top of page

Toorwoorde: Nee!



"Ja-nee, hier kom groot moeilikheid."

"Ja-nee, dit sal seker nooit gebeur nie."

"Ja-nee, nou weet ek regtig nie."

(Of ons gunsteling…)

"Ja-nee … so loop hy … wat kan ’n mens nou sê …"

So ’n unieke Afrikaanse woord. So deel van die volksmond. En so tekenend van die mens se dilemma om ja óf nee te sê. Jeeeee…. Naaaa …. Ja-nee.

Tog was Jesus geensins dubbelsinnig hieroor nie: “Laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” (Matt. 5:37) Hy het dit ook baie duidelik gestel dat niemand twee meesters gelyk kan dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. En ek is seker jy sal uit eie lewenservaring weet dat dit nie net waar is omdat Jesus dit gesê het nie, maar dat Hy dit gesê het juis omdat dit waar is.

Hoekom is veral nee-sê so moeilik?

Ek wil waag om te sê dat as jy nie kan NEE sê nie, weet jy nog nie waarvoor in die lewe jy JA sê nie.

Die dag as jy trou beloof aan iemand vir die res van jou lewe, sê jy JA. Een groot JA. Maar jy sê ook NEE vir biljoene ander. Al jou NEE’s kom uit een JA.

A thousand half-loves must be forsaken

to take one whole heart home.

Rumi

As jy JA sê (en bedoel!) vir meer tyd saam met jou gesin, gaan jy ’n hele paar noodsaaklike NEE’s moet sê vir ander dinge wat jou tyd kan opneem.

As jy JA sê (en bedoel!) vir ’n leefstyl wat meer volhoubaar, minder “cluttered” en sagter op die aarde is, gaan jy daagliks moet NEE sê vir ’n hele paar advertensies en gretige verkoopsmense.

The art of knowing is knowing what to ignore.

Rumi

As jy JA sê vir vlieg, gaan jy moet NEE sê vir die dinge, mense, ideale en illusies wat jou vere wil uitpluk.

When you have indulged a lust, your wing drops off; you become lame,

abandoned by a fantasy…

People fancy they are enjoying themselves, but they are really tearing out

their wings for the sake of an illusion.

Rumi

As jy JA sê vir ’n brandende hart, gaan jy moet NEE sê vir uitbranding en alles wat jou op die randjie daarvan kan laat eindig.

Om NEE te kan sê vanuit oortuigings groter as “nice-wees”, wellus of die vlietendheid van ’n plesierige oomblik, is ’n kuns. ’n Positiewe kuns. ’n Kuns wat meer respek sal inpalm as halwe ja’s wat jy nie heelhartig kan uiter nie.

’n Grens (as daar nie manne op is wat oorlog maak nie) kan ’n noodsaaklike wonderwerk wees as dit mense beskerm - ook teen hulleself! -, vryheid as visie voorveronderstel, openhartige verhoudings tot doel het en mense kweek wat weer waar hulle staan. Dit mag dalk nie altyd onmiddellik so lyk nie, maar ek het nog nooit iemand teëgekom wat nie hou daarvan om te weet waar hy/sy staan nie. Almal wil weet waar hulle staan. Archimedes het al toentertyd gesê, “Give me a place to stand and a lever long enough and I will move the world.”

Jou NEE’s is jou JA se grootste, mees onderskatte diensknegte.

bottom of page