top of page

Grendelam Aan't Fynkam: chaos met onderskeiding


Ek luister nou die dag na Ronald Rolheiser wat ’n storie vertel van 3 monnike wat in ’n moeilike tyd gaan bid in ’n klooster. Die eerste monnik se gedagtes gaan dadelik na engele wat hom omhels en optrek na die hemel. Die tweede monnik se gedagtes vier die blydskap van die hemel omdat hy alreeds daar is, waar hy sing en juig saam met ’n skare engele. Die derde monnik het sy vas gebreek met ’n lekker hamburger en kon met ’n groot skuldgevoel nie ophou dink aan die lekker hamburger nie. Intussen moes ’n demoon verslag doen aan ’n senior demoon oor die monnike. Die verslag lui: 

“Ek het drie monnike versoek, maar slegs twee het liederlik gefaal.”


In hierdie verhaal lê daar groot wysheid. Dit kan ons dalk iets leer oor: God wat na ons toe kom in engele maar ook in hamburgers.

Engele help ons nie altyd om God te hoor nie en kan ook boos word! Dink maar aan Jesus se aanslag op godsdienstigheid. 

Dit waarmee ons eerlik voor God kan wroeg (soos die hamburger) is nie boos nie maar dra ook ’n groot gawe en geskenk vir ons.


Die verhaal van Nehemia kan ons help om God te hoor in moeilike tye. Nehemia word nie super geestelik en hou net aan bid en vas nie. Hy gebruik nie sy geestelikheid om rang te trek nie, inteendeel hy dra dit wat God sê as ’n geheim en vertel dit vir niemand nie. “Ek het vir niemand gesê wat God in my hart gegee het nie…” Neh 2:12. Hy glip weg en doen alleen inspeksies van die mure wat herbou moet word. Hy voer gesprekke met vriende en vyande. Hy lê ook wakker, sukkel soms om te bid en moet aanslae van opposisie deurstaan. 


’n Mens hoor baie keer die woorde “luister na jou hart” of “volg net jou hart”. En dan ook hierdie woorde “gebruik net jou gesonde verstand”. Beide die hart en die kop is belangrik, maar ons hoor nie altyd hierdie woorde “luister na jou liggaam!” nie. Dit is waar Nehemia se verstaan van God se wil vir sy lewe begin. Iets diepers as gevoel wat hom vir dae lank laat huil met ’n deurdrenkte empatie. Hy weet instinktief, intuïtief en onmiddelik wat om te doen sonder dat hy self daar is. Ons praat van “gut-mense”. Die Psalmdigter sou hierdie manier van weet jou ingewande of “bowels” genoem het. In Kol 3:12 (KJV) is daar ’n letterlike vertaling wat ons kan help om empatie ook te kan verstaan as ’n “gut-feel”.

Put on therefore, as the elect of God, holy and beloved, BOWELS of mercies, kindness, humbleness of mind, meekness, long suffering.” (KJV)

Beide sy liggaam, hart en gesonde verstand lei hom om te midde van die grootste chaos God te kan sien.

Geloofsgewoonte


In hierdie grendeltyd kan ons liggaam ons help om God te hoor. Is dit nie interessant hoe ons in hierdie tyd dikwels gesprekke eindig by sigarette, passiwiteit, wyn, of gewig wat ek optel en ander verbode vrugte nie? Net soos wat die monnik dalk skuldig gevoel het oor die hamburger kan die dinge waarteen ons stry in die lewe ’n nuwe wêreld vir ons oopbreek. Moenie probeer om God net te soek in jou hart of in die denke sonder ’n liggaam wat aan God eens gegee word as ’n “heilige welgevallige en lewende offer” (Rom 12:1). Nooi God na jou liggaam deur vas, oefen, geloofsgewoontes en liefdevolle versorging. Word vernuwe in die “GEES van jou gemoed” (Rom 12:2). Gebruik jou gesonde verstand wat gelei word deur ’n geïnspireerde hart om te “onderskei wat die goeie welgevallige en volmaakte wil van God is” Rom 12:2. 


- Geskryf deur Theo Geyser


bottom of page