top of page

klein is groot


Lukas 22.


Die laaste ete van Jesus met sy dissipels sou belangrik wees. 'n Ete was baie meer as net 'n lekker kuier. Die tafel en die ete sou 'n simbool wees van hoe ons dink oor ons lewe met God en ook die sosiale bestel waarin ons lewe.


'n Mens sou verwag dat aan die einde van die dissiples se tyd saam met Jesus, al die tyd saam met Hom hulle sou help om mekaar lief te hê en ook diensbaar te wees. In moderne taal sou ons seker gesê het hulle het hul ego-werk gedoen saam met Jesus en is ten volle teenwoordig. Maar dan die teleurstelling. Jesus het belangrike nuus om met hulle te deel, maar hulle is nie reg om dit te hoor nie. Die dissiples stry oor wie is die belangrikste. “En daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees” sê Lukas 22. Jesus doen dan die ongewone. Hy begin hulle voete was. Johannes onthou Jesus so: “Omdat Hy geweet het dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan … het Hy Sy eie mense liefgehad … tot die einde toe, tot die uiterste toe liefgehad.” Hy preek nie vir hulle of laat hulle skuldig voel nie. Hy wys hulle hoe lyk die liefde wat bereid is om 'n lewe af te lê vir vriende waarvoor Hy omgee.


Om voete te was, was ‘n algemene gebruik in daardie tyd, en dit was die werk van 'n slaaf. Nie een van die dissipels was bereid om die werk van 'n slaaf te doen nie. Maar Jesus was die twaalf pare voete een vir een. Selfs dié van Judas wat hom gaan verraai. Petrus teken eers protes aan en wil nie sy voete gewas hê nie. Maar gelukkig ken Jesus die impulsiewe Petrus en weet dat sy pad na 'n dieper lewe nog 'n paar jaar gaan neem.


Ons grootste struibelblok na 'n lewe met God is nie te min kennis of tyd saam met Jesus nie, maar eerder hoe ons kennis en tyd saam met Jesus ons gehelp het om mekaar beter lief te hê. Om minder my tyd en energie te gee vir my eie posisie, gemak en sekuriteit. Die ware toets is om bereid te wees om die dinge te doen wat niemand wil doen nie.

Geloofsoefening van die dag


Neem die woorde van Johannes: "Ek moet minder word en Hy moet meer word" en dink vir 'n oomblik aan presies wat dit is wat minder moet word in jou. Ons laaste en ook die grootste uitdaging en toets is diensbaarheid en om te doen wat niemand bereid is om te doen nie. Doen vandag iets wat jy nie graag wil doen nie, maar wat jy weet nodig is en jou gesin en ander kan help. Sou dit die skottelgoed wees? Vloere was? Of om net my vrou se voete of rug bietjie te masseer? Vir ons almal is dit iets anders. Maar neem genoeg tyd om te bid, te reflekteer en antwoord soos Jesus met voorskoot, waskom en water!


Vir gesinne (of wie ookal voel hulle wil dit saam doen)


In Heilige Week deel ons elke dag ‘n aktiwiteit of twee wat julle as gesin saam kan doen om hierdie laaste week van Jesus meer relevant vir almal van ons te maak – ook ons kinders. Ons besef ook ons sal dalk nooit weer ‘n geleentheid soos hierdie kry waar almal by die huis moet bly nie. Geniet dit!

1. Speletjie:

Druk die prentjie uit en sny dit in klomp kleiner stukkies. Laat die kinders die stukkies bymekaar pas om die prentjie te voltooi (soos ‘n legkaart).



2. Aktiwiteit & Skrifgedeelte:

Agtergrond: In Jesus se tyd het hulle nie tafels en stoele gehad soos ons vandag nie. Net die rykste mense het tafels en stoele gehad – die res van die mense het op die grond op kussings gesit by lae tafels. Dit het beteken jou voete was soms naby die persoon langs jou se gesig – wat nogal sleg is as jy dink in daardie tyd was daar nog net stof strate en almal het leer sandale gedra. So, hulle voete was vuil en sweterig! Dit is hoekom dit ‘n gebruik was om eers voete te was. Maar niemand wou nie en Jesus het eers almal se voete gewas. Daarna het hulle saam geëet en gekuier.

Ons gaan vanaand net soos Jesus en Sy dissipels ‘n lekker ete hou – soos hulle dit in daardie tyd gedoen het. Sit kussings op die grond en dek in die middel enige eetgoed wat julle dink hulle in daardie tyd ook kon geëet het bv brood, druiwe, kaas, koue vleis soos hoender ens. Dek ook glasies vir druiwesap. (As julle wil aantrek volgens daardie tyd is julle ook welkom… neem foto’s en stuur vir ons.)

Voordat julle begin met die ete, lees Jesus se woorde:

Toe neem Jesus die brood en breek dit, en sê: “Ek is die brood van die lewe. Hierdie brood is soos my liggaam.”

Breek die brood terwyl jy vra:

- Hoekom dink julle het Jesus brood gekies om Homself mee te vergelyk? Bv Ons het brood nodig om te lewe, kan nie sonder kos lewe nie…

- Hoekom dink julle sê Hy dat hierdie brood gebreek gaan word? Leidraad: dit is more Sy kruisiging?

Breek dan ‘n stukkie van die brood af vir jouself, en stuur dit om totdat almal ‘n stukkie brood afgebreek het. Kom ons almal eet die brood en terwyl jy eet, dink daaraan dat ons Jesus nodig het net soos ons brood nodig het – dit gee ons lewe, ons kan nie sonder kos of Jesus lewe nie, Hy gee ons krag, maak ons sterk ens ens.

Toe neem Jesus die wyn en gooi dit in ‘n beker en sê: “hierdie wyn is soos my bloed.”

- Wat dink julle beteken dit as Jesus sê ons drink Sy bloed? Is dit regtig Sy bloed? Nee! Maar dit lyk baie soos bloed – dis ook rooi.

- Hoekom dink julle het Hy wyn gekies? Hoe maak ‘n mens wyn? Jy neem druiwe en dan trap jy daarop sodat al die sap uit is, (druk een druiwekorrel plat sodat sap uitkom). Die sap van al die druiwe word in ‘n groot tenk gegooi – dit word later die wyn. Dink julle dis lekker vir die druiwe om so seer te kry, om op getrap te word? Nee. Dis soos Jesus – Hy het geweet hulle gaan Hom die volgende dag kruisig en hulle gaan Sy liggaam ook so seermaak soos die druiwe, onthou julle wat gebeur met Hom toe Hy gekruisig is? Hulle het ‘n doringkroon op sy kop gedruk wat die bloed laat uitkom het – net soos die druiwe.

Nou gaan ons die wyn drink. (Neem wynbeker en gooi die glasies vol en stuur aan vir elkeen.) Onthou: die wyn is soos Jesus se bloed, as jy dit drink is dit asof Jesus nou deel word van jou hele lyf. Hy is binne-in jou! Kom ons drink.

Toe almal klaar brood geëet en wyn gedrink het, sê Hy dat ons hierdie ete gereeld moet eet. Elke keer as ons die brood eet en die wyn drink, moet ons aan Hom dink en onthou wat Hy gedoen het vir ons. Ons moet onthou dat Hy in ons bly en deel is van ons net soos hierdie brood en sap, en dat Hy baie lief is vir ons.

Eet en kuier nou lekker verder saam.

Herhaalgebed


Here, maak my minder dat U meer kan word.


Geskryf deur Theo en Wilma Geyser

bottom of page