top of page

Meer as KENNIS: Wysheid vir familiesake


Indien jy Nic Kyrgios se pa was, wat se raad sal jy vir hom gee? Nic is die nuwe stoutseun, John McEnroe. Slaan rakette stukkend, skreeu, baklei, vloek en as dinge nie lekker is nie dan hou hy op speel in die wedstryd. Op ‘n kol in die finaal op Wimbledon na ‘n hewige tantrum is sy familie op hulle voete en probeer hom help om sy oog op die bal te hou en die sideshows te los. En weereens, kos dit hom die spel!

Binne elke familie is daar ‘n Nic, of ‘n teenwoordigheid wat ons kan skaad, fokus laat verloor en die prysgeld en seën laat verloor. Jesus het ondermynende wysheid vir hierdie saak en sal jou laat regop sit. “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand (die ou vertaling sê haat!) doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom, my dissipels wees nie”. Lukas 14:26-27.

Hierdie Skrif is so terloops die ankervers van menigte kultusse. Ek het baie gesprekke op Stellenbosch gehad met ouers wat deur hulle kinders verwerp word na een of ander blootstelling aan ‘n nuwe kerk of geestelike ervaring. En, Lukas 14 gee skynbaar die mandaat om jou ouers te verwerp.

Jesus self het dit ook nie maklik gehad binne sy familie nie. Die gerugte is dat hy ‘n buite-egtelike kind is, sy familie dink hy is kranksinnig, hy word nie geëer in sy eie dorp nie en buitestaanders dink hy is Old Nic. Maar Jesus het hulle nooit afgeskryf nie, en tot by sy dood tref hy nog reëlings vir sy ma dat sy versorg kan word. Ons gesels Sondag oor hierdie skrifgedeelte, en gesien in die lig van sy eie lewe, is Lukas 14 dalk die waardevolste raad wat ons kan volg om ons families bymekaar te hou wanneer die sideshows ons families vernietig.



- Deur Theo Geyser

bottom of page