Om die diepte en wydte en breedte van God se liefde vir ons elkeen te ken, is die fondasie van alle opregte selfkennis. Die self wat God nimmereindigend liefhet is nie my blinkgevryfde voorgee-self nie, maar die werklike ek. Maar, meester van misleiding wat ek is, sukkel ek om deur die web van selfmisleiding te dring en hierdie werklike ek te ken. Ek hou aan om dit te verwar met die ideale self wie ek wens ek was. Die wortel van ons voorgee-self lê in die ontdekking van ons kinderjare dat ons liefde kan verseker deur onsself aan te bied in die mees vleiende lig. Ek ontdek die kuns om myself te verpak. Ek leer dat ek, selfs wanneer ek bang is, kan maak of ek braaf is. Ek leer dat ek, al borrel ek van woede, kalmte kan uitstraal. Ek leer dat ek die onverskilligheid van my hart kan wegsteek deur simpatieke woorde by my mond te laat uitkom.
Wat begin as ‘n rol, word ‘n identiteit. Die maskers wat ek aan die begin dra reflekteer hoe ek wil hê ander moet my sien. Mettertyd, word dit egter ‘n refleksie van hoe ek myself wil sien. My maskers word my realiteit en ek word my leuens. Ek leer om ‘n namaaksel van myself te wees deur op te daag soos ek dink die belangrikste mense in my lewe wil hê ek moet opdaag en ignoreer die dele van myself wat ek dink hulle sal teleurstel, selfs laat gril, hulle liefde vir my laat kwyn. Dit klink alles baie onskuldig en dit ís omdat ek eerlik-waar hierdie ontdekking maak, dit spruit nie uit een of ander bose bedoeling nie. My doel is liefde en om myself te beskerm van die afwesigheid van liefde. Hierdie onskuld word egter afgeskud sodra ek uit voeling raak met my werklike ervaring, want dan word ek gedryf deur vrees en verloor ek kontak met die realiteit.
Thomas Merton waarsku, “There is no greater disaster in the spiritual life than to be immersed in unreality, for life is maintained and nourished in us by our vital relation to reality.” Die opregte geestelike lewe is nie ‘n ontsnapping van die werklikheid nie, maar ‘n totale oorgawe daaraan.
Om die reis te onderneem om hierdie persoonlike emosionele program (soos Thomas Keating dit beskryf het) in ons raak te sien, om hierdie vals self – waaraan ons lank gebou het, wat ons met groot sorg in stand hou, gereeld met ‘n nuwe laag verf oordoen – te ontmasker, is nie vir dié met ‘n spreekwoordelike swak hart nie. Om te sien dat ek ‘n huis van rook en spieëls gebou het en baie tyd en geld en energie daaraan spandeer het, maak dikwels seer voor dit vrymaak. Dis nie lekker om iets in die gesig te staar wat nie eintlik bestaan en wat jou lewe ingesluk het nie. Dis moeilik, want dit was dan die hele plan: om te cope met die lewe en om geluk te verkry. Dit was my beste raaiskoot om goed te voel oor myself. Dit was my strategie om my basiese behoeftes aan liefde, oorlewing, mag en beheer te ontmoet. Dit was my styl, dit was my “way”. En dit draai meestal om goed wat ek regtig goed kan doen, my repertoire van bevoegdhede en kwaliteite wat my spesiaal maak. Moet ek dit dan nou opgee? Dit het my “lewe” gered!
Die probleem is nie dat ek gawes en talente en vaardighede ontvang het nie; die probleem is my buitensporige belegging in hierdie beeld en manier van wees. Ek leef ‘n leuen as ek dit die somtotaal van my wese maak. ‘n Identiteit wat op ‘n illusie gebou is.
Kom ons gebruik Paulus as ‘n voorbeeld, aangesien hy homself so dikwels ingespan het vir hierdie juiste rede: Paulus het, na sy ontmoeting met Christus op die Damaskuspad, dieselfde verbete vasberadenheid getoon as wat ons gesien het in sy lewe as Saul. (Hy was steeds na alle waarskynlikheid ‘n 1 op die Enneagram, as jy dit so wil sien!) Wat verander het, was dat sy wonderbaarlike talente en buitengewone passie nou ‘n ander rigting ingeslaan het – van die koninkryk van self na die koninkryf van God. Hy was nie meer gedryf deur vrees en haat nie, maar gedring deur Liefde. In hierdie herkalibrering het hy vry geword van die tirannie van sy private ambisie en sy ware self ontdek. Hy het nie sy gawes en vaardighede opgegee nie; hy het dit oorgegee.
Die enigste hoop om die valsheid te ontmasker is ‘n radikale ontmoeting met die waarheid. Niks behalwe die waarheid is sterk genoeg om illusie te verdryf nie.
Ont-dek
Thomas Merton noem een van die hoofstukke in sy klassieke grensverskuiwende werk “New Seeds of Contemplation”: Praying for your own discovery. Om te bid vir jou eie ontdekking. Die ware self is wie jy regtig is en wie jy besig is om te word (al klink dit soos ‘n paradoks). Dis nie iets wat jy hoef te bou deur ‘n proses van selfverbetering nie. Dis ook nie iets wat jy hoef af te breek deur middel van sielkundige analise nie. Dis nie ‘n objek wat jy kan vasgryp nie. Dis ook nie ‘n argetipe wat jy kan aktualiseer nie. Dis nie eens ‘n klein, innerlike, weggesteekte deel van jou nie. Dis jou hele self soos jy geskep is deur God en soos jy bevry word in Christus. Dit is die beeld van God wie jy is – die unieke gesig van God wat van alle ewigheid af vir jou gegee is. Ons vind nie ons ware self deur daarvoor te soek nie; ons ontdek dit deur na God te soek. Dit is wanneer ek my “self” verloor in God dat ek my ware identiteit ontdek.
Die ontmaskering kom dikwels voor die ontdekking en dis ‘n lewenslange avontuur omdat ek my lewe lank al energie spandeer aan die masker en die vyeblaar wat moet dien as bedekking. Die vinnigste manier om die vals self te herken, is aan sy kleinlikheid. Die vals self is puntenerig, neem maklik aanstoot, fel oordeel as ‘n stokperdjie, het ‘n “dun vel” (eintlik geen vel nie) en word maklik in die gesig gevat (al is die “gesig” eintlik net ‘n masker). Hy is so bang om gesig te verloor dat dit al is wat hy probeer beskerm. Die vals self sukkel om asem te kry. Die vals self word gedryf en instand gehou deur vrees. Die ware self word geken aan sy ruimheid. Vrede, vertroue, verbondenheid, medelye. Die ware self haal diep asem. Dit word gedring deur liefde.
Die ware self is geskape na God se beeld. Die vals self is geskep na die mens se beeld.
Nog kenmerke:
Die Vals Self … | Die Ware Self … |
verkry sekuriteit en betekenis deur wat ek het, wat ek kan doen en wat ander van my dink | vind sekuriteit en betekenis deur en in God se liefde vir my |
se geluk word gesoek in apartheid van God en in verknogthede | se vervulling word gevind in oorgawe aan God en om my roeping te leef |
se identiteit is my geïdealiseerde self (wie ek wil hê ander moet dink ek is) | se identiteit is wie ek is – en word – in Christus |
word bereik deur voorgee en oefening | word ontvang as ‘n geskenk met dankbaarheid en oorgawe |
word instand gehou deur moeite en beheer | word vasgehou deur genade |
omhels illusie as ‘n manier om te probeer god wees | omhels realiteit as die plek van ontmoeting en omvorming deur God |
Ont-leer
“Every one of us is shadowed by an illusory person: a false self. This is the man [or woman] that I want myself to be but who cannot exist, because God does not know anything about him [or her]. And to be unknown of God is altogether too much privacy.” Thomas Merton
Dis hoekom die vals self so fragiel is. Dis inherent onseker omdat dit in sy geheel byna net ‘n drogbeeld is, ‘n sosiale konstruksie. Dit bestaan nie, behalwe in die wêreld van oëverblindery – waar ons meestal leef – in plaas van in God se Ewige Nou. As jy doodgaan, sterf die vals self omdat dit eintlik nooit bestaan het nie, behalwe in jou gedagtes en projeksies. Dis wat jy wou hê jy moes wees en wat jy wou hê ander moes dink jy is. Dis gewoonlik verbind aan statussimbole en reputasie.
“We are not very good at recognizing illusions, least of all the ones we cherish about ourselves... For most of the people in the world, there is no greater subjective reality than this false self of theirs, which does not even exist. A life devoted to the cult of this shadow is what is called a life of sin.”
Wat ons sonde noem is eintlik simptome van die illusie dat ons geskei is van God. En tog val meeste mense die simptoom, eerder as die oorsaak aan.
“All sin starts from the assumption that my false self, the self that exists only in my own egocentric desires, is the fundamental reality of life to which everything else in the universe is ordered. Thus I use up my life in the desire for pleasures and the thirst for experiences, for power, honor, knowledge and love, to clothe this false self and construct its nothingness into something objectively real.”
Ons het iets veel beter ontvang:
“Alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Kor. 3:22-23).
Jou ware self is reeds tuis en vry. Om dit te weet is om “gered” te wees.
Ont-moet
Alhoewel bekering dikwels as ‘n once-off datum aangebied word, is hierdie reis van erkenning en ontmaskering ‘n volgehoue avontuur. Dis een wat toewyding en dissipline verg, want om te “laat gaan” vat spiere! Dis egter maklik om in die volgende slaggat te val, soos wat hierdie gedissiplineerde Christen beskryf:
“Growing up in Chinese culture, I have no difficulty in keeping disciplinary practices. My problem is excessive attachment to these disciplines. Prayer easily becomes for me a kind of spiritual performance, and I seek contemplation as a technique to become spiritually proficient. Merton reminds me of these pitfalls. He suggests that spiritual discipline is basically learning not to do things we instinctively feel driven to do. It is learning to let go of whatever is false or unreal and be prepared to settle for nothing other than God.”
Kontemplasie, as ‘n manier van lewe eerder as bloot ‘n vorm van gebed, is die begeerte om die hierdie “werk” – om die waarheid van ons identiteit in Christus te ontdek – met God te deel. Om God as’t ware in beHeer daarvan te plaas. Liefde is my ware identiteit. Liefde is my naam. Kontemplasie begin met die vraag: Wie is ek en berus op die ontdekking van my ware self. Die vraag en die antwoord kom van God.
“It is as if in creating us God asked a question, and in awakening us in contemplation God answered the question, so that the contemplative is at the same time, question and answer. The life of contemplation implies two levels of awareness: first, awareness of the question, and second, awareness of the answer.” Thomas Merton
留言