Simbole Vir Die Lewe: Kruis



Simbole was van alle tye af belangrik vir die mens. En dit wil blyk of ons vandag, in die tegnopolie waarin ons leef, ’n nóg sterker behoefte het daaraan. Die toenemende gewildheid van tatoeëermerke is maar een voorbeeld hiervan. Simbolies beteken om saam te voeg, terwyl diabolies beteken om te verdeel, of uit te hok, of uitmekaar te dryf: liggaam van siel, hart van hoof, manlik van vroulik. Waarookal ons verdeling - of apartheid - bring, kry die bose ’n gaping in ons wêreld. Simbolisme, aan die ander kant, herbind wat uitmekaar gedryf is. Dit verduidelik moontlik waarom gesonde godsdiens (re-ligio: om weer te verbind) deur die eeue aan ons simbole gee, beelde van versoening wat genesing bring en weer saambind wat geskei is. God is altyd die groot versoener en geneser van teenoorgesteldes - selfs boosheid en goedheid. Simbole gee of wys nie net betekenis (sin of identiteit) nie; dit skep dit ook in ons.

Die kruis het oor tyd die simbool van die Christelike geloof geword. Nie as ’n mistiese voorwerp van toewyding nie, maar as die teologiese kern. Dit is die mees openbarende standpunt oor God! Alles wat gesê kan word oor God, is gesê in die kruis. Ons Christene gaan egter dikwels erg selektief om met die betekenis van die kruis. Om een of ander rede soek ons die “persoon” van Jesus as ons Godstotem, maar ons wil nie regtig Sy boodskap hoor nie. Ons is geneë daarmee dat Jesus die doodgaanding aan die kruis moes deurmaak, vir profesieë om waar te word, maar ons hou nie daarvan dat en as ons as sy volgelinge dit ook moet deurmaak nie. Ons sal eerder kies om Hom te aanbid, as om Hom te volg. Die triomf sonder die vernedering. Ons wil nie die kruis sien as die patroon van die lewe en ’n pad vir ons bevryding nie. Ons verkies hemelse transaksies bo ons eie transformasie.

Dit mag dalk klink na harde woorde, maar daarbinne is ’n waarheid opgesluit wat kan vrymaak: Jesus het doodgegaan, Christus het opgestaan. Die klein identiteit moet sy egogrense oorgee om in ’n Groter Identiteit wat veel meer insluit, te kan val. Dis nie asof God die kruis nodig gehad het om Hom te oortuig om uiteindelik die mens lief te hê nie. God se liefde was oneindig van die eerste oomblik van die skepping af. Die kruis was die dramatiese uitbeelding van daarde Liefde, in ruimte en tyd. Liefde as die krag om dood te omhels en in die heelheid van lewe in te trek; daarom, is die kruis die axis mundi Die simbool van die kruis was en is om die mens te verander, nie ’n nodige transaksie om God te laat verander, of van plan te laat verander nie.

Die kruis openbaar aan ons die hart van God omdat dit die kwesbaarheid van God se liefde wys. Die saamvoeging van Jesus as Leidsman én Lydsman. Die Voleinder van ons geloof (Heb. 12:2). Die simbool van lyding as deel van ons navolging van Christus. En tog:

“That the Christic symbol might be decoded

as an invitation to become shared flesh,

still causes an uproar.”

Irigaray

Wil jy weekliks ons blogs ontvang? Teken hier aan


  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA