top of page

Jesus Braai Saam Met Sy Dissipels


Tema vir Kwartaal 2: Jesus verskyn aan verskillende mense na Sy opstanding


Les 1: Jesus hou 'n visbraai saam met Sy dissipels


Uitkoms of kerngedagte: Jesus is deel van ons lewens – ons herken Hom net nie altyd nie.


Vir ouers: Om julle kinders opgewonde te maak om ‘n ‘les’ op ‘n Sondag te doen gee ons ‘n paar voorstelle vir aktiwiteite wat julle kan doen om die gesprek op ‘n ‘FUN’ manier te begin. (Lucca is gewoonlik nie baie opgewonde nie… ons moet hom laat inkoop deur eers iets te doen waarvan hy hou en daaruit vloei die les natuurlik, sonder dat hy altyd agterkom ons doen nou ‘n les…) Julle hoef nie al die aktiwiteite te doen nie – kies dié wat by jou kinders se ouderdomme en geaardheid sal pas. Party kinders is mal oor inkleur of ‘hidden objects’ soek, terwyl ander dit haat.

Belangrik: die les is net ‘n riglyn. Pas dit asseblief aan by julle kinders se ouderdomme en julle omstandighede.


1. Aktiwiteite "Arts and crafts".


2. Speletjies:


Soek die items wat weggesteek is in die prentjie.

(Indien die prentjie te klein is of te moeilik is om te sien, gaan kyk by

vir voorskool, en

vir laerskool. Die antwoorde is ook daar.)

As jou kinders van die ‘hidden words’ hou, daar is nog baie op bg webtuiste! Geniet dit!


3. Les en storie:


Vra: Was dit maklik of moeilik om die items of woorde te kry in die prentjies hierbo?

Dit was net ‘n speletjie, maar baie keer gebeur dit ook in ons lewe dat daar wonderlike goed in ons lewe is wat ons nie altyd raaksien nie. Kan julle aan ‘n paar dink? Bv nou in isolasie besef ons om iewers heen te gaan soos fliek toe of see toe of net op jou fiets in die straat te mag ry, is wonderlike voorreg wat ons eintlik nooit besef het of waardeer het nie. Wat nog? (Dink ook aan bv lopende water, elektrisiteit - meeste mense in ons land het nie dit nie… ons is baie bevoorreg.)


Dieselfde het ook al met Jesus gebeur. Kan julle onthou wat het verlede naweek gebeur met die Paasnaweek? (Jesus het opgestaan, is nie meer dood nie.)


Jesus het na Sy opstanding, aan ‘n paar mense en Sy dissipels verskyn. Maar baie keer het die mense hom nie herken nie! Net soos ons nie die items of woorde in die prentjies elke keer dadelik herken het nie.


Kom ons luister na so ‘n storie. Na Jesus se opstanding het Hy al twee keer aan Sy dissipels verskyn. ‘n Derde keer het Hy aan hulle verskyn by die See van Galilea. Só het dit gebeur:


Vir ouers:


Julle kan Verbeeldingryke Gebed gebruik – dit werk baie goed met laerskool kinders, tieners en grootmense! Ek heg opsomming daaroor aan by einde van die les.

Vir die voorskoolkinders kan almal die storie saam uitbeeld met gebare bv gooi nette in, bootjie skommel op see ens. Of julle kan poppe/lego gebruik om die storie meer visueel te maak.


NB: Dis nie altyd nodig om die storie woord vir woord uit Bybel te vertel nie (die woorde is in elk geval ‘n paar keer oor vertaal en nie presies so nie). Vertel dit in jou eie woorde dat dit meer relevant en ‘real’ is vir die kinders.


Vir ouer kinders kan die App Pray as you go ook baie goed werk. Of jy kan op jou eie tyd daarna luister en dit dan net aanpas met jou kinders. Hierdie App beteken vir my persoonlik ongelooflik baie! Ek sal die ‘link’ aanstuur per WhatsApp. As jy nie op ons Kids WhatsApp-groepie is nie, laat weet my asb.


Verbeeldingryke gebed: Maak julle oë toe, en ons gaan nou in ons gedagtes verbeel ons is binne-in hierdie storie. Ons is by die see. Jesus se dissipels is op die boot – besig om vis te vang. Kies wie is jy in die storie. Dalk een van Sy dissipels? Of iemand wat daar naby is en sien wat gebeur?

Storie en Bybelgedeelte - Joh 21:1-14 (Ek het dit aangepas uit Lewende Bybel se vertaling)

‘n Klompie van Jesus se dissipels het gaan visvang. Hulle was met ‘n bootjie op die see.

(Voel jy die geskommel van die bootjie? Hoor jy die golwe? Ruik jy die see?)


Hulle het die hele nag lank probeer om iets te vang… nette ingooi, wag, uittrek… niks! Dan weer nette ingooi, wag, uittrek… niks! Hulle het nie ‘n enkele vis gevang nie.

(Hoe voel jy om die hele nag wakker te wees, is jy moeg? Hoe voel jy om hele nag te probeer, maar nie ‘n enkele vis te vang nie?)


Toe die son begin opkom, staan Jesus daar op die wal, nie baie ver van die dissipels af nie, want hulle was nie baie diep in nie. Die dissipels het natuurlik nie geweet dat dit Jesus is nie. Jesus roep: “En toe, het julle enige iets gevang?”

Hulle roep terug: “Nee, niks nie.”

Hulle klink baie moedeloos en moeg.

Jesus sê: “Gooi die net aan die ander kant van die boot, daar regs – daar is vis.”

Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die bootjie kon kry nie. Hulle sukkel om die net oor die boot se rand te kry so swaar is al die vis.

(Help jy om die net in te trek? Is dit baie swaar? Is daar baie vis? Ruik jy die vis?)


Johannes sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, spring hy in die meer en begin kant toe swem. Die ander het in die boot gebly en wal toe geroei met al die vis.

(Help jy roei? Is jou arms al moeg?)


Toe hulle daar land, sien hulled at daar alreeds ‘n lekker vuurtjie brand met vis wat daarop braai. Daar is ook lekker vars brode.

(Ruik jy die vuur en vis wat braai? Is jy honger?)


Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ‘n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.

Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net gelukkig nie geskeur nie.

Jesus nooi hulle en sê: “Kom, eet ‘n stukkie ontbyt.”

Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here.

Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis en kuier saam met hulle.

(Wat voel jy toe Hy vir jou ‘n stukkie brood breek en dit vir jou gee?


Gelukkig/bly, of verbaas, kan nie glo jy is hier by Hom nie… dat Hy nog lewe nie…?

Hoe voel dit om saam met Jesus op die strand te sit langs ‘n vuur?

Jy kyk op en sien Jesus kyk vir jou. Hy glimlag vir jou.

Waaroor gesels julle?

Is daar iets wat jy graag vir Jesus wil sê? Sê dit nou vir Hom.

Is daar iets wat Jesus vir jou sê? Wat doen Hy? Dalk sit Hy sy arm om jou skouers)


Amen.


Toepassing:


Voorskool:

  • Hoekom het hulle eers nie vir Jesus herken nie? (Hy was dood / hy lyk soos ‘n gewone mens…)

  • Waar is Jesus nou? In die hemel of binne-in almal van ons?

  • Dink julle Jesus wil ook saam met ons ontbyt eet of braai en kuier soos met Sy dissipels?

  • Maar as Hy binne-in ons is, dan is Hy mos hier. Hy eet elke ete saam met ons, kuier saam met ons.

  • En wat van as ons met die honde speel, speel Hy saam?

  • En as ons in die donker gang moet afstap, is Hy saam met ons?

  • Ja, Hy is altyd by ons. Ons vergeet net partykeer bietjie, né?

Laerskool:

  • Wie was julle in die storie?

  • Hoe was dit om saam met Jesus op die strand te sit en te eet en kuier?

  • Hoekom dink julle het hulle eers nie vir Jesus herken nie? (Hy was dood / hy lyk soos ‘n gewone mens…)

  • Waar is Jesus nou? In die hemel of binne-in almal van ons?

  • Dink julle Jesus wil ook saam met ons ontbyt eet of braai en kuier soos met Sy dissipels?

  • Maar as Hy hier is, in ons, dan kuier Hy mos saam? JA! Hy eet elke ete saam met ons, kuier saam met ons. Doen alles saam met ons!

  • En wat van as ons met die honde speel, speel Hy saam? En as ons in die donker gang moet afstap, is Hy saam met ons? En as ek weer skool toe moet gaan?

  • Ja, Hy is altyd by ons. Ons vergeet net partykeer bietjie, né?

Dink julle Jesus was kwaad omdat die dissipels Hom nie herken het nie?

Nee, Hy het vir hulle ontbyt gemaak en saam gekuier.


Dink julle Jesus is kwaad vir ons as ons vergeet Hy is in ons of ons herken Hom nie in ons lewe nie?

Nee, Hy bly lief vir ons, wil net saam met ons wees.

NB: Hoekom dink julle herken ons Hom nie altyd hier by ons of in ons nie (net soos die dissipels Hom eers nie herken het nie)? (Nie regte of verkeerde antwoorde nie… spieël hulle antwoorde.)


Die dissipels was ook so besig om vis te vang, dalk is ons partykeer ook so besig ons sien Hom nie raak hier by ons nie.

Hoe kan ons Jesus meer raaksien in ons lewe elke dag? (Laat hulle eers self idees opnoem… dalk tye van net bietjie stop waarmee ons besig is…of diep asemhaal… of stil word… onthou Hy is in my… Of praktiese goedjies bv ek het ‘n kruisie op my lessenaar, dit help my om te onthou Jesus is in my, dit help my om Jesus te herken ook in my werk wat ek doen…)


Laat hulle aan praktiese idees dink hoe hulle Jesus meer sal herken in hulle lewe. (As gesin dalk saam stil word of bid in oggende, of met 12 uur mid-dag-moment, of prentjies, rituele ens.)


Gebed:


Dankie Jesus dat jy elke oomblik by ons en in ons is.

Jammer dat ons dit so baie vergeet.

Jammer dat ons jou nie altyd herken in ons lewe nie.

Help ons om jou in ons hele lewe te herken… as ek eet… speel… slaap… huiswerk doen…

Amen


Nog lekker aktiwiteite rondom die les:


(Julle kan dit aan die begin van die les ook doen as julle wil. Ek sit die web by as julle dit van daar af wil uitdruk.)

Geskryf deur Wilma Enslin-Geyser

bottom of page