Wilbewaring vir die hart
- inviagemeente
- 2 days ago
- 4 min read

Laat een aand sien ons ’n klein bokkie. Ons vries en begin fluister. Dis die reëls. As jy ’n bokkie sien, fluister jy. Op ons wittebrood stap ek en Zinelda in die Drakensberge. Ons kyk teen ’n heuwel uit en sien ’n dier wat vir ons kyk. Die probleem is, ons weet nie watter dier nie. Ons fluister weer, want dis die reëls. Is dit die lodge se hond? Is dit ’n luiperd? Ek draai net om aan te stap toe die dier teen die berg ook ’n skielike beweging maak. Toe hardloop ons. Dis eintlik teen die reëls, maar ons het dit darem hierdie keer oorleef.
“When a young Celtic monk saw his cat catch a salmon swimming in shallow water, he cried, ‘The power of the Lord is in the paw of the cat,’ skryf Brennan Manning. Hy bewonder hoe hulle nie nodig het om ’n skerp onderskeid te maak tussen die stoflike en die geestelike nie.
“God intended for us to discover His loving presence in the world around us,” sê Manning.
Is dit wat ek sien wanneer ek na die wêreld om my kyk? As ek onthou om na die wêreld om my te kyk in die eerste plek. Ek bedoel spesifiek die aarde wat ek so maklik misloop. Daar kan ek God se liefde ontdek. In die wildernis is die onderskeid tussen stoflik en geestelik eenvoudig nie so relevant nie. Dis hoekom dit ’n goeie plek vir die hart is.
Die laaste deel van Jona stop so skielik dat ek maklik vergeet dit gaan oor diere ook. God sê vir Jona:
…why can’t I likewise change what I feel about Nineveh from anger to pleasure, this big city of more than 120,000 childlike people who don’t yet know right from wrong, to say nothing of all the innocent animals?” Jonah 4:7-11 MSG
Jona is woedend en bitter. God herinner hom aan onskuld met die beeld van kinders en diere.
Jona skop vas. Hy’t boekgehou in sy kop. “Groot vis se ingewande” is seker bo aan sy lys. Dit was alles om hierdie vreemde mense te kom regsien. Nou is God aan húlle kant? Dis nie meer net die mense wat vir hom vreemd is nie. Om vir Ferdinand Deist te parafraseer: Toe Jona agterkom dat sy hart nie in dieselfde maat as God s’n klop nie raak hy vervreemd van God.
Jona was nie net hoogmoedig nie. Hy wou homself beskerm ook. Darem opkom vir homself. Dis weerloos om my hart oop te maak. Dis hoekom ek benoude, wilde en gevaarlike spronge sal maak om dit te vermy.
As ek plek maak vir die wildernis, maak ek plek om vir my wilde hart ’n regverdige kans te gee. Sonsondergange, skoenlappers, sterre, berge, besies, donderstorms, swaeltjies, walvisse, wewernessies. Hierdie goed spreek vanself. As die Bybel met foto’s uitgekom het sou groot gedeeltes daarvan National Geographic fotoblaaie kon wees. Dit wat wild is doen my hart ook goed. Dit weet ek goed. Tog leef ek maklik asof dit normaal is om afgestomp daarvan te wees.
“Without a visceral connection to the soul of nature, we will not know how to love or respect our own soul. Instead, we try various means to get God and people to like or accept us because we never experience radical belonging to the world itself.” – Richard Rohr
Jona wou eerder behoort aan sy eie mense, sy eie godsdiens as om God se groter prentjie te sien: Die 120 000 mense, die diere… Jona voel ’n veer daarvoor. Hy weet wat hy weet. Die wildernis help ons om raak te sien wat ons nooit bloot kan weet nie.
Ferdinand Deist lig uit hoe God eers die groot see en die groot vis gebruik om Jona tot inkeer te bring. Aan die einde van die storie bring God een klein boompie, die wurmpie. Daar sit Jona alleen.
…Jesus was nie alleen nie. Die wilde diere van die veld was by Hom en die engele het gesorg dat Hy alles het wat nodig was.” Markus 1:13 Die Boodskap
So ons kan maar vir Richard Rohr glo as hy sê die natuur kan ons iets leer van hoe ons behoort. Waar ons inpas. Die diere se geselskap in die wildernis was selfs vir Jesus deurslaggewend.
Jesus se tyd in die wildernis was nie net ’n toets nie. Dit was ook ’n plek om sy hart voor te berei. Dieselfde met Moses en sy mense se wildernistyd. Die ander soort afhanklikheid het hulle harte buite die gemaklike grense van hulle ou bekende godsdienstige gewoontes laat klop. En dit was nie net maanskyn en rose nie. Dit was ook manna en kwartels, slange en sirkels loop.
Hierdie is my herinnering, my toestemming: Die natuur is noodsaaklik vir my hart. As ek my hart wil bewaar, moet ek iets wat wild is ook bewaar. My hart is hoe ek iets van God kan beleef wat nooit in kopwoorde gesê kan word nie.
Wat as ek nie langs ’n wildreservaat bly nie? Daar is goeie navorsing wat deesdae wys hoe enige intesnionele kontak met ander lewende wesens ons goed doen. Ons troeteldiere, goggas, ons huisplante, die maan, die sterre, die kaktusse, die gras. Ons het nog plekke wat iets wat wild is vir ons bewaar. Ons kan vir God daar ontmoet as ons ons harte daarvoor sal oopmaak.
- Deon Meiring




