top of page

Goeie Vrydag: Spoorloos



Waarom Goeie Vrydag?

Moet ons nie eerder praat van Goeie Sondag nie? Goeie Vrydag voel of lyk nie goed nie. Die somtotaal van menslike, politiese en sosiale kwaad, jaloesie, grootheidswaan, agterdog, demonisering en haat word op Jesus geprojekteer wat lei tot sy sterwe.

Lig word donker. Liefde word vrees. Lewe word nou dood terwyl hy hang aan die kruis.

Die wêreld se donkerste kant word ontbloot en die skynbare stilte van God maak die dag ondraaglik.

Dit voel of al die spore van sy lewe meteens uitgewis word.

Om te verstaan wat daar gebeur het moet ons kyk na twee goed. Eerstens wat op die oppervlak gebeur, maar tweedens ook wat in ‘n diep plek binne Jesus gebeur. Die oppervlak is sleg. Vergeet vir ‘n oomblik sy teenstaanders. Sy eie dissiples se moed begewe hulle en gee oor aan pessimisme. Daar is ‘n paar vrouens wat sterk probeer staan, maar is verlam en kan niks doen nie.

Dan is daar iets in Jesus wat gebeur. Die grootste morele en godsdienstige drama: Liefde wat met vrees stry, vertoue met wantroue en vergifnis met bitterheid. Die stryd in Jesus na aanvaarding soos in Getsemane en ook te kies wat hy moet doen. Dan kies Jesus teen die logiese of die verstaanbare. Karl Rahner se woorde is beskrywend wat Jesus nou doen: “sink into the incomprehensibility of God." Dit is hier waar Vrydag goed word. Hy gee nie oor aan bitterheid, seer, of verlatenheid nie, maar aan die God wat buite begrip in die stilte is. Dít is vertroue.

In hierdie daad verander Jesus die sleg in goed en wis die ewige spanning tussen goed en kwaad uit.

Ons kan nie die wêreld regmaak deur kwaad of bitterheid nie. Al is die motiewe opreg. Die wêreld verander wanneer ons eie kwaad, bitterheid, en verlatenheid verander word in spore van vergifnis, liefde, en vertroue.

Jy kry die spoor by die kruis.


- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page