top of page

Op Pad: Gebed



Die teoloog N.T. Wright kom tot die gevolgtrekking dat meeste van ons Paulus se grootste tema heeltemal mis. Hy som dit so op:

Die nuwe tempel van God is die mens.

Na opregte ommeswaai (of bekering) is God nie bloot iewers-doer-ver nie: jy is in God en God is in jou.

Al Paulus se groot temas is in saadvorm vasgevang in sy Damaskus-ervaring. Hy het sy Heiland teëgekom op pad en kon nooit weer dieselfde kyk na homself, ander mense en na die God wat hy gedink het hy ken nie. Hy kon nie weer ont-sien wat hy daar gesien het nie. Miskien vandaar die driedagblindheid, wie weet…

Ons gesels Sondag oor gebed, ’n woord wat swaardra aan mensbagasie. Die plek waar Paulus sy eie verborgenheid in Christus kon vind, die plek waar ons onsself kan blootlê, waar al die “selwe” waarmee ons daagliks worstel in die Groot Self kan rus. Die stem wat Paulus hoor nadat hy op die grond neergeval het, sê vir hom: “Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” So ferm. So sag. So vol begrip vir die ongeneeslike kondisie van menswees. Juis omdat Hy wéét.

’n Wyse vrou leer my: Gebed is om naak voor God te wees. En om te wéét ons is altyd naak voor God. Dus: om te wees wie ons reeds is. Om te glo God is nie van porselein gemaak nie. Hy gaan nie breek as ons skree, huil, vloek of teen sy bors slaan nie. Slaan teen sy bors. Rus teen sy bors. Huil teen sy bors. Beproef sy bors.

Niks kan jou skei van die liefde van God nie, is Paulus se slotsom. Hy kom op die Damaskuspad werklik tot verhaal, ontdek sy ware storie binne-in dié van God. Hy kom tot die besef dat hy, in die naam van godsdiens, ’n moordenaar geword het. In die naam van liefde het hy haat geword. In die naam van swart-en-wit het hy al die wonderlike skakerings van grys misgekyk. Dat godsdiens die beste of die slegste ding in die wêreld kan wees. Dat dit wat ons heilig maak ons net so boos kan maak. Dit is seker hoekom Paulus vir die res van sy lewe bykans obsessief voorkom oor die wetenskap van die liefde. Dieselfde beskrying wat Evelyn Underhill toedig aan die woord “kontemplasie”.

Gun my hierdie klein etimologiese uitstappie: Die woord “kontemplasie” se Latynse wortelwoorde is dié van con (met) + templum, ’n stuk grond wat opsy gesit en afgesonder is vir waarneming deur die augur (voëlwiggelaar). Voëlwiggelary was die praktyk van antieke Roomse godsdiens om voorbodes of tekens of beloftes te interpreteer deur voëls en hulle bevliegings dop te hou. ’n Kuns wat mense grootliks verleer het. Dink byvoorbeeld aan die natuur en die diereryk se gedrag voor groot natuurrampe. Hulle wéét. Sonder baasbreine.

Kontemplasie is die wyse waarop ons leer hoe om God en sy skepping se prikkels te leer ken en die plek waar ons leer om op te hou skop daarteen. Waar ons leer wéét van God se logika: Liefde. Waar ons mag ken en geken word, anderkant kennis.

Maar kontemplasie is selfs meer as dit: die wete dat jy ’n tempel is waarin God woon en so, vanuit “klein ou jy” sy skepping fyn waarneem. Wat ’n wilde, wonderlike gedagte!

 

Wil jy weekliks ons nuusbrief ontvang? Teken hier in

 

bottom of page