


 Dawid (Psalm 131): Dawid bied 'n meer menslike en deernisvolle metafoor: die siel as 'n baba. Dit is nie 'n wilde dier wat getem moet word nie, maar 'n kind wat versorg en tot bedaring gebring moet word.


Die uitnodiging vir hierdie week se "huiswerk" is om te let op wat werklik binne-in jou aangaan. Watter metafoor beskryf jou huidige innerlike toestand die beste? Is dit 'n boksgeveg of 'n toutrekkery? Is jou siel in 'n gevangenis toegesluit deur onderdrukking en ontkenning? Of is daar vertroue en konneksie?


Hier is drie oefeninge wat ons kan help om die verhouding met ons siel te belig:


1. Vestig weer die waarnemer: Staan op oomblikke gedurende die dag – veral wanneer jy oorval word deur emosies soos woede of ontsteltenis – vir 'n oomblik terug. Haal diep asem, tree in die rol van die waarnemer en kyk wat gebeur sonder om te analiseer, te regverdig of te veroordeel. Kyk net wat met jou gedagtes en gevoelens gebeur wanneer jy bloot daarop let sonder om dadelik te reageer.


2. Beweeg na metabewustheid: Daar is in elke ervaring van die "nou" twee dimensies. Daar is dit wat verander en verbygaan (*Nunc Fluens*) – soos jou emosies, gedagtes en selfs obsessiewe begeertes. Maar daar is ook die onveranderlike dimensie: die waarnemer, jou "is-heid" (*Nunc Stans*).Om net hier vir n wyle te rus is om van "doing mode" na "being mode" te beweeg. Dit los nie noodwedig jou probleem van die onrustige baba op nie maar skep spasie wat n ander perspektief skep en bepaal wat volgende gaan gebeur.


3. Refleksie gebed: Kyk aan die einde van die dag terug en vra jouself af: "Hoe het ek vandag met myself omgegaan? Hoe lyk die gesprek in my binneste?" Probeer 'n metafoor vind vir jou huidige innerlike staat en dink na oor die uitnodiging om na jou siel te kyk soos na 'n klein kind – om dit te bevriend, verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar en dit te koester.



 


KYK


LUISTER


Recent Posts

See All
bottom of page