top of page

IN SY ELEMENT: WIND



Terwyl ek hierdie week preek voorberei dink ek onwilligekeurig terug aan my universiteitsjare. Dit was die jare van opstand en ook ‘n ernstige soeke na alternatiewe in my geestelike reis. As NG-seun het ek baie verskillende kerke bygewoon - selfs die stigting van die Rhema-kerk in Tony Factor-gebou. Ek het my probeer blootstel aan al die stemme wat ‘n mens kan help om God se pad te loop. Wanneer die Heilige Gees ter sprake was het ek soms baie deurmekaar geraak en ook skuldig gevoel dat ek met tye myself verset het teen dit wat predikers die werking van die Heilige Gees genoem het. Vandag is ek bly ek het my gut gevolg.


Een lewensboei - ‘n persoon wat my en my broer baie gehelp het - was Malcolm Smith, ‘n predikant in England. Destyds moes ons sy kasette (nog geen CD’s!) van Engeland af bestel en weke daarvoor gewag. Dan het ons in die aande gesit en luister na een van die varsste teologiese stemme van daardie tyd. Hierdie sin het ek in 1983 die eerste keer gehoor en dit voel soos gister: “With just the Word you will dry up, with just the Spirit you will blow up, with the word and Spirit you will grow up”.


Ons omgang met die Gees en hoe ons binne verhouding tree met die Heilige Gees werk soos ‘n tweesnydende swaard. Dit kan lewe of dood bring. Net soos wat water jou dors kan les, kan jy ook daarin verdrink. Dieselfde wind wat jou kan ontsenu en dalk van pret beroof, is ook die wind wat die droogte kan breek en die reën bring. As die Bybel sê : “Moenie die Heilge Gees bedroef nie” beteken dit dat ons ook Hom kan blymaak (Ef 4:30). Of as die Bybel leer dat “waar die Gees is, daar is vryheid” beteken dit ook waar die Gees nie is, is daar gebondenheid (2 Kor 3:17).


Ons gesels Sondag oor Jesus se verstaan van die Heilige Gees in Johannes 3 wat ons kan help om die kragtige metafoor van wind te verstaan. Met wind kan jy slegs die effek sien, “maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.” (Joh 3:8)


Waarom is God ook weggesteek? Waarom wys God homself nie net duidelik sigbaar nie, sodat ons almal net kan weet en glo? Die probleem is, as God só werk is daar geen rede vir geloof nie.  Dink vir ‘n oomblik aan die son of lig. As jy in die son kyk word jy verblind. Ons het soms die donkerte net so nodig as die lig. Ronald Rollheiser sê dit so:


"Our relationship to God works in the same way. Initially, when our intimacy is not so deep, we feel that we understand things and we have firm feelings and ideas about God. But the deeper we journey, the more those feelings and ideas will begin to feel false and empty because our growing intimacy is opening us to the fuller mystery of God. Paradoxically this feels like God is disappearing and becoming non-existent. Faith, by definition, implies a paradoxical darkness, the closer we get to God in this life, the more God seems to disappear because overpowering light can seem like darkness."


God is ook teenwoordig in ons nie-verstaan. Al voel dit vir baie mense of God in Covid-19 verdwyn het, is hy baie nader aan ons as wat ons dink en dalk skyn Hy so helder dat die duisternis nou sy lig wys!


Geloofsgewoonte


Spandeer tyd buitekant. Gaan sit ek kyk na die wind. Vra die Here om jou te wys hoe dit wat jy sien, ook binne jou deur die Gees gebeur.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page