top of page

stormstilte


Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak soos 'n gespeende kind by sy moeder, soos 'n gespeende kind is my siel in my.  Ps 131:2


‘n Ontwrigte siel kán rus vind. Dit kan alleen gebeur wanneer ons soos Dawid beheer neem van ons emosies en dit aan God oorgee. Bernard Mobbs skryf in sy boekie, Our Rebel Emotions, dat Christene dikwels hulle emosies ontken en onderdruk wat dan lei tot neurotiese trekke en ook ons geestelike groei bedreig.


Die Psalms is een van die grootste gawes wat ons behoort te bevry van al die goed-voel belydenisse en selfs liedjies wat eensydig is en ons ‘n ewige somer belowe. Die Psalms dwing ons tot rou, menslike eerlikheid en om dinge te sê soos wat dit werklik is!


Dit is presies wat Dawid doen. Hy is emosioneel ontwrig. Geleerdes vermoed dat hy hierdie Psalm in ‘n tyd geskryf het waar hy valslik beskuldig en vervolg word deur Saul, en waar sy eie vrou vir hom lag en spot omdat hy voor die ark gedans het (2 Sam 6:16-23).


Nou leer hy ons dat God ook die Here van ons emosies wil wees en dat ons nie slagoffers van emosies hoef te wees nie. Ons is nie wat ons voel nie. Stilte help ons om te weet wie ons is, wanneer emosies ophou praat en God ons siel vashou.


Jy sal dit voel…


Geloofsgewoonte vir die dag:


Begin met jou liggaam. Waar voel jy die emosie? Watter deel van jou liggaam? Beskryf dit in jou liggaam. Dan, na die siel. Watter kleur sal jy dit gee? Het jy ‘n lied of film gekyk wat dieslefde emosie in jou losgemaak het? (Hierdie is baie sinvol, want daar word die assosiasie gedoen dat ons dieselfde emosie in verskillende situasies ervaar!) 

Dan die belangrikste vraag as ons na die kop of denke toe gaan: Wat sê die emosie oor en ook vir jou? (Dalk is jy alleen? Of voel nie goed genoeg nie?)

En nou na die hart of gees. Sit vir ‘n oomblik in stilte en gee die emosie oor aan God en vra Hom om jou te vul met sy Gees.


Vir gesinne: Sit in ‘n sirkel. Laat elkeen “in-check” deur te noem watter emosie elkeen nou ervaar (die vier basiese emosies kan 'n leidraad wees. In Engels is dit baie maklik om te onthou: 'glad, mad, sad, fear'). Gebruik dan bogenoemde vrae.

Ons doen dit gewoonlik met die Bergskool kinders – dit is verstommend hoe kinders ook agterkom hoe hulle nie hulle emosies is nie, en ook ‘n diepte en kalmte kan vind binne onstuimige emosies.


Herhaalgebed:


Here, ek bring my siel tot bedaring.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page