Pad na die hart - Deel 1
- 2 hours ago
- 4 min read
Ontdek

Van die vroegste tye af was daar mense wat verstaan het dat die geestelike lewe nie bloot gaan om die regte dinge te glo nie, maar dat dit eerder teenwoordigheid, bewussyn en die vorming van die hart vra. Hierdie weg het deur die eeue verskillende name gekry: "practicing the presence of God", "the sacrament of the present moment","continually renewed immediacy”,mistiek, kontemplasie en die kontemplatiewe pad. Henri Nouwen het dit die Die pad van die hart genoem.
Psalm 131:2 gee vir ons ’n sleutel tot hierdie pad:
“Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak. Soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.”
Dit is merkwaardige woorde. Dawid sê nie: "Ek is my siel” nie, maar: “Ek het my siel stilgemaak.” Hier begin die pad van die hart.
Ont-leer
Die innerlike onrus
Die meeste van ons leef sonder vrede. Nie omdat ons lewens noodwendig uitmekaar val nie, maar omdat daar geen harmonie tussen ons innerlike funksies is nie. Ons wil een ding hê maar dink iets anders .Ons emosies trek ons in nog ’n ander rigting. Ons probeer rus, maar ons gedagtes hou aan maal.
Jy besluit om iets te los, maar die gesprek begin weer in jou kop. Jy herhaal argumente, bou scenario’s, antwoord mense wat nie daar is nie. Jy dink aan wat jy moes gesê het, of wat jy nog gaan sê. Uiteindelik raak jy moeg vir jou eie denke. En soos die gedagtes aanhou, wek dit emosies. Donker gedagtes bring donker emosies, en met tyd word dit ’n gemoedstoestand. Jy staan soggens op met ’n swaarheid wat jou oorval.
Mense probeer dit verdoof — met alkohol, besige programme, oefening of ander soort afleiding. Maar verdoof is nie vryheid nie. Die onstuimigheid bly.
Die onderskeid tussen hart en siel
Die kontemplatiewe tradisie bied ’n ander manier om met jou binneste om te gaan. Die Ortodokse tradisie onderskei tussen die hart en die siel. Die hart is jou kern, die diepste sentrum van jou wese, waar al jou innerlike funksies bymekaarkom: verbeelding, denke, geheue, intuïsie, begeertes, emosies. Paulus noem dit die “innerlike mens”; Petrus die “verborge mens van die hart.”
Die siel, daarenteen, verwys veral na jou denke, emosies en wil — presies soos moderne sielkunde dit as die primere innerlikke funksies beskryf. Wanneer Dawid sê: “Ek het my siel tot bedaring gebring,” beteken dit dat sy denke , emosies en begeertes tot rus gekom het.
Ont-moet
Onderskeiding
Ek het gedagtes, maar ek is nie my gedagtes nie. Ek het emosies, maar ek is nie my emosies nie. Ek het begeertes, maar ek is nie my begeertes nie.
Ek is die waarnemer wat dit alles waarneem. Hierdie ontdekking is eenvoudig, maar radikaal. Die meeste mense leef sonder hierdie bewustheid en word saamgesleep deur elke innerlike beweging. Maar die oomblik wanneer jy kan terugstaan en waarneem, begin ’n ander soort bewussyn ontwikkel — ’n meta-bewussyn, ’n bewustheid van jou eie bewussyn. Hierin lê ’n groot stuk vryheid.
Teenwoordigheid en aandag
Alles wat jy kan waarneem, is van verbygaande aard: gedagtes kom en gaan, emosies verander, ervarings vloei verby. Maar die waarnemer bly. Dit is die “ewige nou” waarvan C S Lewis praat — die plek van teenwoordigheid waar die hart wakker word.
Die pad van die hart begin eenvoudig: deur teenwoordig te raak. Fisies, sintuiglik, bewustelik. Jy stop vir ’n oomblik en merk die grond onder jou voete, die lig in die vertrek, die klank van mense, die beweging van jou asem. Só tree jy uit die stroom van kompulsiewe denke en leer jy om teenwoordig te wees in die Teenswoordige.
Die rol van asem
Jou asem kan as die basis dien van jou bewussyn. In baie tale beteken asem, wind en gees dieselfde. Dit lê op die grens tussen liggaam,siel en gees. Wanneer jy jou aandag terugbring na jou asem, keer jy terug na jou kern. Jy rus daarin. Van daar af begin jy jou innerlike wêreld duideliker waarneem: gedagtes, emosies, begeertes. Jy sien hoe alles kom en gaan. En binne hierdie waarneming ontstaan ruimte — ruimte tussen jou en jou denke, tussen jou en jou emosies. In daardie ruimte groei stilte.
Liefde, pyn en die hart
Soms kry mense makliker toegang tot die hart in oomblikke van groot vreugde of groot pyn. Ekstase en lyding breek die oppervlakkige strukture oop en maak dieper dimensies sigbaar. Die hart begin praat. Dan ontdek jy ’n plek van stilte wat dieper is as gedagtes en emosies: ’n plek van teenwoordigheid, rus en eenvoudig wees.
’n Leefwyse, nie ’n tegniek
Die pad van die hart is nie ’n tegniek nie, maar ’n manier van lewe — ’n oefening in aandag, teenwoordigheid en bewussyn. Met tyd leer jy om jou innerlike bewegings vroeër raak te sien: die angs, die konflik, die kompulsiewe denke. In plaas daarvan om saamgesleep te word, staan jy stil. Jy kyk. Jy haal asem. Jy word bewus. En dikwels is dit genoeg om iets te laat versag.
Die hart leef nie uit rustelose denke nie, maar uit teenwoordigheid, stilte en bewussyn. Dalk is dit wat Dawid bedoel het: “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak. Soos ’n gespeende kind by sy moeder.”
Die pad van die hart nooi ons terug na daardie plek van rus — stadig, eenvoudig, maar diep



