ONS DROOM | KREATIWITEIT
Kreatiwiteit is ‘n veelbesproke, selde volledig gedefinieerde begrip.
Sou mens begin by wat dit nie is nie, sal die lys seker net so lank wees. Ek wil egter, in hierdie konteks, volstaan daarby om te sê kreatiwiteit het dikwels te make met die een of ander skepping of kunsvorm, maar dis geensins ‘n voorwaarde nie. Kreatiwiteit het egter sonder uitsondering te make met die gebruik van mens se verbeelding en oorspronklike idees.
Ons is almal elke dag op die een of ander manier besig om kreatief te wees — die meeste van ons is net nie bewus daarvan nie. As ons gemaak is na die beeld van God, waarna ons gereeld verwys as Skepper, is die vermoë om kreatief te wees, so eg aan mens wees, of lewendig wees, soos asem haal. Ek wil daarom onmiddellik die wanpersepsie dat net professionele kunstenaars of arty farties aan hierdie gesprek kan deelneem, uit die weg ruim. En die doel van hierdie skrywe is ook nie om vertonings, of kunswerke, of gedigte die lig te laat sien nie. Indien dit daaruit vloei, laat dit so wees, maar die klem is veel eerder op hoe ons lewe “doen” — oomblik vir oomblik. Leef ons skeppend, dink ons skeppend, voel ons skeppend, gaan ons skeppend om met mense, maak ons skeppend somme (lag jy dalk nou skeppend?!), maak ons skeppend kos, vra ons skeppend vrae, neem ons skeppende besluite ... kan ons ons weg oopsien waar daar op die oog af geen weg is nie en meer belangrik nog: kan ons vir ander mense ‘n uitgang help skep waar die teken heel duidelik sê “GEEN UITGANG”.
Kreatiwiteit behels die viering — die oorvloei as’t ware — van ons wording (“becoming” / Genesis) as mense. Die lieflike misterie wat opgesluit lê daarin dat ons heeltyd besig is om te “word”. In wese word ons. Uit eie ondervinding, beleef ek hoe kontemplasie, of beskouing — ‘n lang, liefdevolle blik op wat meeste van die tyd reg voor jou is: realiteit — my manier van kreatief wees omvorm. Ek verduidelik: in lees en studie het ek dikwels die gewaarwording of illusie dat ek God vind (ek twyfel of God as Isheid in die blaaie van boeke vasgevang kan word, maar die vlammetjie wat kennis in ons aansteek het immers al van Adam en Eva se dae af hierdie nare gewoonte!). In gebed — nie soseer die vra-en-sê-soort nie — die soort met die lang, soms rustelose stiltes waarin ek sukkel om my verskuilde agendas te ontbloot en oor te gee, ervaar ek soms — net soms, maar dikwels genoeg om te beleef dat God my vind. En dis ‘n veel ryker gewaarwording as wat ek gedink het dit sal wees om Hom te probeer vind. Dit lei tot groter transformasie as wat informasie ooit uit my kon kry.
Hierdie effek op my diepste self kring uit na wat geskep word in en om my, of dan, anders gestel, die kreatiwiteit waarin ek my begewe. Dis makliker om idees te gaan soek, jou te beywer om hulle ten alle koste te kry en jou te verbeel dat jy jou verbeelding gebruik. Dis ‘n kreatiwiteit wat jou dikwels voetstoots “verlaat”, jou droog laat, jou ‘n skoot van die witbladsy-sindroom toedien en dit laat toeskryf aan ‘n “blokkasie”. Die soort wat sy vloei neem uit ‘n plek van rus, stilte, gebed — kontemplasie — berus op die beginsel van “gevind word” en om uit daardie gevonde plek te kan skep.
Idees, werk, lewe word dan oorspronklik nie omdat ek so uniek en enig in my soort is nie, maar omdat ek so na aan die Oorsprong leef — al my spronge vanuit die Oorsprong kan neem. Dis quantum leaps — gegrond in die geloof dat watookal in die kleinste greintjie gebeur, gaan uitgolf na die geheel.