Kruiswoorde: Ek Het Dors



Gedurende Lent word ons uitgenooi om met Jesus se lyding te identifiseer. Ons gesels op die oomblik oor Jesus se laaste woorde voor sy dood, beter bekend as ‘die laaste kruiswoorde’. Hierdie woorde gee heelwat te kenne oor Jesus se manier van doodgaan - nie die manier waarop Hy doodgemaak is nie, maar hoe gekies het om te sterf. Dit sê egter net soveel oor Sy manier van lewe en die lewe en die sterwe waarna ons uitgenooi word.

Ons word dors gebore en gaan dors dood. Fisies, emosioneel en geestelik. God weet dit. Meer nog, Hy kén dit. Hy beleef dit. Hy ervaar dit. Jesus roep, na sestien uur aan die kruis, uit: “Ek het dors.” God. Dors? Maar mense word dors. Ons met liggame wat bestaan uit bykans twee derdes water, ons met tonge wat opswel, kele wat droog raak, lippe wat bars. God. Wat mens word. En siek raak, warm kry, sweet, kies om nie uit te styg bo sy fisiese omstandighede soos die God wat ons dalk eerder sou verkies nie. Die Een wat, terwyl Hy gelewe het, mense se dors geles het. Die Lewende Water genoem is. Dié Een gaan dors dood. Hy is kwesbaar, roep om hulp, maak sy behoeftes bekend, sterf met ’n onversadigde behoefte, en sê steeds dit is volbring.

Ek is doodbang vir dorswees. Ek ry terug huis toe as ek my bottel water vergeet het, ek gaan slaap met ’n glas water langs die bed, ek raak skoon paniekerig as daar nie water naby is nie. Vroeg vanmiddag, met al hierdie gedink en gewonder oor Jesus se dors en my eie dors het ek summier besluit om winkel toe te ry en te gaan water koop. Baie daarvan. Kanne en kanne vol. Vir die Droë Gevaar in die Kaap. En soos ek en my seuntjie ons trollie vol water stoot by die winkel uit, begin val sulke lekker vet druppels reën. Die ironie was nie vermors op my nie en ek het hardop gelag en sommer ’n klein reëndansie ook saam met my kind gedoen. Ek het besef dat dit presies is wat ek met my dieper, meer verborge dors ook doen. Ek is so bang vir dors op enige vlak, ook emosioneel en geestelik, dat ek allerhande klein fonteintjies rondom my sal oopboor voor ek my werklike diep dors in die gesig staar. Die dors wat net deur die Bron van Lewende Water geles kan word. Soos Willem Nicol skryf: “Daar is ander kragte in jou wat die dors wil onderdruk. Want as die dors jou beweeg word jy omvorm.”

Waarvoor is jy dors? Weet jy regtig? Of is daar ook soveel bottels weggooiwater oral om jou, soveel klein vals fonteintjies dat jy nie eens meer regtig weet nie. Mag God, wat dors ken, jou in kontak bring met jou ware dors. Soos wat Hy gemaak het met die vrou by die put in Joh. 4, waar Hy ook dors was en vir water gevra het. Kan my eie dors dalk die eggo van God se dors in my binneste wees? Is dit moontlik? Willem Nicol sê ja: “Omdat die Vader na my dors, dors ek na Hom.” En die wonderlike gedig wat Carel Anthonissen hierdie week gedeel het, druk dit so raak uit:

Samaritaanse vrou

In daardie stiller uur wanneer die hert

haar oë lig, die asem van die veld met

regop ore toets en wag, het sy gekom –

swanger en verskans, maar dors

en Hý, die oog in ons woestyn, het met

geduld sy hande vars in haar gesteek,

deur vyf ruïnes heen getas tot by die,

toegeslikte sluis van haar verborge beek,

dit kors vir kors gebreek tot witter water

daaruit spring.

deur ʼn duif gelok haar sonder vrees laat

teug uit dié beleë bron, gepars uit eie

bloed en sweet – haar ook daarin gedrenk

totdat haar hele lyf gefakkel was

'n ganse dorp in ligte laaie, sy eie dors geles


  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA