top of page

Meer as kennis: Die wysheid van die onbekende God


Paulus se ontmoeting met die Atheners in Handelinge 17 is vir baie mense 'n probleem. Hoekom is hy so vriendelik met mense wat afgode aanbid? Hy bly 14 dae lank by hulle én hy noem hulle godsdienstig! Hy beveel dan die gemeente in Korinte om "nie dieselfde juk te trek saam met ongelowiges nie" (2 Korinthiërs 6:14). Die konvensionele wysheid waarmee hy grootgeword het sou ook van hom verwag het om hulle te veroordeel en te bestraf.


Maar nee, Paulus kies met dié groep filosowe 'n ander koers. 'n Wysheid wat met soveel evangelisasie modelle verskil. Paulus weet waarheid is nie soos ‘n golfstok om ander mee te slaan nie, maar eerder om te help dra aan ander se golfsakke sodat daar ‘n beter verstaan oor golf kan kom!


Lees gerus die teks hieronder en probeer jouself indink waarom Paulus se trant so anders was en kom ontdek Sondag saam hoe Paulus mense wat nie soos hy is nie, kan vashou en met die grootste liefde hulle na 'n dieper verstaan van God lei.

Terwyl Paulus in Athene op hulle gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Hy het in die sinagoge met die Jode en die mense wat God vereer, geredeneer, en ook elke dag op die markplein met wie ook al daar was.

Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, ‘Ons is ook van sy geslag.’ “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”


Handelinge 17:16-17, 22-24, 28-32


- Deur Francois van der Merwe

bottom of page