Ek is geleer dat die Here ‘n roeping vir almal het. Jy kan dit nie sommer vir jouself kies nie, dis God-gegewe. Ons taak in hierdie lewe is dan om dit te ontdek, selfs al moet jy jou eie drome prysgee. Om hierdie belangrike taak te ignoreer, en ontrou aan jou roeping te wees, kan jou baie pyn in hierdie lewe kos. Daar is iets belangrik in hierdie gedagtegang, maar vra ook na ‘n kritiese refleksie.
Ronald Rolheiser reken dat daar veral twee goed is wat ons verkeerd verstaan wanneer ons oor roeping praat. Eerstens, het ons roeping beperk tot die geestelike domein. Die dominee en die sendeling word geroep. En, dat my waarheid ook bepalend is waar ek God vind. Tweedens, dat ‘n oordrewe klem geplaas word op keuses wat baie beperkend is. Ek onthou hoe my ouers vertel het dat hulle slegs iemand kon trou wat aan dieselfde kerk behoort het!
Sondag gesels ons oor hoe die Here elkeen van ons roep. Die woord roeping beteken “om te luister”. Ons reis op hierdie aarde is om te luister na ons lewe sodat ons kan weet waarvoor God ons geroep het. Dit is meer as die “holy huddle” wat ons daarvan gemaak het, en in ‘n wêreld waar alles oor vryheid en menseregte gaan, is dit nog meer belangrik dat ons alle erns daarmee moet maak. Dit is ook meer as loopbaanbeplanning wat vergeestelik word, dit is eerder ‘n ontmoeting en roekelose gehoorsaamheid aan God waar ons gawes, persoonlikheid, passies en bronne in diens staan van dit wat ons siel nodig het en wat God van ons vra.
Ons word nie net verlos van iets nie, maar ook vir iets en dit sal altyd iets te doen het met wat groter is as jy en die wêreld waarvoor God so lief is.
“A vocation is where your deep gladness meets the world’s hunger.” Frederick Buechner
- Deur Theo Geyser