top of page

Sin sonder ’n volpunt


In John Green se boek, Looking for Alaska, is een van die karakters behep met mense se laaste woorde. Sommige bekendes se laaste woorde is diepsinnig, soos Henry Ward Beecher se: “Now comes the mystery”. Ander is snaaks – soos die akteur W.C. Fields wat besig was om Bybel te lees op sy sterfbed. Toe iemand vra hoekom, antwoord hy: “I’m looking for loopholes.” En sommiges is dalk net te alledaags om te onthou.

Met watter laaste woorde van Jesus het die evangelieskrywers ons gelos? Elke evangelie sluit met ander woorde af. Iets wat my opval van almal is dat dit nie noodwendig die woorde van Jesus is wat ek die meeste onthou of hoor nie. Groot figure se laaste woorde word dikwels hanteer as netjiese, betekenisvolle afsluitings soos die volpunt aan die einde van ’n sin. Jesus se laaste woorde in die evangelies is meer dubbelsinning. Nie so finaal soos wat ek dalk sou hoop nie. Ek sou nogal daarvan hou om na ’n laaste sin te kan wys en te sê: Hier is die finale sê, die laaste woord. Nou weet ons. In teenstelling daarmee weerspieël die evangelies ’n versigtigheid om alles in ’n laaste blokkie sement te giet. Wys dit nie tog iets van hoe die lewe ook maar is nie? Om te lewe is om nog nie ’n volpunt agter alles te kan maak nie. Mense wat al noue ontkomings met selfdood gehad het gebruik dikwels die beeld van ’n kommapunt om te onthou dat die sin nog nie voltooid is nie. Dan is die los drade van ons onvoltooide sinne dalk nie so sinneloos nie. Dis tekens van lewe.


Ek soek gedurig na maniere om alles wat uitrafel net so bietjie beter vas te knoop. Sondag kyk ons hoe Jesus se laaste woorde ons herinner om nie net te klou aan dit wat ons met sekerheid kan bereik of afhandel nie. Om onsself oop te stel moet ons ook leer om te laat gaan.


- Deur Deon Meiring

bottom of page