top of page

Op, Af, Heen En Weer. 'N Lewe In Vier Bewegings: Siel



Ons gesels op die oomblik oor vier bewegings waarvandaan en waarheen ons glo God ons uitnooi. Ons lewe is een groot beweging. Ons is dinamiese wesens, ons verhoudings is dinamies en die natuur is dinamies. Niks wat lewe is ooit volkome staties nie. Ons Kapenaars het dit die afgelope dae gevoel aan die weer en die skielike draai van seisoene. Ons dink aan die mense langs die Tuinroete wat moes toekyk hoe ’n onblusbare vuur sommige van hulle lewens, wat gisteroggend dalk nog stil en staties voorgekom het, binne oomblikke in nuwe rigtings stuur. God self, al word Hy beskryf as onwrikbaar, is voortdurend aan’t beweeg, aan’t kom. Alles is heeltyd besig om “te word”. Ons is altyd onderweg – op pad. My via of pad beweeg gedurig nader aan of verder van mense, die skepping en God.

Daar is soveel teologiese, wetenskaplike en sielkundige teorieë vir die verskillende dele waaruit die mens bestaan dat dit mens skoon deurmekaar maak, maar ons weet dat ’n mens hoogstens kan onderskei tussen bv. liggaam, siel, verstand en hart. Die onderskeie dele van menswees kan nooit werklik geskei word nie. Ons kan net poog, of eerder ruimte laat, om hierdie onderskeie dele van ons te integreer en as geheel deur God te laat liefhê. Om een(s)gesind te leer leef, soos Jesus geleer het: “Ek in julle en julle in My sodat alles EEN kan wees.”

Ons gesels hierdie week oor die siel. Daar is natuurlik vele definisies vir hierdie immer ontwykende konsep wat nader aan my is as my “self”. Ek word baie dikwels eerder bewus van my siel as ek ’n sieldodende bestaan probeer voer. As die LEEF uit my oorleef gehaal word … “Where is the Life we have lost in the living?” (TS Eliot)

Ek het onlangs gelees hoe iemand die siel beskryf as die vingerafdruk van God wat ’n lewendige liggaam word. Ek hou daarvan, hoe vereenvoudig ookal. Ek en jy wéét wanneer ons sielvol omgaan met onsself, mense en God. Wanneer ons lewendig en “een met” en verbind en gelykertyd vol vuur en vrede voel. Ons weet ook wanneer ons dood, verhard, versmoord, vasgevang voel. Wanneer dit voel of die siel uit ons uit gedruk word. Al kan ons nie die presiese ligging van die siel bepaal nie, weet ons … Die siel gee lewenskrag, letterlik ASEM, aan die mens as geheel. Om om te gee vir jou siel, is om ja te sê vir ’n lewe van LIEFDE. Om jou siel te verwaarloos, is om ’n lewe van VREES te kies.

Dis miskien ’n goeie herinnering om elke nou en dan hierdie gedig van Walt Whitman se basis te gebruik en jou eie sielsverrykende dinge in te vul:

“This is what you shall do: Love the earth and sun and the animals, despise riches, give alms to everyone that asks, stand up for the stupid and crazy, devote your income and labor to others, hate tyrants, argue not concerning God, have patience and indulgence toward the people, take off your hat to nothing known or unknown, or to any man or number of men — go freely with powerful uneducated persons, and with the young, and with the mothers of families — re-examine all you have been told in school or church or in any book, and dismiss whatever insults your own soul; and your very flesh shall be a great poem, and have the richest fluency, not only in its words, but in the silent lines of its lips and face, and between the lashes of your eyes, and in every motion and joint of your body.”

Walt Whitman, preface to Leaves of Grass

Ons gaan Sondag gesels oor hoe ons prakties, in die 24 uur van elke dag, kan kies om God se vingerafdruk in ons lewens op te pas en onvervals te laat.

Ons bid ook vandag vir vele mense wat alles wat aards is in hulle lewens verloor het. Om werklik te kan sê: Dit is wel … met my siel.


bottom of page