top of page

Toorwoorde: Dankie!



"If you're quiet enough, as still as that mountain, you can hear in your heart a silent ‘thank you.' The whole universe, if you listen in your heart - every blade of grass, each bird, each stone - it is all ‘thank you.' We are born into ‘thank you' ... every step of the way is ‘thank you.' “

Rafe (Love is stronger than death - Cynthia Bourgeault)

Daar was tien wat “Help!” geskree het (Luk. 17). Net een was verwonderd genoeg om om te draai en “Dankie!” te sê. Dis al wat hy sê. Geen geloofsbelydenis of Jesus-gebed nie. Net dankie. En dan is die woorde wat uit Jesus se mond kom nie die goedgemanierde, verwagte “Dis ’n plesier!” nie. Hy sê, “Jou geloof het jou gered.”

Is geloof dan nie hoofsaaklik ‘n stel reëls, opvattings, denkwyses of patroonmatige en metodistiese resepte, dogmas, rituele, selfs gebede nie? Moes hy nie eers vir Jesus as sy “persoonlike saligmaker” aangeneem het voor Jesus aan hom so ‘n gewigtige ding soos geloof kon toedig nie? Duidelik nie. Geloof, volgens hierdie teksgedeelte, is veel eerder ‘n manier van kyk, van sien, van uiting gee aan jou diepste versugting. Dis hier ‘n reaksie – in die Samaritaan se geval, dankbaarheid – op God. Kan geloof en dankbaarheid so onlosmaaklik verbind wees? In ’n kultuur waar erkentlikheid oorskadu word deur onvergenoegdheid en aanspraakmakerigheid (’n nuutskepping vir ’n oeroue gewoonte). Waar gier en hebsug dank verdring – en daarmee dikwels óók die vreugde.

‘n Priester het eendag gesê: “It’s not joy that makes us grateful. It’s gratitude that makes us joyful.” En dis nie wat hierdie lewe met sy advertensies en doelwitte ons leer nie. Veel eerder dat as ons eendag (nooit nou nie, dalk op jou oudag) gelukkig is, dán kan ons dankbaar wees. As jy dit of dat regkry of uiteindelik soveel geld verdien, dán kan jy dankbaar wees.

Maar tot dán, voel die lewe maar soos stank vir dank.

Dankbaarheid is nie net ‘n gevoel nie. Dis ‘n geloofsoefening. “To think” is “to thank”, as ons na die Duitse wortels van hierdie oënskynlik verskillende woorde kyk. En dan, na daaglikse oefening, word ons dalk fiks genoeg sodat dankbaarheid sellulêr én serebraal word.

Dán, wat nóú is, kan jy ’n dank-(selfs!)-vir-stank-lewe lei. Dan word elke tree van die pad “Dankie.” Dan is Hy elke oomblik van elke dag aan’t kom, aan’t kom, aan’t kom - selfs al vier ons vandag die dag wat Hy gegáán het.

“Prayer is sitting in the silence until it silences us, choosing gratitude until we are grateful, praising God until we ourselves are a constant act of praise.”

Richard Rohr

bottom of page