top of page

Lukas de Beer

Musiek & Kreatiwiteit

Lukas is gebore in Springs. Dit hou hom geweldig nederig lewenslank. Hy word groot op die Hoëveldse platteland en trotseer die koue rugbyvelde van Standerton – kaalvoet - tydens die ysige winters. In 1987 verhuis hy na Verwoerdburgstad en raak daar deel van die AGS Wierdapark waar ‘n jong pastoor Theo Geyser die jeug behartig. Theo stig Dunamis (‘n radikale jeugaksie vir tieners) en kort ‘n bass-speler vir die youthband. Die res is geskiedenis.

 

Lukas matrikuleer in 1994 aan Die Hoërskool Eldoraign in Centurion. Na skool verwerf hy ‘n BA Honneurs in Teologie by RAU. In die tyd raak hy betrokke by Doxa Deo in Brooklyn en raak deeltyds in bediening betrokke. Dit ontaard in heeltyds-deeltyds. In Doxa Deo ontmoet hy die liefde van sy lewe Burnedette. Hulle trou in 1998.

 

Na vyf jaar by Deloitte in Pretoria as stemkunstenaar, verhuis hulle Kaap toe einde 2009. Hier raak hy betrokke by Pneumatix as hoof van musiek en uitvoerende kuns. In 2012, word Lukas anker-omroeper by Radio Kaapse Kansel se ontbytprogram. In 2014 stel hy sy debuutalbum Storm op Jupiter bekend. Hy word genomineer vir ‘n Ghoema-toekenning as Beste Nuweling.

 

In dieselfde tyd voltooi Lukas ‘n MPhil in Bestuursafrigting (Management Coaching) aan die Universiteit van Stellenbosch se Besigheidsskool (USB). Later verwerk hy sy tesis en publiseer dit as ‘n boek in 2016, Artrepreneur: A Field Guide For Creative Professionals.

Lukas se onbetwisbare grootste prestasie ooit, was om saam met Helmut Meijer, sy mede-direkteur van hul platemaatskappy Stonebear & Mayor, in 2021 Prophet se nuwe album DIE KOLONIE te kon opneem. Stonebear & Mayor is intussen nie meer in bestaan nie. Hierdie was hul enigste non-profit projek. Daar was werklik geen profit gewees nie.

Lukas is sedert 2010 betrokke by Invia. Hy en Burnedette (‘n GP) met hul drie kinders, woon in Somerset-Wes.

bottom of page