top of page

Waar Is My Lewe Heen?: Gemoedsversteurings


“Isebel was woedend. Sy het toe vir Elia ’n boodskap gestuur: “As ek jou nie binne 24 uur doodmaak soos jy die Baälprofete doodgemaak het nie, moet die gode my maar laat sterf.” Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.” Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.” Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.” Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?” Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.” “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister.”

‭‭1 Konings‬ ‭19:2-12‬ ‭DB‬‬


Elia se storie kan ons help om gemoedsversteurings beter te verstaan. Na sy grootste oorwinning oor die Baäl profete kry hy ‘n doodsdreigement, verval in depressie en gaan lê onder ‘n besembos om te sterf. Hy kon vuur van die hemel afbid, maar nou hardloop hy weg vir ‘n vrou wat vir hom ‘n boodskappie gelos het dat sy kop gaan rol. Hy vlug want hy is bang om doodgemaak te word, en dan vra hy onder die besembos “maak my dood!”


Daar is geen logika in gemoedsversteurings nie.


Die woorde "wat maak jy hier" word dan aan hom gevra terwyl hy probeer om sin te maak uit sy lewe. Dit klink soos dieselfde vraag wat God in die paradys aan Adam en Eva gevra het nadat hulle die kompas van hulle lewe verloor het.


‘n Nuwe gemoed vra na ‘n nuwe pad.


Ons gesels Sondag oor hoe gemoedsversteurings ons ook kan help om ‘n gemoedsvernuwing te ervaar.

bottom of page