top of page

Lewe Na Die Dood: Deel Saam



Ons sluit Sondag ons reeks oor die opstandingsverhale af deur te kyk na die vierde beweging nl. DEEL, SIT, LUISTER en LOOP vind eers vervolmaking in hierdie rigting waarna ons uitgenooi word.

“For no matter how significant you are, it is only because what you are a part of.”

1 Cor. 12 MSG

Vir my lyk dit of meeste van ons, ekself inkluis, dalk die sin reg lees, maar andersom leef.

Ons leef dit meestal so: “For no matter how significant you are, it is only because what you are apart of.”

Ons dink dikwels ons identiteit word bepaal deur dit waarteenoor ons onsself posisioneer, dit wat ons NIE is nie, dit waarvan ons onsself distansieer.

En so ly (nie ’n spelfout nie) ons verdeelde lewens, in plaas van om gedeelde lewens te lei.

Ons sukkel nou maar een maal om hierdie “groot gedagte” klein te kry: Ek is omdat jy is. Umuntu ngumuntu ngabantu, soos ons sing by InVia. Om dit te sing, is een ding. Om dit te bring, ’n ander.

Dis maklik om te dink dat geloofsgewoontes, of die ritmes waarop ek besluit om my lewe te dans - my stiltetye - ’n selfgerigte bestaan tot doel het, of dan hoogstens ek-en-my-God. En dan is dit niks anders nie as wat iemand beskryf het as “middle-class navelgazing”. Die ou kerkliedjie kom by my op: Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder glans, skitter soos die sterre aan die hemeltrans / In die donker wêreld, skyn dan skyn / Jy in jou klein hoekie en ek in myn’ /

Die liedjie gaan gelukkig aan met woorde soos “regdeur die land” en “vat nou my hand”, maar ek het dit nog altyd moeilik gevind om verby die hoekiebeeld te kom. Die hoekie klink soos die plek waar ek Jesus as my “persoonlike Saligmaker” aangeneem het. Eerstens is Jesus nie ’n wesie wat deur my aangeneem hoef te word nie. En tweedens kan saligmaking in die ware sin van die woord nooit persoonlik wees nie! As “hemelse verlossing” nie gedeel kan word nie, klink dit vir my soos hel. As die Goeie Nuus nie gedeel kan word nie, klink dit maar vir my sleg.

“What a man takes in contemplation, he must pour out in love.”

Meister Eckhardt

As jou afsondering (solitude) nie lei tot teenwoordigheid nie, beteken dit nie veel nie. As jou stilte (silence) nie lei tot ’n groter kapasiteit om te luister nie, beteken dit ook nie veel nie. As jou stilheid (stillness) nie lei tot ’n inniger impak, of eerder ’n dieper deelname, ’n groter samehorigheid in jou gemeenskap nie, beteken ook dit nie eintlik iets nie.

’n Lewe wat aangeraak word deur die opstandingskrag van God, ’n hart wat werklik brandend is, kan nie anders as om te wil oopbreek en homself uitgiet nie.

As jy God werklik beskou as “I AM THAT I AM”, sal jy na iemand anders kan kyk en sê: “I AM THAT, I AM.

“All real living is meeting.”

Martin Buber

Jou naam is Saam.

bottom of page