The worst mistake that you can make is to think that you are alive when really you're asleep in life's waiting room. – Guy Forsyth, Waking Life
As dit kom by drome is die goue reël dat dit baie interessanter is vir die een wat slaap as iemand wat die volgende oggend daarna moet luister. Ek het al dikwels ’n droom gehad wat baie betekenisvol gevoel het tot ek dit borrelend probeer oorvertel net om agter te kom dis eintlik vervelig. Josef het dit ook oorgekom, behalwe dat sy droom eerder ontstellend was as vervelig. Soveel so dat sy broers wou ontslae raak van hom.
Dit beteken nie Josef se droom was ongeldig of sinneloos nie. Daar was belangrike waarheid in sy droom, maar om daardie waarheid te versoen met ’n wêreld wat nog nie wakker is daarvoor nie is die moeilikheid. Hy’t sy kleurvolle gewaad aangetrek in ’n landskap van grys en net eenvoudig nie ingepas nie. Toe spoeg daai landskap hom sommer uit. Ek het begrip vir Josef se broers se afguns, maar terselfdertyd ook vir sy behoefte om sy droom te deel. Die digter Danusha Laméris skryf: […] I heard it,
the song inside the song, and I knew then
that this was not the hymn of promise
but the body’s bright wailing against its limits.
A bird caught in a cathedral—the way it tries
to escape by throwing itself, again and again,
against the stained glass.
So kan dit ook wees met ons drome. Hulle gooi hulle self teen die glas van ons katedrale om vry te kom. Ten spyte daarvan dat Josef eers ’n paar ompaaie geloop het, kan ons baie in sy storie wysword oor hoe om ons drome te laat leef saam met ons werklikheid. Ons drome moet ook vir ons wys waarheen om te gaan, wat die volgende treë is wat ons nog nie so duidelik in die daglig kan sien nie. Ons nagtelike drome kan ons juis ook wakker maak wanneer ons onwetend in ons slaap dwaal. Sondag kyk ons hoe Josef se storie ons kan help om wakker te word vir ons drome.
- Deur Deon Meiring