top of page

Die heil in humor

ree

Daar is ‘n Apache mite van die Skepper wat aan sy skepsels die vermoë gee om te praat, te hardloop en te kyk. Maar Hy was nie tevrede tot Hy hulle ook die vermoë gegee het om te lag nie. Eers toe het die Skepper gesê: “Nou’s julle reg vir die lewe.”


Een van die mees transformerende boeke wat ek nog ooit gelees het, is Clowning in Rome deur Henri Nouwen. Ek het dit die eerste keer gelees op ‘n bus op die N1 tussen Stellenbosch en Messina op pad Mosambiek toe in 1995 en ek hou aan terugkeer na hierdie dun boekie. Veral as ek myself te ernstig begin opneem en swaar raak. 


“And slowly, I realized that in the great circus of Rome, full of lion tamers and trapeze artists whose dazzling feats claim our attention, the real and true story was told by the clowns.


Clowns are not in the centre of the events. They appear between the great acts, fumble and fall, and make us smile again after the tensions created by the heroes we came to admire. The clowns don’t have it all together, they do not succeed in what they try to do, they are awkward, out of balance, and left-handed, but … they are on our side. We respond to them not with admiration but with sympathy, not with amazement but with understanding, not with tension but with a smile. Of the virtuosi we say, “How can they do it?” Of the clowns we say, “They are like us.” The clowns remind us with a tear and a smile that we share the same human weaknesses.”


Henri Nouwen – Clowning in Rome



Dit laat my dink aan iets wat W.H. Auden gesê en hoe ek gelag het toe ek dit die eerste keer gehoor het (nie ha-ha lag nie; herkenlag):


"Among those whom I like or admire, I can find no common denominator, but among those whom I love, I can; all of them make me laugh."

W. H. Auden



Ek dink nou al geruime tyd oor hierdie geesgom. Lag. Humor. Ek weet by InVia skram ons nie weg van die moeilike vrae nie en ons glo dat ons as gemeenskap eerder vroedvrou is as epiduraal en ons verduidelik nie pyn weg nie en ons vermy nie die donker nag van die siel nie, maar dit beteken nie ons hoef tragies te wees nie. Dit beteken juis ons omhels ook die vreugde, die lighartigheid, die gladwatertyd, want “mens kan immers ook met blydskap heilig word” as ons Sheila Cussons op haar woord kan neem. Iemand het, so terloops, haar werk so beskryf: “Haar poësie is ’n ernstige soort gesprek met ’n glimlag by – ’n vrolike erns.”



Met u verlof


Daar is 'n gladwatertyd,

'n tyd van somerse lig,

wanneer alles gesond en maklik is

en die siel met geesdrif glo,


en wellende spoortjies ren

oor die wye, vaste, spoelblink strand

van u goedertierenheid.


Verheug U dan in my geesdrif

en spaar my verder kennis, Heer,

van die swalpseë en donkertes

van u afwesigheid – 


Al my gees en al my drif is in elk

geval Uwe,

het ontspring in U, wil aan U

behoort.


Gun my dus die vastigheid

van daardie prettige strand:

'n mens kan immers ook met blydskap

heilig word.


Sheila Cussons



Erns en plegtigheid is nie noodwendig heilig of gewyd nie. Niks spel onheil soos ‘n “kill-joy” nie. Ek kan nie help om altyd te herroep hoe Desmond Tutu en die Dalai Lama mekaar so geniet en so lekker sit en saamgiggel nie. Lag, soos huil en sing en in wese dan: asemhaal (want dis die asem en die effe onbeheersdheid van asem wat met lag en huil gepaard gaan) het nie ‘n godsdiens nie. Om saam te sing, te huil en te lag is heilig. Dis ‘n liggaamlike herinnering van medemenslikheid en medesterflikheid.



Wat is die verband tussen heil(igheid) en humor?



In kort: dit help ons om die ego te sien en te ontmasker – om te kan lag vir jouself, om tekortkominge of onvolmaakthede en quirks te omhels en die behoefte om 'n onkreukbare beeld uit te straal te laat gaan. Om weerloosheid te omhels. Om vreugde in die gewone te vind. Humor is nie net 'n lighartige afleiding nie; dis 'n geestelike oefening wat kan lei tot groter selfbewustheid, medelye en 'n dieper verhouding met God. Ek hou so baie van die Afrikaans vir LOL, wat in Whatsapp-taal sommer net LMK is. Lag my kla(ar). Ek lag vir myself klaar dat ek weer nuut kan begin en ek lag my kla uit. 



“Many native traditions held clowns and tricksters as essential to any contact with the sacred. People could not pray until they had laughed, because laughter opens and frees from rigid preconception. Humans had to have tricksters within the most sacred ceremonies for fear that they forget the sacred comes through upset, reversal, surprise. The trickster in most native traditions is essential to creation, to birth.”


Byrd Gibbens



En die Bybel? Ons ken die skrifte in Spreuke: 

'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig. Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.



'n Vrolike hart bevorder die genesing,

maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.



Daar is ook heelwat skrifgedeeltes wat vir my, persoonlik, so snaaks is. Spreuke 4 sê, “Die begin van wysheid is dit: (afwagting, tel jou pen op, neem notas, hier kom ‘n lysie, ‘n akroniem ongetwyfeld, mic drop moment op die minste … en dan:) Kry wysheid. LMK, ek love dit. Of die ontmoeting tussen Jesus en die Nasarener in Joh. 1:44-51. Jesus se sin vir humor is dalk effe versteek, maar so teenwoordig. Die ontmoeting is nie net die vervulling van ‘n Oud-Testamentiese profesie nie; dis vir my skreeusnaaks. Om nie eens te praat van Job 38 en 39 nie – ‘n skrifgedeelte wat my tegelykertyd met verwondering vul en laat giggel. Die volstruis … en die geluid wat daai perd maak, “Heag!” … op ‘n goeie dag wil ek kniel van kleingeit én lê soos ek lag.


Maar is dit genoeg om tot die slotsom te kom dat God ‘n sin vir humor het?



Ronald Rolheiser skryf, “If we genuinely trust scripture, our own experience, and our own sanity, we can only conclude that God has a sense of humour, and a robust and sneaky one at that.  Where’s the evidence?”  



En dan gaan hy verder deur te vertel van ‘n merkwaardige klein boekie met die titel A Rumor of Angels waarin die skrywer, Peter Berger, anders as Aquinas en Descartes en ‘n hele klomp ander vername filosowe, nie probeer het om God se bestaan te “bewys” deur logika en argumente nie. Hy het bloot ‘n paar eenvoudige alledaagse menslike ervarings bestudeer en gewys na wat weggesteek is agter die mure van hierdie ervarings. Wanneer ‘n ma, byvoorbeeld, haar bang kindjie kalmeer en tot ruste bring in die middel van die nag, terwyl sy die kind verseker dat daar niks is om voor bang te wees nie, doen sy dit in goeie geloof omdat sy op ‘n diep vlak aanvoel dat alles uiteindelik wel sal wees … “All shall be well” en onbewustelik is sy besig om ‘n geloofsbelydenis af te lê.



Een van die ervarings wat Berger uitlig is dié van humor. Sy tesis is as volg: ongeag hoe onderdrukkend en haglik die omstandighede is, mense het altyd die kapasiteit om lig te werp daarop, om lig te maak daarvan, om dit te beskou deur die prisma van ironie en humor. Ons lees hoe die geskerts, ironie en soms bitter humor mense aan die gang gehou het in konsentrasiekampe. Die feit dat mense dit kan doen, en dóén, wys dat daar altyd iets transendentaal in ons is – iets waaroor geen menslike onderdrukking krag het nie. Ons sin vir ironie en humor manifesteer daardie iets in ons siel wat ons laat uitstyg bo dit enigiets wat ons kan beset.



Rolheiser skryf dan, “And this can have its source in only one place, inside of the Creator who made us. Thus, not only must God have a sense of humour, humour must be something inherent within the nature of God, since humour is good and God is the author of all that is good.”



Toe die klassieke Griekse filosowe liefde gedefinieer het, het hulle ‘n paar komponente uitgelig: Eros – verliefdheid en aantrekkingskrag; Mania – obsessie; Storge – omgee; Philia – vriendskap; Agape – altruïsme; en Asteismos – speelsheid en ‘n geskerts. Wanneer ons liefde definieer, vergeet ons dikwels van Asteismos en ons betaal die prys daarvoor. Humor is deel van die grease wat ons in staat stel om in verhoudings te bly staan wanneer oorbekendheid, seer, teleurstelling en verveling selfs die mees liefdevolle verhoudings betree. En omdat dit ‘n intrinsieke deel van liefde is, is dit ‘n deel van God.


Dit was en is steeds een van die mooiste geluide om my pa of my ma te hoor lag. Ek weet al met wie hulle op die foon is as ek die omvang van die lag hoor. Dit bly vir my ook een van die lekkerste voorregte (en dis inderdaad ‘n voorreg) om my ouers elke oggend saam te hoor lag. Hoe hulle na amper vyftig jaar van getroud wees nog skerts en mekaar terg. Om jou ouer te sien lag, is vormend. Die huil ook, natuurlik. En wanneer jou ouer of vriendin of lewensmaat of kind mét jou lag – daai lag wat uitbasuin, “Ek geniet jou” – daar’s min dinge wat daarby kom.



Tog hartseer dat ons God nie baie so voorstel nie. Die Christendom, Judaïsme en Islam het dit in gemeen. Ons prentjies van God is manlik, selibaat, plegtig … en sonder humor. As jy ‘n gesig moes saamstel wat God vir jou verteenwoordig, wie s’n sal jy insluit in jou prentjie? Die lang gesig van die sagte, blonde Jesus met die lam op sy skouer wat ons sien in heilige prentjies? Beelde van ‘n stil, teruggetrokke, trek-haar-deur-‘n ring Maria wat ons sien in standbeelde en ikone? Die gesig van Moeder Teresa? Van Henri Nouwen? Trevor Hudson? Jou pa of jou ma? Sal jy miskien die gesig van jou gunsteling komediant wil deel maak daarvan? Jerry Seinfeld? Robin Williams? Tolla? PG? Jan Spies? Jonathan van Radio Raps? Die ondeunde gesig van jou kleurvolle oom wat ‘n grappie vertel? Alle grappies op ‘n stokkie. God is “anderkant” gesigte. Maar verbeel jou gou ‘n ewigheid in die hemel sonder lag of speel. Kan jy ‘n God voorstel wat volmaakte liefde is, maar saam met wie jy te bang is om te skerts of grappies te maak? Is die laaste lag wat jy ooit gaan lag die een vóór jou dood? 



Mag ek ‘n kwesbare oomblik met jou deel? Ek was in my vroeë twintigs, ek het een Sondagoggend wakker geword (in ‘n tyd toe kinders en kerk in die oggend nog glad nie op die agenda was nie) met ‘n kreun – soos dié na ‘n laatnag se kuier – en ek het gehoor hoe God lag. Natuurlik in my verbeelding, in my geestesoor … maar ek sal nooit die klank daarvan kan onthoor nie. Dit was so gerusstellende, ek-sien-jou, ek-voel-jou-pyn en ook ‘n bietjie van-lekker-lag-kom-lekker-huil en “Oeee, child!” … maar God was so dáár, so by my, so deel van my dat my kreun ook vinnig verander het in ‘n lag. As God anders geklink of gelyk het, sou ek dalk baie meer dronk geword het daarna. Uit pure rebelsheid. Of ek sou ophou drink het. Uit vrees. Ek wou nie. Nie ophou drink nie. Nie weer dronk word nie. 



“My Lord told me a joke.

And seeing Him laugh has done more for me

Than any scripture I will ever read.”

Meister Eckhart



Ek het een keer ‘n verbeeldingsoefening met ‘n skrifgedeelte gedoen as deel van ‘n opdrag tydens ‘n kursus by die Centre of Christian Spirituality. Dit was ‘n lang oefening en die uitnodiging was om jouself in die storie, in die gelykenis of waar Jesus ook al was, te sien. Wie is jy in die storie? Waar is Jesus? Hoe klink Hy? Wat sê hy tussen die lyne? Hoe is sy liggaamstaal? Dit was geskoei op Markus 7 en ek was ‘n klein dogtertjie wat hierdie wonderwerk aanskou het. Ek het amper gelyk soos ‘n dogtertjiekabouter uit Dawie die Kabouter – soos Lisa, maar net ‘n dogtertjie. Ek het daar tussen my maatjies gesit terwyl Jesus hierdie doofstom man gesond maak en almal het hulle asems opgehou en was so stil – die atmosfeer was gelaai – en toe begin ‘n grashalm my voet kielie en ek kan nie roer nie, want dis tjoepstil en ek bly sit en dit bly kielie tot ek in een van daai onbeheersde onvanpaste kerkgiggels uitbars en almal my aanstaar … almal behalwe Jesus. Hy het my gesíén en saam met my begin lag. Ons het later op die grond gelê en lag. Ons het ons ge-LMK en … en om Hom te sien lag binne-in die Woord het meer vir my beteken as die woord.


Jesus  …    U wat jy word

     U wat vir my lag

     en met my lag

eers stil en onder die ooglede 

sodat die gelaaide grootmensgevoel van 

heiligheid, heling, hallelujas 

nie versteur word nie

maar dan al hoe harder

gou uit die maag

asof ek en U begin balke saag

 – maar wakker, o so wakker – 

skielik onbeheersd

ons wat langs mekaar krul-lê 

ai, dat ‘n grashalm wat ‘n voet kielie 

nou so aardskuddende effek kon hê – 

dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie


Mark. 7:31-37



Frieda van den Heever

bottom of page