"God het uit sy groot genade vir ons nuwe lewe gegee en ’n lewende hoop gebring deur Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het." - 1 Pet 1:3
Die woord Advent beteken "Aankoms" of "Viering". Deur die eeue het die eerste volgelinge van Jesus hierdie vier weke voor Kersfees gebruik as 'n tyd van intense selfondersoek. Hierdie periode was byna soos Lent - 'n tydperk van diep refleksie, gebed en selfs onthouding. Die doel was om beter te verstaan wat die geboorte van Jesus werklik beteken, en hoe hierdie goddelike geboorte ook binne-in elke gelowige kan plaasvind.
Anders as vandag se kommersiële vierings, waar glinsterpapier en oppervlakkige sentiment soms in vermomde liefdadigheid die werklike boodskap verdring, was Advent 'n tyd van geestelike voorbereiding. Die gelowiges van destyds het hulleself gesien as nagwagte - waaksaam en stil, gereed vir die aankoms van die eerste lig van hoop. Soos Maria die goddelike lewe in haar skoot gedra het, so dra elke gelowige 'n ongebore moontlikheid binne-in homself.
Advent was nooit bloot 'n herdenking nie, maar 'n lewende, dinamiese geboorte-oomblik wat telkens nuut kan word.
Die Kersverhaal speel af teen die donker agtergrond van Romeinse besetting en die swaar las wat die Joodse mense in Israel moes dra. Om vir ‘n Jood te sê “Dinge gaan verander” was net so goed om te glo water gaan in wyn verander. Tussen die Ou en Nuwe Testament strek daar ‘n stilte van 400 jaar waar God nie gepraat het nie. Politieke onderdrukking, sosiale ongeregtigheid en die wrede bewind van ‘n psigotiese koning, Herodus, sou jou elke dag herinner dat jou kinders nie ‘n toekoms het nie.
Die tempel, die hart van Joodse geloof, was ook korrup. Romeine het beamptes aangestel of posisies aan die hoogste bieër verkoop. Priesters en amptenare het hulle plekke gekoop of deur omkopery verkry. ‘n Mens sou ook dink dat in sulke tye die Jode sou saamstaan, maar hulle was verdeeld oor hoe om hierdie krisis aan te pak. Fariseërs het geglo dat meer gebed, groter heiligheid, en die streng nakoming van die wet, en jou tiende, die pad na herstel was. Esseners het woestyn toe gevlug, stil geword, en hulle in afsondering tot God gewend om weer Sy teenwoordigheid te ervaar. Selote, ‘n militante groep, het opstandig geword en geglo dat gewapende weerstand die enigste uitweg was.
Na wie moet jy nou luister?
Die Kersverhaal nooi jou uit om te luister na die hoop wat reeds diep in jou hart skuil. Dit is ‘n fluistering van God se teenwoordigheid, ‘n hoop wat jy dalk nie altyd bewustelik dra nie, maar wat nooit verdwyn nie. Geloofsbelydenisse herinner ons om aan hoop vas te hou, selfs in tye van onsekerheid.
Maar daar is ‘n hoop wat dieper strek – die hoop wat ons vashou, selfs wanneer ons te swak voel om aan dit vas te klou.
"Hope is not a matter of waiting for things to get better. Hope is about working to make things better while trusting in a larger grace..."
"Hope is the trust that God will fulfill God’s promises to us in a way that leads us to true freedom. The optimist speaks about concrete changes in the future. The person of hope lives in the moment with the knowledge and trust that all of life is in good hands."
Henri Nouwen
- Theo Geyser