top of page

VIER BEWEGINGS

Volgens Jesus is die ewige lewe om God te ken (Joh 17:3). “Ken” word ook soms as “beKEN” gebruik, wat dui op persoonlike, intieme kennis wat ervaar word  (Gen 4:1). 

beKEN

Ons ken God deur weer gebore te word. Dit is soos die geboorte van die oggendson wat breek in die Ooste en die lente ons die gawe van ‘n nuwe begin gee. Hier dink ons aan ‘n arend. Die arend is bestem vir die blou lug, sweef vry en vloei inspanningloos met die wind. Soos 'n jong kind wat in onskuld, eerlikheid en spontaneïteit die lewe omhels.

verKEN

Wedergeboorte is ‘n resultaat van ‘n pad wat saam met Christus verKEN word. Die woorde “Volg My” beteken om met durf en oorgawe na God te soek. Soos die Suide se warm somerson wat met speelsheid aan ons die moed en energie gee om te vra en te soek. Hier dink ons aan ‘n leeu. Soos ‘n tiener wat sy/haar eie stem soek, veg, vrae vra, twyfel en die lewe uitdaag, word ons genooi om nuwe grense oor te steek.

erKEN

Wanneer ons verKEN sal ons dinge binne ons ook erKEN. Ons sien die dinge waaraan ons vashou. Soos wat die son sak in die Weste en die herfs ons uitnooi om te laat gaan val ons ook in die grond soos die koringkorrel om te sterf. Hier dink ons aan ons eie stoflikheid en mensheid. Die laat gaan van die kinderjare en kindergeloof gee aan ons die gawe om ons eie stem te ontdek as volwassenes.

herKEN

Die erKENning van ons lewe soos wat dit is, gee aan my die gawe van ‘n roeping waar ek God telkemale herKEN en raaksien. Die Noordelike Halfrond met haar sonstilstand in die winter wys die karakter van hulle wat voorberei vir die winter. Hier dink ons aan ‘n bees wat sy hard werk en selfloos ploeg en sy/haar roeping vervul. Hulle is Wyse Gryses, gestroop van ego-behoeftes wat waarheid saam met ander herKEN.

bottom of page