top of page

Wag met die woord



Words


I don't take your words

Merely as words.

Far from it.


I listen

To what makes you talk –

Whatever that is –

And me listen.


Shinkichi Takahashi


Woorde kan goedkoop wees én jou duur te staan kom. Die Talmud sê 'n Woord is soos 'n by, dit het heuning en 'n angel. Dit kan lewe skenk of moord pleeg. Troos of ontstig.


“... die woord het 'n missiel geword

en elke sin is gelaai met springstof.”


George Weideman


Woorde kan jou wese vol maak of jou dolleeg laat voel. Koos du Plessis stel dit so:


Goeiemôre, goeiemiddag, goeienaand!

Baie dankie vir 'n wonderlike aand.

Veels geluk en bly te kenne, vat die hand.

Simpatie, want ek voel saam met jou vanaand.

Dis alles woorde –

net leë woorde –

Op vals akkoorde;

en almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam.

Alle sterkte en, onthou, daar's krag na kruis.

Kom weer kuier en sê groete by die huis.

Ons hou almal duimvas. Kom tog veilig tuis.

Doen jou plig en eendag sal jy almal wys.

Dis alles woorde –

net leë woorde –

Op vals akkoorde;

en almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam.

Vaarwel.

Dis alles woorde –

net leë woorde –

vaarwel.


Die Woord is vol woorde oor woorde. Spreuke wemel daarvan. Oor die krag van woorde. Hoe ‘n blote woord, ‘n paar letters in ‘n string geryg, ‘n sin(dikaat) kan vorm, ‘n mens kan platslaan of ophef. So probeer ons oomblik vir oomblik dinge sê om onsegbare dinge te verwoord. Om onverklaarbare goed te verklaar. Onbeskryflike beelde te beskryf. Onuitspreeklike drome uit te spreek. Sinne te maak van die dinge wat nie in sinne pas nie. Nie omdat dit onsin is nie, maar omdat dit anderkant sin lê. Ons gebruik as’t ware die byl om agter die kap van die byl te kom. Die wonderwêreld van woorde om die onderwêreld van ons stiltes boontoe te bring. Sigbaar te maak. Etikette te gee. In vorms te giet.


So my woorde – vandag, hier en nou – dié wat ek praat, dié wat ek skryf, selfs dié wat ek níé praat of skryf nie – kan verdeel of verbind. Die byl of die pyl is in my hande. Of eerder tussen my tande. In enige gegewe sin wat ek sê of skryf kan die subteks wees, “Ek ook” (“Me too”) Jy’s nie alleen nie” of “Jy’s op jou eie.” Woorde van genade of woorde van geweld. Woorde uit liefde of woorde uit vrees.


Vorm jou woorde ‘n pad waar daar oomblikke vantevore nog ‘n “No Exit”-teken was? Of bou jou woorde ‘n muur waar daar ‘n oomblik terug nog ‘n oop veld was? Die oop veld anderkant idees van reg wees en verkeerd wees waarvan Rumi skryf. Die veld waar ek en jy mekaar kan ontmoet waar idees en taal en selfs die woord “mekaar” nie eens sin maak nie. Wanneer die siel neerval in die saligheid van daai veld se gras is die wêreld te vol om te praat daaroor. Voel mens werklik van jou sinne beroof en tog niks armer nie. Asof jy nie jou sin kon kry nie en tog tevrede. Diep tevrede.

Woorde kan soetigheid vir die siel en genesing vir die gebeente óf swaardsteke en ondergang bring (Spreuke). Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking (Jak.3:10). Hoe het ons dit dan met onsselwers!?


Maya Angelou skryf so mooi in I know why the caged bird sings oor liefde en wat dit werklik beteken om iemand lief te hê. Sy sê dit is om die lied te ken wat hulle harte sing (die lied waarmee God ons elkeen in die wêreld ingestuur het) en om dit vir hulle te neurie as hulle dit vergeet. In baie Afrika-gemeenskappe is dit die gebruik om ‘n sirkel te maak om iemand wat drooggemaak het – hulle song vir ‘n wyle vergeet het – en hulle song vir hulle te sing tot hulle weer self kan. Hoe mooi is dit nie? Om nie woorde te gebruik om te veroordeel en te verwerp nie, maar om terug te verwelkom.


Ons voorliefde vir praat en die verhewe vertroue wat ons plaas in woorde en formulering het meeste van die antagonisme en geweld in die geskiedenis van die godsdiens voortgebring, wat veral vreemd is vir ‘n godsdiens wat glo dat die Woord vlees geword het (Joh.1:14). Baie vreemd inderdaad as ons in gedagte hou dat Jesus nooit daarmee gepla was om enigiets neer te skryf nie, toegelaat het dat die hele Nuwe Testament in ‘n ander taal (Grieks) geskryf is as wat hy gepraat het (Aramees) en selfs toegelaat het dat dit tussen 30 en 60 jaar neem om te gebeur! Dalk om ons meer nederigheid in terme van woorde te leer. Woorde wat altyd bloot metafore vir die realiteit is. Jesus gee duidelik ook nie veel om dat mense nie sy presiese bewoording gebruik of hom korrek aanhaal nie. Dis die innerlike stilte wat uiteindelik saak maak en waaroor hy omgee, die woorde kan ons bloot in daardie rigting beduie.


"Our Lord told us to pray in secret –


that means in your heart –


and he instructed us to “shut the door.”


What is this door he says we must shut,


if not the mouth?


For we are the temple in which Christ dwells, 


for as the Apostle said:


“You are the temple of the Lord.”


And the Lord enters into your inner self 
into this house,


to cleanse it from everything that is unclean,


but only while the door — that is, your mouth –


is closed shut."


Aphrahat the Persian


Wanneer laas het iemand vir jou gevra: “Het ek jou woord?” Of het iemand vir jou gesê, “Ek gee jou my woord,” en jy het geweet jy kon hom op sy woord neem? Hoeveel keer moet ons nog hoor hoe een of ander publieke of politieke figuur sê, “Ek gee julle my woord…” net om dit in ‘n oogwink te verbreek. Woorde van eer word goedsmoeds verbreek, so asof dit nooit eens saakgemaak het nie. G’n wonder dat as God vir ons sê, “Ek gee julle my Woord,” so min mense dit ernstig opneem nie. “Ek gee jou my Woord,” sê God, en die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, vol genade en waarheid.

God het nie sy Woord verbreek nie. Ons het.


So wat is die antwoord? Stilstakings? Afwesigheid? ‘n Antwoord wat nie lank gaan duur nie, so vermoed ek. Miskien lê ons ant-woorde juis in teen-woordigheid. Woorde wat in stilte gebaar word. Klanke wat hul oorsprong vind in ‘n land anderkant klank. Geluide wat voortspruit en terugkring na geluidloosheid. Die Groot Geluidlose. Die Ewige Woord.


Die Wag voor die mond. Nie net as ‘n dissipline (vir mense wat lief is vir praat, lees: straf) nie, maar om jou siel te bewaar van angs en onstuimigheid: “Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.” (Spr. 21:23) Die MSG-vertaling: “Watch your words and hold your tongue; you’ll save yourself a lot of grief.”


Mag jy herinner word aan jou song sodat jy maar kan stilbly wanneer dit nie nodig of waar of liefdevol is om jou mond oop te maak nie. Dat jy kan hoor hoe God sing oor jou.



Deur Frieda van den Heever


bottom of page