top of page

Hoe vrees my hart toesluit



Neem jou hand en maak ‘n vuis. Druk jou vuis so hard as wat jy kan. En dan, maak jou hand weer stadig oop. Daar is goeters in hierdie lewe wat jou hart 'n vuis maak of dit oopmaak.‘n Vuis word kan nie die lewe ontvang waarvoor dit beskore is nie, en 'n oop hand of hart laat die fonteine van lewe deur ons vloei.

Ons gesels die volgende paar weke oor wat ons harte oop of toemaak. Ons skop af met vrees, een van die grootstes wat ons laat lewe met 'n vuis.

Vrees is ‘n emosie wat ons wil beskerm teen kwesbaarheid. Die woord kwesbaarheid of “vulnes” beteken wond. Ons verwonding aktiveer vrees. Cor de Jonghe noem vrees “die hartpols van die magteloses.” Hoekom? Ons kan omtrent met alles in hierdie lewe omgaan, maar nie sommer met vrees nie. Ons kan die emosie van hartseer uitstort in trane. Ons kan ons woede uitskreeu of klippe gooi. Vrees het geen uitlaatklep nie en hou jou ‘n gevangene.

Vrees maak ons harte toe en daarom staan daar 365 keer in die Bybel dat ons nie moet vrees nie. Indien jy bang is en iemand sê vir jou moenie bang wees nie want die Bybel sê jy hoef nie te vrees nie. Help dit enigsins? Nee, glad nie. Spaar maar jou bestrawwings en Bybelverse.

Jy moet leer om jou hart oop te maak.

Paulus gebruik hierdie woorde om die kondisie van ‘n gemeenskap se hart te beskryf: “...maar in jul binneste het julle dit te nou.” 1 Kor 6:12. Ons gaan kyk hoe vrees ons harte klein of “nou” maak sodat ons nie die vryheid kan ontvang waarvoor ons beskore is nie.

James Hillman het gesê “a symptom suffers most when it doesn't know where it belongs.” Weet jy waar jou vrees behoort? Beslis nie in 'n hart wat dit vashou nie. Kom luister hoe ons dit kan oorgee aan God - waar dit hoort.

“Casting all your cares [all your anxieties, all your worries, and all your concerns, once and for all] on Him, for He cares about you [with deepest affection, and watches over you very carefully].” 1 Pet 5:7 (Amp)

- Deur Theo Geyser

bottom of page