top of page

Hoe Lees ek die Bybel?

Daar is geen oorspronklike manuskrip van die Bybel nie. Daar is gedeeltes wat verskil en mekaar weerspreek. Daar is boeke wat nog nie ontdek is nie. Konsensus oor wat in die Bybel moet wees is ook ‘n lang debat. Die Bybel is ook ‘n versameling literêre werke wat beteken dat ons ook nie nuwe wetenskaplike inligting oor menslike taal en literêre produkte kan ignoreer nie. Hierdie is maar enkele redes wat iets van die kompleksiteit van die Bybel ter tafel lê.

Van die vroeëre tradisies het gemeen dat gewone mense nie die Bybel moet lees nie, aangesien dit gevaarlik is in die hande van die ego. Indien jy eers kon leer bid, was die Bybel veilig in die hande van jou hart. Die Reformasie het egter die bekende begrip sola Scriptura (alleen Skrif) teenoor die Roomse tradisies bely. Die hoop was dat almal eenstemmigheid oor die Bybel sou kon kry en ook reg glo. Solo Scriptura kon ook nie daarin slaag om die verwarring, vervreemding en uitsluiting wat soms gepaard gaan met Bybellees te kniehalter nie. Volgens die Sentrum vir die Studie van Globale Christendom (CSGC), is daar ongeveer 41,000 Christelike denominasies in die wêreld vandag. Die ironie, hul gebruik almal dieselfde Bybel om hulle dogma en standpunte te regverdig.


Dit beteken nie dat daar nie waarheid is nie, maar bring ‘n belangriker vraag na vore wat ons soms ignoreer: Hoe het ek tot my waarheid gekom?


Ont-dek

“Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Johannes 5:31-47.

God nooi ons uit om deur die Skrif Hom te ontmoet. Die gesag van die Bybel lê nie soseer in die letter nie, maar in die persoon van Jesus Christus. As wat God in Jesus Christus geïnkarneer het die “Skrifbeginsel” is, dan is Jesus, en nie die Skrif nie, die openbaring van God ... Die Christelike geloof is nie ’n godsdiens van ’n boek nie, maar van ’n persoon, die opgestane Heer. Daarom word daar dan ook verwys na die woord wat lewend is.


“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Heb 4:12)


“So Jesus said to the twelve, ‘Do you want to go away as well?’ Simon Peter answered him, ‘Lord, to whom shall we go? You have the words of eternal life” ( John 6:67-68)



Ont-leer


Die meeste van ons het grootgeword met ‘n letterlike en magiese verstaan van die Bybel. Ek onthou as kind kon ek nooit die kers op die Bybel neersit nie want dit was heilig. Die manier hoe mense nog die stelling gebruik: “Dit staan in die Bybel…” spreek van hierdie voorveronderstelling.

Wat ek glo van die Bybel is hoe ek die Bybel gaan hanteer. As dit vir jou ‘n Huisgenoot is, sal jy dit ook hanteer soos die Huisgenoot. Die vraag is dan wat presies glo jy van die Bybel?


Daar word verwys in die teologie na die verskillende inspirasieteorieë,

  • Is dit die Woord van God ?

  • Word dit die Woord van God ?

  • Bevat dit die Woord van God ?

  • Of is dit ‘n boek wat bloot geïnspireer is soos enige ander boek ?


Die vraag sal dan wees: Begin die inspirasie by die mondelinge oorlewering ? Begin dit by die eerste op skrif stelling ? Sluit inspirasie die uitbreidings, byvoegings, weglatings en rangskikking van stof in ? Was die afskrywers of kopieïste van tekste ook geïnspireer ? Indien nie, waar en hoe stel ons die afsnypunt vir inspirasie vas ? As die Heilige Gees slegs verantwoordelik is vir die inspirasie van die Hebreeuse kanon, of ook van die Rooms-Katolieke en Protestantse kanons ? Indien net die Protestantse kanon as geïnspireerd beskou word, is ander kanons dus nie geïnspireerd nie ? Die punt is duidelik: Selfs om te sê die Bybel is geïnspireerd is ‘n komplekse vraagstuk. Binne die teologie word daar gepraat van die kanon geskiedenis (kanon beteken “meetstok” en verwys na die boeke van die Bybel wat as “maatstaf” vir geloof en lewe geld.)


Die inspirasie van die Bybel deur die Gees kan nie bewys word nie en ook nie bevredigend in ‘n teorie deurgrond, verduidelik of omskryf word nie – ons kan eintlik maar net bely dat ons glo dat die Bybel – geïnspireer deur die Gees - die Woord van God is, omdat ons die uitwerking daarvan binne ons verhouding met Christus kan ervaar. My waarheid is dan eerder relasioneel eerder as wat dit bloot rasioneel is.



Ont-moet


In hierdie lesing wil ek graag op een belangrike punt van Bybellees fokus, en dit sluit aan by die eerste lesing oor kontemplasie. By InVia probeer ons die geestelike reis verstaan binne die verwysingsraamwerk van die ware en vals self (of Bybelse terme soos ou en nuwe mens / vlees en gees). Dink maar aan Paulus se woorde: “Die vlees bedink vlees en lei tot die dood, en die gees bedink gees wat lei tot die lewe…” Rom 8: 5-6.


C S Lewis beskryf die problematiek in gebed as volg:

The prayer that precedes all prayers is may the real me meet the real you. May it be the real I who speaks. May it be the real Thou that I speak to.”

Die vraag is met ander woorde nie of jy bid nie, maar eerder wie bid in jou ? Vlees of gees ? Of om net ander woorde te gebruik, die ware of die vals self ?


Ons ontmoet God buite die kaders van die ego of die vals self. Daar was ‘n sterk oortuiging by die ou kerkvaders dat jy eers moet leer bid voordat jy Bybel kan lees. Bloot omdat hulle geglo het dat dit die natuurlike aard van die mens is om te beheer en indien die Bybel so aangewend word, dit ‘n bose uitwerking kan hê.


Indien ek glo dat God deur die Skrif aan die woord kom en dat elke ontmoeting die diepste ervaring van liefde is, beteken dit dat ek God as lewende persoon ontmoet binne ‘n liefdevolle ervaring.

Richard Rohr het ‘n dagstukkie geskryf “Interpreting the Scriptures with Jesus” waar hy die volgende voorstel:


  • Vra vir die leiding van die Heilige Gees. Die hoofrede is om die behoefte van die ego te desentreer. Bid lank genoeg totdat jy innerlike vryheid en losmaking ervaar.

  • Wanneer daar genoegsame intellektuele en emosionele vryheid is, beweeg na ‘n losmaking en afstanddoening van jou wil, doelwitte, behoeftes en begeertes.

  • Luister na ‘n stem dieper as jou eie. Die stem van jou ego sal jy gou hoor (altyd reg, verloor nooit, wil vergeld, weet beter, ens.), teenoor God se stem wat jou lei in liefde en ‘n dieper omgee.

  • Interpretasie moet altyd lei na ‘n ervaring van ons ware self in God, wat die vrug van die Heilige Gees is (Gal 5:22-23). Ons steun op ‘n groter interpretasie van die Heilige Gees uit ‘n dieper bron van wysheid.

  • Kom daar enige negatiewe emosies soos gevoelens van meerderwaardigheid, selfvergelding, dualistiese sekerheid, uitsluiting ens. uit jou interpretasies ? Dan is dit nie ‘n Christosentriese hemeneutiese (hoe jy die Bybel interpreteer) verstaan nie, maar nog steeds die ego wat die leiding probeer neem.

  • ‘n Ander manier om hierdie versoeking op te som, is opgesluit in die versoeking van Jesus in die woestyn (Matt 4:1-11): Mag, sekuriteit en aanvaarding!






bottom of page