top of page

Psalm 8 – oor waarheid, waarde, waardigheid en verontwaardiging …


As jy jou sou bevind in ‘n gemeenskap waar tradisionele genesing en - medisyne die toon aangegee het en jy sou ontmoedig, sonder entoesiasme, neerslagtig en omgeëllie voel, sou die medisynemens na wie jy jou toevlug sou neem eers een van vier vrae vra:


Wanneer het jy ophou sing?

Wanneer het jy ophou dans?

Wanneer het stories jou ophou betower?

Wanneer het jy opgehou om vertroosting te vind in stilte?


Waar ons opgehou sing het, opgehou dans het, ophou betower is deur stories of opgehou troos is deur stilte is waar ons die verlies van die siel ervaar het. Sing, dans, stories vertel en stilte is die universele balsems vir die siel.


In vele Afrika-kulture is die vraag nie net “Wanneer het ek ophou sing?” nie; hulle neem dit selfs verder: “Wat is my lied?” Elke moeder begin al haar kind se lied sing voor geboorte en hierdie lied bevestig die waarde en roeping van die kind dwarsdeur sy of haar lewe.


Die Psalm waarmee ons Sondag in gesprek gaan tree se titel is ook ‘n vraag: “Wat is die mens?” en as ons erns maak met die Psalms, sal die antwoord nooit ophou nie. Die mens is hartseer, die mens is bly, die mens is angstig, die mens is kwaad, die mens is ekstaties, die mens is neerslagtig. Die volle anatomie van menswees word vervat in hierdie 150 gedigte of lofprysings, maar die mens IS nie een van daai goed nie. Die mens IS omsingel, omskans deur God.


Die Psalms, soos die filosoof Jacob Needleman gesê het, laat ons nie toe om ‘n godsdiens te skep uit ons beter oomblikke nie, maar sluit alles in. Dit bemoedig ons om met rou eerlikheid en ten volle (gedetailleerde deeglikheid) om te gaan met die krag en diepte wat lewe self is. Soos Dawid, is hulle ‘n lewenskrag wat ons oproep om te dans en te sing.


Psalm 8 is ‘n loflied, die eerste loflied wat ons teëkom as ons die Psalms van voor tot agter lees. Dit is egter geensins eendimensioneel nie. Ek weet nie hoekom ek nou voel ek moes dit opbring of uitklaar nie. Seker maar omdat ons altyd oor pyn en lyding en boosheid dink as kompleks en multi-dimensioneel, terwyl lof en vreugde en goedheid eenvoudig is. Is dit regtig?


Hierdie Psalm is op ‘n besondere plek in die Psalmbundel. Sonder om in te veel detail in te gaan, kom ons sê net: die voorafgaande psalms en dié wat volg is vol klagtes en uitroepe na God te midde van verdrukking en vernedering. Dit is dus ‘n lofpsalm midde in die lief en leed van hierdie lewe. ‘n Nogtans-psalm.


Dit begin en eindig deur God te loof en sy almag in die ganse heelal te verheerlik. Die verwondering is groots én intiem; vurig én sagkens. Die verse in die middel wat begin met babbelende babas en teugende telge wat God se sterkte grondves en hierdie gedagte bring Dawid dan by die groot vraag: Wat is die mens?


Hoekom sou God hom bemoei met ons?

Hoekom twee keer kyk na ons?

Hoekom aandag skenk aan ons?

Hoekom sou God ons onthou én vashou?


Die antwoord op hiedie vraag wat eintlik eers in Jesus se lewe, dood en nuwe lewe sy vervulling gevind het, begin egter al by die raaisel oor wat babbelende babas te doen het met sterk skuilings en lof. Met Jesus se intog (op ‘n donkie!) in Jerusalem en na die reiniging van die tempel, roep die kinders uit “Hosanna vir die seun van Dawid!” (Dit lyk soos ‘n algemene verskynsel: kinders, armes en onderdruktes herken Jesus gewoonlik eerste as die Seun van Dawid – die Messias). Die godsdienstige leiers is verontwaardig: “Hoor U wat hulle daar sê?” Dan antwoord Jesus hulle met ‘n retoriese vraag wat seer maak waar dit saak maak. “Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Ps. 8:3) En hulle ken die volgende deel van die vers uit hulle koppe: “… om U teëstanders stil te maak”.

Goeie nuus vir die weerlose, aanstootlik vir dié wat hulle eie lewe wil regeer en dink hy is nie van God afhanklik nie. Want wie verstaan hulle behoefte aan voorsiening beter as babas? En buitestaanders, armes, onderdruktes, magteloses? En wie het meer om te verloor, meer om oor ver-ont-waardig te raak as die magtige onderdrukker? Die een wat in beheer is van sy eie lewe? Die een wat onafhanklik van God wil leef?


Wanneer ons ons swakhede, behoeftes, vrese en teleurstellings na God bring – en vertroue het in Sy aandag aan detail – gebeur iets wat die opposisie laat vlug. As ons heelhartig en naak na God kan draai, sal ons weer kan begin sing. Die Message-vertaling sê: “God, brilliant Lord, yours is a household name. Nursing infants gurgle choruses about you; toddlers shout the songs …”


Kwesbaar word kragtig, ‘n baba almagtig.



O God, my Beloved,

How powerful is your Name

In all the earth!

You, whose glory is sung in heaven

By the angels and saints,

Who with the innocence

And spontaneity of a child,

Confound those who are mighty and proud,

You quiet the unloving and fearful.

When I look up at the heavens,

At the work of God’s creation

At the infinite variety of your Plan;

What is woman that you rejoice in her,

And man that you do delight in him?

You have made us in your image,

You fill us with your Love

You have made us co-creators of the earth!

Guardians of the planet!

To care for all your creatures

To tend the land, the sea,

And the air we breathe;

All that you have made,

You have placed in our hands.


O God, my Beloved,

How powerful is your Name in all the earth!

Nan Merrill


- Deur Frieda van den Heever


bottom of page