Uit die hart: Jou hart het ook woorde
- inviagemeente
- 1 day ago
- 2 min read

Ons almal ken die wrang smaak van spyt. Daardie oomblik wanneer 'n woord onverskillig gespreek is, en die stelling: "Spyt kom altyd te laat," met bitter waarheid deurdring.
Daar is 'n ou verhaal van 'n jongman wat sy geestelike begeleier besoek het, oorlaai met skuld oor kwaadwillige dinge wat hy van 'n vriend gesê het. Die begeleier het hom opdrag gegee: "Gaan staan op die hoogste gebou, skud 'n verekussing uit in die wind, en gaan tel dan elke veer weer op." Die jongman het verstaan: "Maar dis onmoontlik!" Die begeleier het geantwoord:
"Jy kry die punt. Kom ons vra om vergifnis."
Die les is eenvoudig: Sodra 'n woord ons lippe verlaat, is dit ewig. Ons praat nie net woorde maar skep met ons woorde. Dit is nie meer ons eiendom nie; dit bewoon die wêreld, soos die Zulu's sê. En dit is presies waarom Jesus se waarskuwing so diep gesny het: dat ons rekenskap sal gee vir elke woord.
In die antieke wêreld was hierdie idee fundamenteel. Daar was nie regsfirmas wat jou deur die skuiwergate van oneerlikheid kon help nie. Die woord self was die hoogste wet. Ons sien dit vandag nog in ou verhale en films: selfs al gee jou vyand sy woord, staan dit vas. Jy is gebind.
Daarom was Jesus se opdrag so radikaal: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ eenvoudig ‘nee’. Wat meer as dit is, kom van die Bose.”
In daardie tyd was dit gebruiklik om jou woorde te versterk met ede: "Ek sweer by die hemel," of "by Jerusalem." Dit was 'n poging om die gewig van die goddelike aan jou swak menslike woord te koppel. Jesus se reaksie was 'n uitdaging aan jou karakter: Moenie eers probeer om jou woorde met 'n eed te versterk nie. Jou karakter moet sterk genoeg wees. Jou Ja moet die enigste waarborg wees wat nodig is.
Wat het intussen in ons Westerse samelewing verander? Taal het 'n produk geword. Advertensies, bemarking, en politiek gebruik woorde nie om te kommunikeer of te verbind nie, maar om te verkoop, te manipuleer en te beïnvloed. Die woord is nou 'n produk, nie 'n belofte nie. Ons leef in 'n konstante vloed van miljoene boodskappe, tweets, video's en klanke. Woorde word nie meer gebore uit 'n plek van rus, gebed, of seremonie nie, maar uit reaksie, spoed en funksie. Diepte word ingeruil vir dringendheid. Die groot, transformerende woorde het hul betekenis verloor. Liefde word gereduseer tot chemie. Roeping word net 'n loopbaan. Vrede word 'n sinoniem vir persoonlike geluk of om 'jou sin te kry' in plaas van universele heelheid. En die lys hou nie op nie…
Hierdie 'verdamping van die evangelie,' soos Dallas Willard dit genoem het, is die tragedie van ons tyd.
Spreuke 18:20 het wysheid vir hierdie ‘verdamping’ en ons gaan Sondag daaroor gesels. “Die vrug van ’n mens se mond versadig sy liggaam; die werk (opbrengs) van sy lippe bring hom terug.” Woorde is eerstens biologies en neurologies. Dit is kos wat jy gee aan jouself en ander. Indien dit kitskos is, sal jou brein altyd vir meer vra.
‘n Goeie vraag sal wees waar groei jy jou vrug?
Waar kom jou opbrengs vandaan?
- Theo Geyser




