My Bloudruk: "So-help-my-God" na "So help my, God"



Chris Heuertz vertel graag die storie van sy geestelike begeleier - ’n “scrappy old Irish-American Jesuit priest” soos hy hom noem, wat op ’n dag ’n primêre skool in sy omgewing besoek het. Na hy die groep kinders toegespreek het, het ’n klein dogtertjie na hom toe gekom en sommer net begin gesels. ’n Paar oomblikke die gesprek in, het ’n geluid van suiwer verstomming uit haar mond gekom. Skielik kondig sy luid aan, “Jy’s blind!” Wat waar is. Hy’t reeds sy sig verloor op ’n baie jong ouderdom. Met opregte sagtheid en ’n oogknip, antwoord hy toe, “Dis nie nuus vir my nie.” Maar voor hy enigiets verder kon sê, beweeg sy van skok na hartseer, en antwoord, “Jy weet nie hoe jy lyk nie.” Hierdie diepsinnige woorde van ’n jong kind het hom effe onverwags getref en terwyl hy nog dink aan iets om te sê, sê sy sag, “Jy’s so mooi.”

Hierdie diep menslike opregte prentjie vervat eintlik die hele penarie van menswees. Jy is geskape na die beeld van God, Sy waarheid is in jou, Sy verhouding met jou is deel van elke vesel, jou unieke bloudruk is deur die Vervaardiger self geïnstalleer, Sy waarheid verweef in die werklikheid van jou lewe. “Jy’s so mooi.” En tog ervaar die meeste van ons ’n simboliese weergawe van blindheid wat ons verhoed om onsself te kan sien vir wie ons werklik is.

Ons begin Sondag met ’n nuwe reeks waarin ons gaan kyk na hierdie Godgegewe self en hoe die selfgemaakte, tuisgebakte self(ie) waarmee ons maar meestal die wêreld aanvat homself blindstaar teen leuens.

Wat is waarheid? Die oeroue vraag. Die vraag wat mense die heeltyd probeer doodgooi met antwoorde. Die antwoorde wat kerke laat skeur, ma’s oor hulle seuns laat treur, die wêreld dompel in terreur.

Ons digitale era het waarheid begin gelyk stel aan geloofbaarheid (nee,wel eintlik doen die gereg en die howe dit al vir eeue). Sosiale media skep sg. echo chambers waarin my subjektiewe waarheid toegejuig en geëggo word deur my friends of followers op my muur: #truethat. Die muur wat al hoër en hoër word tussen my en mense wat ander kante van die waarheid sien. Want sien, waarheid is altyd ’n weg, nooit ’n muur nie. Mure vertel leuens. Dis hoekom Banksy al jare die leuens probeer toesmeer met ’n bietjie waarheid.

En die groot dilemma is nie eens die leuens wat ek vertel nie. Dis dié wat ek lééf. Lééf omdat ek nie glo my bloudruk is in God nie. Lééf omdat ek nie glo jou bloudruk is in God nie. Lééf omdat ek nie glo die enigste (volle?) waarheid staan altyd in verhouding nie.

Hierdie waarheid is die verskil tussen ’n eenmalige hand-op-die-Bybel verklaring: “So help my God” (geuiter sonder enige asem) en ’n daaglikse hande-in-die-lug versugting: “So help my, God!” (met diep asems).

So help my, want ek weet nie.

So help my, want ek is blind.

So help my, want ek sien nie die Groot Prentjie nie.

So help my, want ek gee oor.

So help my, want ek is sonder grimering, sonder my wapenrusting.

So help my, want ek is kaal.

So …

“Sjjjjjjjjt. Jy’s so mooi.”

Wil jy weekliks ons nuusbrief ontvang? Teken hier in


  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA