top of page

'n Opstanding met twyfel!



Ek wonder hoe voel Thomas met die etiket om sy nek: “Twyfelende Thomas”. In 'n klomp Bybelvertalings word die perikoop ook die twyfelende of ongelowige Thomas genoem. Die oorspronklike Griekse Bybel het nie verse of hoofstukke nie, en dis maar bloot kreatiwiteit wat ons inlees in die teks. Hy word die twyfelende of ongelowige Thomas gedoop omdat Thomas kwansuis die groot fout van twyfel begaan het.

Geensins.

Sy twyfel is eerder die gawe en geskenk van geloof wat ons sekerheid oor God verdiep. Die belangrike dinge wat ons by geloof moet vra is: Wie of wat is die objek van ons geloof? En, dit is ook belangrik om die onderskeid te maak tussen menslike geloof en dan godsdienstige geloof. Met menslike geloof is die objek ons dogma en verstaan oor dit wat ons wil weet. In godsdienstige geloof is die objek God wat altyd ‘n misterie bly en groter is as enige rede of verstaan. Om die misterie van God te omhels beteken dat ons altyd die misterie van die dood en twyfel insluit. Geloof is veel eerder die ontvouing van wat ons probeer verstaan as wat dit ‘n sekerheid is wat ons in geloofsbelydenisse vasgiet. Die Bybel stel ons eerder voor aan twyfelbelydenisse.


Thomas is geen uitsondering nie, dis die pad van elke geloofsheld.

Ons gesels Sondag oor hoe belangrik twyfel in ons 'opstandings' is. Indien die lewe bestaan uit daaglikste sterftes soos wat Jesus voorstel, dan het ons ook daaglikse opstandings nodig. Dit alleen gaan jou aan twyfel voorstel.


Die teks is opwindend waarheen Johannes jou neem “Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo… “ vs 29. Moes Jesus nie sê: “Omdat jy nou die gate in my sy en arms gevoel het, kan jy glo?”. Geloof word gebore nie uit wat jy voel of kan bewys nie, maar uit wat jy kan sien! Ons gaan in-zoom op die sien, sodat ons beter kan sien!

You're blessed when you get your inside world—your mind and heart—put right. Then you can see God in the outside world." Matt 5 (MSG)


- Deur Theo Geyser

bottom of page