top of page

Die Bly wat Bly



Ek en Theo het aanvanklik besluit om die temas tydens die vakansie lekker lig te hou en toe besluit ek om blydskap te bedink. Ek weet nie hoe om die gewaarwordings en ervarings wat ek die afgelope paar weke gehad het in ‘n paar woorde te distilleer nie, maar mag die genade my lei … wat jy as leser wel kan weet, is dat ek nie tans on top of the world looking down on creation is nie; jy sal my kry in die vallei. Ek is die een in die donker… wat dans…


Blydskap is nie ligte musiek nie. Dis hoe God klink. Dis Jesus se legacy volgens Joh. 15:11. Dis ‘n ernstige besigheid. Ek het die afgelope tyd alles waarop ek my hande kon kry gelees oor blydskap. Enigiets wat die woord “joy” of “enjoy” of “rejoice” of “delight” bevat. Ek het selfs ‘n dissertasie oor blydskap gaan lees. ‘n Diepduik in hoe om dit lekker lig te hou. Ek wou dit begryp, dit “vang”, dit vashou sodat dit my nooit weer kan los nie.

Dit het eintlik al op 23 Desember 2021 begin, hierdie toegewyde soektog na blydskap. Die dag van my verlowingsherdenking, ‘n paar maande na Leon se dood. Ek het op hierdie spesifieke dag terwyl ek staar na die voëleiland waar my man 12 jaar terug op sy knie gegaan en my gevra het om te trou, hierdie seën van Jan Richardson gelees:



It is hard

being wedded

to the dead;

they make different claims,

offer comforts

that do not feel comfortable

at the first.


They do not let you

remain numb.

Neither do they allow you

to languish forever

in your grief.


They will safeguard

your sorrow

but will not permit

that it should become

your new country,

your home.


They knew you first

in joy,

in delight,

and though they will be patient

when you travel

by other roads,

it is here

that they will wait

for you,

here they can best

be found


where the river runs deep

with gladness,

the water over each stone

singing your

unforgotten name.


So my aanvanklike soektog, die eed wat ek afgelê om my te begewe in alles wat blydskap bring, waar my siel sing, daar waar lig is, was nie so geestelik nie; dit was om my man te vind wat môre nog net so weg soos gister was. Maar God kan enigiets gebruik. En so het ek ‘n paar goed langs pad gewaar. Mag ek dit deur die genade ook word.


As jy vir iemand vra, “Hoe gaan dit?” en hulle antwoord “Okay Onder Omstandighede” sal jou kop heel moontlik knik met ‘n onhoorbare “OOO” want jou brein is vertroud met die antwoord, jy kan sinmaak daarvan. So ‘n vraag en so ‘n antwoord het te make met wat mense beskou as geluk en ongeluk. Ek het die lotto gewen: ek is gelukkig. Ek het nie seer gekry in die ongeluk nie: ek is gelukkig. Ek kry ‘n parkeerkaartjie: ek is ongelukkig. My stofsuier (die een wat die reviews sê kan nie breek nie) het gebreek: ek is ongelukkig. Ek het die lotto met ‘n parkeerkaartjie gewen: ek is ekstaties, ek is buite myself, ek dink ek droom, met God aan my kant is alles moontlik.


Dit, vriende, medesterwendes, het niks te make het blydskap nie. Blydskap is nooit onder omstandighede nie. Dit het niks te doen met wat met jou gebeur nie en alles wat vir (of in) jou gebeur. Blydskap is ook nooit buite omstandighede nie. Dit sit vir jou smack bang klapknal in die middel van jou lewe soos dit is. Die die realste realiteit.


Blydskap kan nie gevang word nie, dit kan net ont-vang word.

Blydskap is ‘n keuse wat nie gekies kan word nie.

Blydskap is suiwer gawe én pure practice.

Blydskap kan nie begryp word nie, al word jy aangegryp daardeur.

Blydskap is ‘n soort tuiskoms, ‘n homecoming, maar dit gebeur maar selde sonder leave-taking. Dit voel soos huis, nie omdat jy daar gebore is nie, maar omdat dit die plek is waar al jou planne om te ontsnap tot ‘n einde kom. Waar jy nie langer jou lewe wegwens nie.


Blydskap is lag. Maar dis ook huil. En gaap en nies. En hoes en … en alles wat ons laat lug (asem) uitblaas. Want asem uitblaas is ‘n herinnering dat ons besig is om dood te gaan en blydskap het alles daarmee te doen dat ons almal gaan sterf en Jesus en Paulus en almal wat die moeite werd is, is nooit blyer as juis kort voor hulle die dood in die gesig staar nie.


Blydskap is gevaarlik, dit is ‘n rebellie teen die Sisteem wat sê “Ons sal vir jou sorg” want iets wat nie onder of buite omstandighede is nie, kan nie beheer word nie. Dit kan nie gekeer word nie. Daar kan nie ‘n einde aan gebring word nie. Dit kan ook nogal vreesaanjaend wees omdat dit mag lyk soos malligheid. Omdat daar geen forensiese bewyse daarvoor hoef te wees nie en omdat dit vir almal beskore is … “En die engel sê vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap vir al die mense.” (Luk. 2:10)


Blydskap het niks te doen met hoe iets lyk op die oog af lyk nie en alles met die oog wat daarna kyk. Jakobus 1 sê “Ag dit louter vreugde wanneer julle in allerhande versoekings val.” Wat?! “Consider it pure joy when you face trials of many kinds.” Die keerpunt lê in die kyk, in die aandag skenk; nie in die gebeurtenis self nie.


Dis die bly wat bly.

Want hoekom?

Want kyk …


‘n Ou wysgeër het eenmaal gesê die enigste relevante geestelike vraag is:


“Why aren’t you dancing with joy at this very moment?”


- Deur Frieda van den Heever

bottom of page