Vandag wil ek mense in die oë kyk of oor afstand hulle teenwoordigheid ervaar met ‘n foon teen die oor en sê “Geseënde Kersfees”. Nie net “Merry Christmas” nie. ‘n Seën lê anderkant die land van hallo en koebaai en geluk en voorspoed. ‘n Seën vra ‘n oomblik van stilstand, ‘n pouse, ‘n drumpel betree en oorsteek waar Genade die toon aangee – ‘n oomblik waar die Ewigheid kloktyd binnedring en die gewone vul met die heilige.
En dis presies wat ons vandag vier. Die dag, ongeag die datum, waarop die Ewigheid ons horlosietyd kom omkeer en transformeer het. Die dag waarop God die hemel (by gebrek aan ‘n beter woord) na ons huise – na jou hart – gebring het. Die dag waarop die Visarendjie van God in ons benoude vlees geval het (N.P. van Wyk Louw). Die dag waarop Christus die eerste keer die drumpel oorgesteek het en vir ons kom wys het dat dit goed is om spore op hierdie aarde te gee. Dat ons nie net in vrees en bewing hoef te sit en wag vir die dag wat Hy die tweede keer die drumpel gaan oorsteek en ons kom “wegraap en bevry” van hierdie pynlike aardse bestaan nie, maar dat ons mag lewe en liefhê en verloor en val en opstaan en nog treë gee en die drumpels in ons lewens as heilige oomblikke beskou.
Die afgelope tyd het die woord “spoorsny” groot inslag gevind in my gedagtes en gedoentes. Die ou Louis L’Amour-boekies, wat hy “frontier stories” (grensstories genoem het, het gepraat van “cutting for sign”. Die San, op eie bodem, was natuurlik meesters hierin. Dis ‘n liggaamlike ding – om jou sintuie in te span, veral jou neus – hierdie instink, maar dis ook ‘n geestelike ding – die sny, die tekens, die soeke, die kuns van onderskeiding. Ek het so tydjie terug geskryf oor spore en monumente en het William Faulkner aangehaal:
A monument only says, ‘At least I got this far,’ while a footprint says, ‘This is where I was when I moved again.’
Daar is ‘n psalm wat Eugene Peterson wonderlik vertaal het:
And how blessed all those in whom you live,
whose lives become roads you travel
Psalm 84:5 MSG
Die Afrikaanse vertaling sien ietwat anders daarna uit, maar is ewe mooi:
Gelukkig is mense wie se krag in U lê! Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes.
Ps. 84:3,6 2020-Vertaling
Ons kan vandag terugkyk op die jaar wat verby is en net die dollewarie raaksien, die rekeninge wat betaal is (of nie betaal kon word nie), die verlies wat ervaar is, of dalk die suksesse wat behaal is, die lere wat geklim is, die myle wat ons afgelê het en wat gaan sit het in ons liggame en senuweestelsels. Of ons kan terugkyk en ons lewens beskou as die paaie waarop God gereis het. Waar lê God se spore in jou lewe? In die jaar wat verby is? Watter pelgrimstogte leef (en sal bly voortleef) in jou gedagtes as die 3 in 2023 oor ‘n week 4 word? Watter stof sal tot nadenke bly as jy die oues van jou voete afskud en ‘n nuwe drumpel oorsteek oor sewe dae?
Dis die ander ding wat ek die afgelope tyd bepeins en beleef het: drumpels. Die betekenis van drumpels in ons lewens. Die woord “threshold” het ‘n hele klomp moontlike oorspronge: “thresh” is ‘n ou woord vir “trap” en “hold” kan natuurlik ‘n verskeidenheid betekenisse inhou. Wat egter vir my interessant is, is dat die outydse boerderymetode van dors (thresh) altyd na vore tree. Om die koring van die kaf te skei. Om die betekenisvolle/belangrike/waardevolle goed te kan identifiseer en die onbelangrikes uit te gooi of te ignoreer.
Die koring verwys hier na die graankorrels (wheat) en die kaf is die blare en stokkies van die koringplant (chaff). Vroeërjare is die koring van die kaf geskei deur die afgesnyde, droë koring op 'n harde vloer te gooi en dan te trap of te slaan sodat die koringkorrels los kan kom van die peule (die woord daarvoor is "dors"; baie boere het 'n spesiale dorsvloer gehad). Die getrapte plantmateriaal is dan met 'n vurk of mandjie ('n "wan") in die lug gegooi om die kaf (die oorbodige plantmateriaal) van die koring te skei. Dié deel van die proses het bekend gestaan as "wan". Die swaar koringkorrels het grond toe geval en die ligter blare en stokke is deur die wind weggewaai. Op dié manier het 'n mens dan net met die belangrike produk oorgebly.
Die drumpels in ons lewe dien hierdie doel. Elke keer as jy ‘n drumpel oorsteek is dit ‘n geleentheid om die uitgediende agter te laat en die uitnodiging (van die “beckoning horizon”, soos David Whyte dit verwoord) te omhels. As ek werkswinkels aanbied vir drama-onderwysers fokus ek altyd op die drumpels van die klaskamers. Hoe help jy ‘n kind om die drumpel oor te steek van die rekeningkundeklas na die dramaklas – van die kop na die liggaam, van berekening na ervaring, van dink na speel, van kloktyd na Godspoed? Ek vergeet hierdie drumpels in my eie lewe, met my eie kinders. As hulle by die huis kom van die skool af, peper ek hulle gewoonlik met nog vrae: “Hoe was jou dag? Wat het jy geleer? Met wie het jy gespeel?” Hoe sou dit lyk om die drumpel wat hulle oorsteek van die skool af na hulle huis toe as heilig te beskou? Watter rituele kan ons instel om hierdie oorgang te merk en sagkens oor te steek? En so kan dit wees elke keer as jy oor die drumpel van ‘n vertrek loop. Christine Valters Paintner herinner ons dat drumpels, fisiese plekke van deurgang, alomteenwoordig is in ons daaglikse lewens, en dat ons hulle kan gebruik vir ons geestelike bewuswording:
In the days ahead, become aware of all the times you cross a threshold. This might be moving from one space to another—entering through a doorway, transitioning from one activity to the next, or tending the thresholds of the day, especially at dawn and dusk. Pause at each and offer a short blessing, simply becoming aware of the possibilities alive in the moment. See if the threshold helps call forth the thinness of this moment, making the voice of the divine more accessible.
Heinrich Seuse het gesê dat die siel van die mens in die hemel ‘n lied sal sing wat mooier klink as dié van alle engele. Die rede wat hy aangevoer het klink te vergesog, te gewoon: engele het nie gelééf nie. Die geestelike reis hou vir ons die gevaar in dat ons wil sing soos engele en die eindigheid en die pyn van menswees wil vergeet; wil sweef (sonder spore) en nie wil leef (drumpels oorsteek) nie. En dit is juis wat Jesus vir ons wou kom wys, leer, lééf, toe hy die drumpel betree en oorgesteek het: dat die lewe – die geleefde lewe – goed is. Lig uit Lig, uit die Vader se ryk, word uit Liefde aan mense gelyk. Loof die Hemelse kind! Loof die Seun van die mens.
The inner history of a day
No one knew the name of this day;
Born quietly from deepest night,
It hid its face in light,
Demanded nothing for itself,
Opened out to offer each of us
A field of brightness that traveled ahead,
Providing in time, ground to hold our footsteps
And the light of thought to show the way.
The mind of the day draws no attention;
It dwells within the silence with elegance
To create a space for all our words,
Drawing us to listen inward and outward.
We seldom notice how each day is a holy place
Where the eucharist of the ordinary happens,
Transforming our broken fragments
Into an eternal continuity that keeps us.
Somewhere in us a dignity presides
That is more gracious than the smallness
That fuels us with fear and force,
A dignity that trusts the form a day takes.
So at the end of this day, we give thanks
For being betrothed to the unknown
And for the secret work
Through which the mind of the day
And wisdom of the soul become one.
John O’ Donohue