In ’n klas oor digkuns op universiteit onthou ek hoe die lektore aanbeveel het dat ons liewer nie nóg ’n gedig oor die siel skryf nie. Ek dink hulle wou hê ons moes waak teen woorde wat diepsinnig klink, maar wat geneig is om ons op ’n manier ook te ontwyk.
Op ’n dag kom ek tog op ’n digter af wat nie gedink het die siel is té voos geskryf nie:
hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere,
maar kleiner
soos ’n klier of ’n juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou . . .
– Loftus Marais
My prentjie van ’n siel is ook amper soos iets wat iemand met spesiale ultraklanktoerusting vinnig kan raaksien en sê: “Daar swem hy weer weg.” Of iets wat dalk sal uitglip as ek nie versigtig is nie, maar waarskynlik nie iets waarvan ek ’n oorplanting kan kry nie.
Die gedig hierbo daarenteen wonder hardop of die siel nie dalk uitwendig kan wees nie, meer soos ’n kledingstuk.
Beslis meer tasbaar, maar ook vreemd om te dink dat ek my siel dan kan afskud, of op iemand se rusbank vergeet na ’n lang, lekker kuier.
Bybelse begrippe van die siel het ook ’n konkrete kant. Die Ou Testament se “nephesh” kan letterlik ook jou keel wees. Waardeur jy jou daaglikse brood inkry, maar ook waarmee jy uiting gee aan wat in jou steek. Dit waardeur God se asem geblaas is tot in die mens se longe en wese om lewe te word. “Psyche” in die Nuwe Testament word soms as siel en soms as lewe vertaal. Dit vervat iets van iemand se hele bestaan – binne, buite en beyond.
Die siel is klaarblyklik belangrik, maar dit wil voorkom asof ek per ongeluk daarsonder kan klaarkom. Jesus se woorde in Lukas 17:
Elkeen wat probeer om sy lewe (psyche) te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
Wat beteken dit dan as ek wil seker maak ek vergeet nie van my siel nie?
En hoekom sou dit dan van my kon loskom as dit lewensnoodsaaklik is?
As ek luister na hoe Jesus daaroor praat besef ek: Elke siel het onmeetbare waarde, maar dit beteken nie ek hoef desperaat te gryp daarna nie. Dis eerder by my siel se diepste verlange, of dors soos dié van my keel, dat ek God se vrygewigheid ook ontdek. In my alledaagse lewe én in onverwoordbare sielstaal.
Baie gewone woorde pas saam met siel: Sielskos, sielsvriend, sielerus, sieletroos, sielvol of sielloos. Dis tog heel anders as kos, vriend, rus, troos, vol ensovoorts en iets daarvan verstaan ons instinktief.
Sondag kyk ek na ’n gelykenis van Jesus wat my help om die siel te waardeer. Wat my in die rigting van die siel kan stuur – vol verwondering, maar snaaks genoeg ook met iets wat voel soos verwildering.
Deon Meiring